ANC-beleidskonferensie: Minder beleid en meer ʼn leierskapstryd

pres-jacob-zuma-anc-beleidskonferensie

Pres. Jacob Zuma lewer sy openingstoespraak by die ANC se vyfde nasionale beleidskonferensie in Johannesburg. Foto: Jonisayi Maromo/ANA.

Die ANC se vyfde beleidskonferensie is maar ʼn teleurstellende affêre, indien ʼn mens verwag het dit sou dié konferensie wees waar nuwe markgedrewe beleidsoplossings vir Suid-Afrika se ekonomiese kwessies geformuleer gaan word.

Die konferensie, wat tot Woensdag by Nasrec in die suide van Johannesburg duur, het reeds gesorg vir ʼn paar omstrede kwessies wat geopper is vir bespreking, maar politieke ontleders betwyfel dit of daar werklik by die kruks van die sake in die voorgestelde beleidsdokumente tydens debatte uitgekom word. Dit is ook betwisbaar of daar enige rigtinggewende besluite in die volgende paar dae hieroor geneem sal word.

Van die belangrikste kwessies wat tot dusver deur die 11 subkomitees bespreek is, het onder meer gehandel oor die diagnostiese verslag wat probleme in die ANC uitgewys het. Die verslag het getoon dat die regerende party stadigaan sy ondersteuningsbasis verloor en dat Suid-Afrikaners die party as korrup beskou. Die verslag sluit verwysings na die Nkandla-sage, die Guptas en staatskaping in.

Fikile Mbalula het as voorsitter van die subkomitee oor organisatoriese ontwikkeling ook voorgestel die ANC moet die manier waarop sy leiers kies drasties verander. ʼn Revolusionêre verkiesingsraad moet geskep word wat sal verseker dat die ANC se strukture die beste mense uit die party se geledere vir leiersrolle aanbied.

Supra Mahumapelo, premier van die Noordwes, het voorgestel ʼn referendum moet gehou word oor grondonteiening sonder vergoeding.

Pres. Jacob Zuma het uitgevaar teen die veterane se wegblyaksie van die beleidskonferensie. Die ANC het ook aangedui dat die party se integriteitskomitee meer mag wil hê om op te tree teen lede wat die party in oneer bring.

Dr. Frans Cronjé, scenariobeplanner en die hoof uitvoerende bestuurder van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rassebetrekkinge:

Cronjé het die beleidskonferensie as ʼn skouspelagtige pantomime beskryf en gesê dit is nie waar die ANC sy beleid werklik formuleer nie.

“Ek dink die grootste sukses van die beleidskonferensie tot dusver is dat dit verloop het sonder enige ernstige interne konflik binne die party.

“Die waarheid is egter dat geen party, maatskappy of organisasie werklik beleide kan vasmaak by ʼn kongres waar sowat 4 500 mense teenwoordig is nie.”

Cronjé sê daar is makliker maniere vir Suid-Afrikaners om te bepaal wat die ANC se beleid is: “Kyk na die wetgewing wat deur die party ingestel is en wat nog op pad is. Die sukses van hierdie beleid kan ook maklik gemeet word deur vaste beleggings en die land se ekonomiese groeikoers.”

Cronjé waarsku egter dat ʼn mens nie nou al enige gerugte moet glo dat die gebeure by die beleidskonferensie ʼn aanduiding van pres. Jacob Zuma se einde is nie.

“Ek beskou Zuma as ʼn uiters vernuftige skaakspeler wat floreer in ʼn omgewing waar onderwerpe mekaar weerspreek. Enigiemand wat teen hom te staan kom, moet Zuma op ʼn hoë professionele vlak met die grootste hoeveelheid respek hanteer.”

Prof. Willie Breytenbach, politieke ontleder aan die Universiteit Stellenbosch:

“Ek dink die konferensie word oorskat, en is in hierdie stadium nie so lewensnoodsaaklik vir die formulering van beleid soos wat aanvanklik geadverteer is nie.”

