ANC-alliansie ‘grootste bedreiging’ vir ekonomiese groei

(Foto: TLU SA/Facebook)

Die landbouorganisasie TLU SA sê beleidsonsekerheid, onteiening sonder vergoeding en ekonomiese onstabiliteit kan die minister van finansies, Tito Mboweni, se goeie voornemens met die ekonomie stuit.

Mboweni het verlede week die tesourie se beleidsdokument oor die ekonomie bekend gemaak.

TLU SA sê sekere dele van Mboweni se plan kan wél voordeel vir die land inhou en die minister se planne om produktiwiteit en uitvoere te verhoog, is verblydend.

“Hierdie planne moet egter steeds uitgevoer word binne die uiters onstabiele omgewing wat oor jare deur die ANC-alliansievennote gevestig is,” het die organisasie in ʼn verklaring gesê.

Volgens TLU SA moet etlike probleme egter eers uitgestryk word voor die voorstelle vrugte kan afwerp.

Die organisasie sê die beleidsonsekerheid wat deurlopend deur die drieparty-alliansie uitgestraal word, skep nie die vertroue wat nodig is om beleggers en entrepreneurs aan te moedig om tot só ’n mate betrokke te raak in die ekonomie, ten einde die basiese aspekte van Mboweni se plan te implementeer nie.

“Die ANC moet onomwonde aan die wêreld bewys dat hulle sosialisme en kommunisme verwerp, aangesien internasionale rolspelers lankal reeds geleer het dat hierdie konsepte nie volhoubaar is nie.”

Die organisasie sê voorts die ANC-alliansie moet die voorgestelde beleid van onteiening sonder vergoeding verwerp en die beginsel van private reg steun. “Indien die ANC voortgaan met grondonteiening sonder vergoeding, sal hulle aandadig wees aan die steeds groeiende werkloosheidsyfer en vlakke van armoede wat jaarliks onder hul bewind toeneem.”

Minister Tito Mboweni. (Foto: Nokuthula Mbatha/ANA)

TLU SA sê volhoubare ekonomiese groei is net moontlik binne ʼn stabiele, misdaadvrye omgewing en dat die voortdurende gewelddadige stakings waar betogers plunder en vernietig, die ANC se toedoen is.

Hy sê die SAKP keer die ANC om beleidsrigtings in werking te stel wat voordelig vir die ekonomie sal wees en dat Cosatu werkers misbruik vir sy eie, politieke posisionering. Hy het ook uitgewys dat onvolhoubare salarisverhogings werkers se toekoms op die spel plaas.

“Die vakbonde sal vinnig moet leer dat rykdom nie iets is wat bloot beskikbaar is nie, maar geskep moet word. Hulle moet ook besef dat arbeiders se werk toenemend bedreig word deur tegnologiese hulpmiddels en meganisasie. Die vierde industriële rewolusie bied oplossings vir gevorderde doeltreffendheid. Indien arbeiders die grootste hindernis is vir die doeltreffende bestuur van ’n besigheid deur gedurig te staak en só die produksieprosesse kontamineer, kan hulle sélf veroorsaak dat werkgewers hulle toenemend na tegnologiese oplossings vir arbeid wend.”

TLU SA sê ook die regerende party se beleid van swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie veroorsaak dat kundiges die land verlaat en dat die regering die kennis wat Suid-Afrikaners het moet gebruik, eerder as om mense op grond hul geslag of velkleur aan te stel.

“Dit is duidelik dat die ANC en sy vennote die grootste bedreiging geword het vir die toekoms van Suid-Afrika en sy mense.

“TLU SA is dankbaar vir Mboweni se heldhaftige poging tot ekonomiese groei, maar glo dit is gedoem tot mislukking, tensy die ANC en sy alliansievennote tot orde geroep word en ontslae raak van skadelike beleide wat ekonomiese groei verhinder.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

aj ·

Donker Afrika, vir die laaste duisend jaar, sal nog DONKERDER word!

Die wêreld beweeg daagliks verder weg van Afrika.

Vlakvark ·

Die geskiedenis leer dat volhoubare voldoende sukses op internasionale handelsgebied lei tot materiële voorspoed. Die vereiste is ekonomiese wêreldkompeteerbaarheid met produkte en dienste. Waar en hoe figureer onstabiele Suid-Afrika in hierdie hoogs kompeterende wêreldorde?

Tinus Coetzee ·

Talk is cheap, money buys the whiskey. Hulle praat en praat en probeer intelligent klink. Hou op praat, neem aksie. Maak oop julle oë, Suid Afrika BRAND!!

John ·

Die ANC het in 1994 die Lotto gewen nadat dit vir duisende jare onder die boom gewag het… Die wenner was die enigste deelnemer. Dit rol in geil plaasbotter en drup van die skaapvet… oor die Gucci-pak… wat wou… Maar die miljarde raak op. Hoe nou? Nog ‘n plan… Sedert die ANC se beslag is planne bedink hoe om martelaar te speel om te kry. Hoekom sal die groep nou anders begin dink… sonder ‘n groot ramp en insinking?

Jerry ·

Die ANC is onstuitbaar besig om n kapitalistiese sosialistiese staat te vestig. Mboweni speel sy rol baie goed in die verband om die kapitaliste te oorreed om in SA se SOE’s, infrastruktuur en behuising te bele. CR speel weer sy rol met n balanseertoertjie tussen Mboweni se kapitalisme en die vakbonde se sosialisme. Die ANC gaan die ekonomie dus stadig maar seker weer optel met kapitalistiese inspuitings, maar aan die sosialistiese kant alle kapitalistiese inspuitings beheer en kanaliseer tot voordeel van kader ekonomiese strukture van landbou, infrastruktuur, behuising, verstedeliking ens!

Gert van Wierdapark ·

Hul is n bed-reiging vir SA se voort-bestaan!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.