ANC-beampte terug by die werk na skorsing

Argieffoto

Argieffoto

Faiez Jacobs, die ANC se Wes-Kaapse provinsiale sekretaris, is terug by die werk nadat sy skorsing vir die beweerde aanranding van ʼn personeellid omgekeer is.

Yonela Diko, die ANC se provinsiale woordvoerder, het Dinsdag in ʼn verklaring gesê die ANC se nasionale dissiplinêre komitee van appèl het Jacobs se skorsing “wat nie volgens prosedure geskied het nie” omgekeer. “Jacobs het vanoggend by die werk aangemeld en het reeds verskeie vergaderings met kollegas en ander belanghebbendes gehad,” het Diko gesê.

Diko het bygevoeg dat Jacobs se onmiddellike verpligtinge insluit om eenheid in die party te bewerkstellig en die organisasie se strukture te versterk in aanloop tot vanjaar se plaaslike verkiesings.

Jacobs is verlede maand geskors na ʼn beweerde aanrandingsvoorval in die ANC se hoofkantoor in Kaapstad. Ten tyde van die voorval het die provinsiale voorsitter, Marius Fransman, bevestig dat die beweerde voorval aangemeld is. Hy het gesê Jacobs is op voorkomende verlof geplaas terwyl ʼn dissiplinêre proses afgehandel word.

Fransman is self tans in ʼn skandaal gewikkel nadat hy deur ʼn jong vrou, wat glo in diens van die party was, van seksuele teistering aangekla is. ʼn Saak teen Fransman is in Noordwes aanhangig gemaak waar hy aan die party se 104de verjaardagviering vroeër vandeesmaand deelgeneem het.

Fransman het die bewerings ontken en gesê dit is deel van ʼn politieke sameswering teen hom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Scura Toks ·

Wel al die skandes van die ANC is altyd lekker nuus. Ha Ha

GES ·

Die ANC en sy leiers is moreel bankrot. Dit blyk ook nie dat dit hulle pla nie en gevolglik word beweeg van een skandaal na ‘n volgende. Dit sou interessant wees om te weet of hulle enige respek afdwing by die publiek.

Martin ·

Nou wil Fransman die rasse kaart speel om sy sondes weg te steek.

Sarel Strydom ·

Hulle hou dan 14 dae vakansie om geweld teen vrouens en kinders te beeindig. Wat is die ANC se voorbeeld. Waar is die Vroueliga nou?

sannie ·

Sarel die Vroueliga is net daar as die skuldiges lig van kleur is, anders is hul doodstil.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.