ANC behoort Ramokgopa te onthef

Kgosientso Ramokgopa, burgemeester van Tshwane Metro Foto: Departement van kommunikasie, Flickr

Kgosientso Ramokgopa, burgemeester van Tshwane Metro Foto: Departement van kommunikasie, Flickr

Die sakeregte-waghond AfriSake is van mening dat die ANC ernstig moet besin oor die toekoms van die Tshwane Metro se burgemeester, Kgosientso Ramokgopa. Dit volg ná onthullings dat beide hy en die munisipale bestuurder, Jason Ngobeni, deeglik daarvan bewus was dat die metro se slimmeterkontrak met PEU Capital totaal onwettig was. Volgens AfriSake se uitvoerende hoof, Cornelius Jansen van Rensburg, is die burgemeester deur die nasionale tesourie hiervan ingelig selfs nog voordat die PEU-kontrak ʼn aanvang geneem het.

Ramokgopa se versuim om die metro oor die onwettigheid van die kontrak in te lig, beteken dat hy die raad opsetlik mislei het. Hierdeur is die raadslede onwetend by ʼn onwettige en ongrondwetlike transaksie betrek. Hierdie gebeure stel goeie gronde vir ʼn mosie van wantroue.

“Indien die ANC ernstig daaroor is om korrupsie hok te slaan, moet Ramokgopa van sy pos onthef word,” het Jansen van Rensburg gesê. Die alternatief behels die vernedering dat die ANC ʼn mosie van wantroue teen een van sy eie burgemeesters moet instel.

Jansen van Rensburg is van mening dat AfriSake se hersieningsaansoek van die kontrak daartoe gelei het dat dit met PEU gekanselleer is. “Ten spyte hiervan, het hierdie kontrak belastingbetalers meer as R800 miljoen uit die sak gejaag. Dit is een van die grootste korrupte kontrakte op plaaslike regeringsvlak sedert 1994,” het hy bygevoeg.

AfriSake sal binnekort ook nuwe feite voor die hof bring. In hierdie stadium is die PEU-kontrak met ʼn uitfaseringsooreenkoms vervang, wat belastingbetalers in die volgende ses maande ʼn geraamde R400 miljoen ekstra gaan kos. “Ons doel met die regsproses is om hierdie betalings te verhoed,” het Jansen van Rensburg gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Ben de Klerk ·

Weer n pluimpie in Afrisake se hoed.!!!!
Ontbloot al die korrupsie.

Gerhard Bezuidenhout ·

Welgedaan AfriSake, ry hulle tot by Oom Daantjie in die kalwerhok. Dit is skokkend hoe die kaders met die land se ekonomie mors deur onbekwaamheid. Moet nie vir my vertel dat hier nie ook korrupsie was nie .

Grassie ·

Gerhard – ek glo nie dit is net onbekwaamheid wat tot hierdie verregaande transaksie gelei het nie. Ek kan aan ‘n meer gepaste woord dink maar dié sal waarskynlik nie geplaas word nie. Ek hoop Afrisake trap hierdie ou se tjank af.

George ·

Ek sal nie verbaas wees nie as hy iets onder die tafel ontvang. Tyd sal leer.

dries ·

Een ding is seker ons belasting betalers het al baie betaal vir onbekwaamheid.

Niel ·

Hy sal in sy pos bly, dis mos aanvaarbaar vir ANC kaders om korrup te wees, Zuma is dan self korrup

Rooijan ·

Die man aan die stuur van PEU teer nou al sedert ten minte 2000 op die belsatingbetalers van Johannesburg en Pretoria. Hy is inderwaarheid waarskynlik al n biljoener. En hierdie slym word net eenvoudig toegelaat om aan te gaan met skelm kontrakte. Hy lewer nooit n tiende van dit waarvoor hy betaal word nie, en hy kruip altyd agter splinternuwe “front maarskappye” weg. Hierdie maatskappye vou dan wanneer hy uitgevang word en PEU is ryker as ooit. Wanneer gaan iemand hierdie rampokker in diepte ondersoek word?

CHRISTA ·

Ek dink ons moet me Madonsela nader om hierdie saak te ondersoek. Dit lyk asof sy die enigste persoon is wat belangstel in wet en orde in ons land EN bereid is om die regering en hulle trawante voor stok te kry!!! Sy en AfriSake moet saamstaan en hierdie korrupte klomp voor stok kry!!

Danie ·

En dan vervang ons hom met wie, dit gaan my verstand te bowe dat ons altyd net wil ontslae raak van mense. Ek verstaan dat daar probleme is met die meter transaksie en dit het lelik skeef geloop. Maar aan die ander kant is daar projekte wat goed verloop het. Onder die selfde bestuur. Daar moet n manier wees om die sake te hanteer sonder om drie tree terug te skuif. Tswhane is op die oomblik een van die beter stede om in te woon in suid afrika, so nie alles is verkeerd nie. As my kind stout was vervang ek hom nie ek help hom reg. Meskien kan ons alternatiewe aanbied om die situasie te beredder, instede van om alles tot nuut te wil maak.

Mattewis ·

Danie, volgens hierdie artikel blyk dit dat Ramokgopa sowel as sy munisipale bestuurder pens en pootjies betrokke was by hierdie ernstige geval van uiterste korrupsie. Dit het ons “slegs” R800 miljoen Rand gekos – geld wat ons in goedertrou aan hom en sy Raad toevertrou het. As jy die artikel weer mooi noukeurig lees, kan jy regtig in alle eerlikheid sê dat die arme man maar net “reggehelp” moet word, of verstaan ek jou heeltemal verkeerd? Natuurlik het ek my kinders ook reggehelp wanneer dit nodig was, maar daar is ‘n wêreldse verskil tussen jou kinders en ‘n man wat Ramokgopa se status en verantwoordelikhede teenoor die samelewing moet dra.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.