ANC-beleid laat jeug werkloos

Argieffoto

Daar word net gepraat oor die ekonomiese bemagtiging van die land se jeug, maar dade ontbreek aan die kant van die ANC-regering en oplossings wat deur die opposisie voorgestel word, word geminag terwyl die probleem by die dag groter raak, sê Anton Alberts, woordvoerder van die VF Plus.

Alberts sê dit is des te meer tragies omdat die arbeidsmag van eerste wêreldlande vinnig verouder, terwyl dit nie in Suid-Afrika die geval is nie. Hierdie ‘demografiese dividend’ gaan in die proses verlore.

Volgens Alberts kan die rede hiervoor vierkant voor die deur van die regering gelê word wat met swak regering en dienslewering die land ekonomies laat stagneer het.

“Die ANC se eerste taak na 1994 was om ʼn ervare staatsdienskorps met onbevoegde kaders te vervang. Diegene wat nie oortuig kon word om pakkette te neem nie, is gedwing om dit te doen. Sodoende is institusionele geheue en ervaring wat gebruik kon word om behoorlike dienste te lewer, veral in die onderwys, uitgewis.

“Op hierdie manier behandel die regering die jeug soos sampioene: Hou hulle oningelig in die donker en voed hulle op ʼn dieet van leuens en propaganda om die regering se mislukkings te verbloem.

“Die ANC se kader-ontplooiing het mense met die mentaliteit van ʼn Hlaudi Motsoeneng in belangrike openbare posisies geplaas waarvoor hulle bloot nie bevoeg is nie. Dit het die effek gehad dat talle arm swart mense endemies blootgestel is aan swak dienslewering en die jeug aan substandaard onderwys.

“Daarby het die ANC ook nog geëksperimenteer met die jeug deur uitkomsgebaseerde onderwys wat talle jongmense ongeletterd gelaat het.

“Wat is die antwoord dan? Hoe red ons die jeug en bou vir hulle ‘n toekoms? Gegewe die feit dat ons vanjaar dieselfde debat en onkunde van die ANC het, is dit duidelik dat ons verdienste moet terugbring in die stelsel deur die land van die onverbiddelike ANC en sy mislukte beleid te red,” het Alberts bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

JoeV ·

Die jeug se werk word vir hulle in Cina gedoen. Hulle kan onder ‘n boom gaan sit en wag vir toelaes.
En hulle oures ondersteun die beleid deur alles te koop met “made in China” op die houers gedruk!

Veritas ·

Daar is net een rede waarom so ‘n groot persentasie van die jongmense werkloos is. Dit is doodeenvoudig dat daar nie werksgeleenthede vir die massas is nie. Alvorens die regering nie daadwerklike stappe doen om die onbeheersde bevolkingsaanwas, hok te slaan nie, sal dié probleem nooit opgelos word nie. Voeg hierby die feit dat jongmense met reuse salarisse wil wegspring en werkgewers eerder mense met werkservaring wil aanstel, en die resep vir ‘n groterwordende werkloosheidssyfer is volmaak.

Johann Marx ·

Ek kan mal word wanneer ek artikels soos hierdie lees. Kyk na die laaste paragraaf: “Wat is die antwoord dan? Hoe red ons die jeug? Gegewe die ANC se onkunde, moet ons verdienste terugbring in ‘n stelsel deur die land van die onverbiddelike ANC en sy mislukte beleid te red.” HUH? Ek is naar. Ek wil opgooi….Ek wil skree “Wat is in Anton Alberts se kop aan die gang?” Hierdie land is nie meer “ons” land nie. “Ons”…..het dit weggegee. Die “jeug” waarvan hier gepraat word is nie “ons” jeug nie. “Ons” jeug brand nie universiteite af en vernietig infrastruktuur nie….”Ons” jeug is besig om hulle grade te kry, en hulle visum aansoek in te vul, om ‘n menswaardige bestaan te gaan maak in lande waar hulle “menswees” en talente nie net in aanvraag is nie, maar waardeer word. Wanneer gaan ons ophou om “in te staan” vir die ANC se onkunde? Die massas verdien die ANC. Hulle wou die ANC gehad het. Hulle het baklei TOT hulle die ANC in bewind gekry het….en nou moet “ons” die jeug red? Waarom? Te hel met die jeug. Te hel met hulle aannames, arrogansie, en houding dat die wêreld hulle iets skuld. Vir wie is die ANC se beleid ‘n “mislukte” een? Vir die massas? Nee, Adv Alberts…..net vir die handjievol wittetjies wat hier rondhang. Vir die massas is die ANC se beleid “awesome”. My jeug is versorg en uitgesorteer.

MCH ·

Juis daarom dankie tog vir organisasies soos Solidariteit en Afriforum wat pro aktief optree met beperkte middele ten einde die behoefte aan Afrikaanse, Christelike opvoeding sterk aan te spreek deur onder ander Akademia in die huidige tydsverloop. Indien ons geduldig moes wag todat die regerende party se ondeurdagte beleidsrigtings se vrot vrugte tot volle ontbinding ontwikkel, is daar n addisionele geslag of twee se geleenthede daarmee heen. Skade reeds berokken is onberekenbaar.Ek sou graag wou sien dat soos met Soltek vir tegniese beroepslui, ook spoedeisend voorsiening gemaak word vir professionele beroepsrigtings soos GR, dokters en prokureurs. Tans kan daar gekies en keur word onder briljante akademici wat tans n enkelkaartjie na nêrens het by tradisionele tersiêre instellings. Die instellings dreineer myns insiens tans akademici se ware talent deur hul vasgevang te hou in n maalkolk van politiekery. BW soos Flip Buys sê, kantlyn kritiek is onproduktief en bring ons nêrens.

Johan. H. ·

Johann Marx ek stem 100% saam met jou, On was en is nie goed genoeg nie, Laat hulle vlieg man…

Johann cb ·

Sjoe manne, én vroue, net so bietjie positiwiteit sal ons ook ver bring…
Pasop vir hartaanvalle en beroertes…
Dankie vir die kort artikel Maroela, hopelik sal dit ál die regte mense bereik!

Eish ·

Amen. Genade tog, ons is op die Titanic en die reddingsbootjies is reeds opgeneem. Dit help sweet blou all om die hel in te wees vir die kaptein omdat hy in die ysberg vasgefoeter het en die skip nou sink. Dis n gegewe. Ons moet nou “makeshift” flotte maak om te oorleef. Dit help nie eers jul skiet “flares” nie pel, daar is nie n siel in die nabyheid om hulp te verleen nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.