Breytenbach meen die konferensie is net ʼn poging om die vrede tussen die Zuma- en anti-Zuma-faksies te bewaar en as daar enige werklike uitsluitsel rakende beleid gaan wees, sal Suid-Afrikaners dit heel waarskynlik eers by die ANC se nasionale konferensie in Desember sien.

“Die grootste ekonomiese nuus in die afgelope sewe dae het uit die mond van gesondheidsminister dr. Aaron Motsoaledi gekom en dit is nie eens by die beleidskonferensie gemaak nie, maar deur die departement van gesondheid self oor die nasionale gesondheidsversekering. Daaroor moet nog ʼn reusedebat plaasvind om te bepaal wat die implikasies vir mediese skemas en privaat praktisyns en spesialiste sal wees. Alle aanduidings is dat daar nog bitter min  beraadslaging met hierdie rolspelers was.”

Breytenbach reken egter dit is ʼn ou laai van die ANC deurdat hulle soos in die verlede ʼn paar maande tot ʼn jaar voor ʼn nasionale verkiesing populistiese uitsprake maak en daar later dadels van kom.

“Net soos met grondhervorming in die verlede het vele landbou-organisasies aangebied om die regerende party te help dink en ʼn oplossing binne die Nasionale Ontwikkelingsplan te vind, maar dit word net nooit deur die party opgevolg nie.”

Hy dink ook dit is interessant dat Zuma skielik weer na die NOP verwys het in sy openingsrede nadat hy tot dusver dié plan heeltemal geïgnoreer het. “Ek beskou dit as politieke opportunisme van Zuma se kant en dalk ʼn poging om die glans van die outeurs Trevor Manuel en Cyril Ramaphosa te steel.”

Tog meen Breytenbach dat die grootste kwessie wel die leierskapstryd is en dit is waarom ander belangrike vraagstukke in die lug hang.

Prof. Dirk Kotzé, politieke ontleder verbonde aan Unisa:

“Die vraag van wie ondersteun wie en watter verdelingslyne loop binne die ANC is die oorkoepelende saak wat tans die beleidskonferensie oorheers.”

Kotzé glo die wegblyaksie van die veterane van die ANC is ʼn aanduiding van die diep polarisasie binne die regerende party.

“Die afwesigheid van die veterane beteken ook daar is nie dieselfde intensiteit van gesprekke nie en die debat oor ekonomiese aspekte wil maar net nie vir my aan die gang kom nie.”

Hy beskou die mate waarin die NOP by die konferensie weer te vore gekom het, as ʼn oorwinning omdat dit eintlik veronderstel is om die hooflangtermyn ekonomiese plan van die regering te wees. “Tog dink ek die plan is nou net weer prominent omdat dit is wat die internasionale markte en gemeenskap van die ANC wil sien.

“ʼn Intensiewe debat oor ekonomiese sake is egter afwesig en daar is maar net verwys na grondhervorming en die mynbouhandves, terwyl ek gedink het dit sal by hierdie konferensie op die spits gedryf word.

“ʼn Mens sou ook verwag dat die Zuma-faksie by hierdie konferensie sou poog om radikale ekonomiese transformasie as ʼn nuwe beleid van die ANC aanvaar te kry, maar dit het nog nie gebeur nie.

“Ek dink egter dit is ʼn verklaring van die groot mate waarin ʼn dooiepunt in die ANC bereik is en dat nie een van die faksies werklik al die oorhand binne die party het nie.”

Prof. André Duvenhage, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit:

Duvenhage meen die beleidskonferensie moet binne die konteks van beleidsvorming en strategiese posisionering gesien word. “My indrukke is tans dat die posisionering nou veel belangriker is as die vorming van enige beleid. Daar is nie tans sinvolle uitkomste rakende belangrike kwessies nie en ek dink ook nie ons moet nou definitiewe resolusies verwag nie, maar eerder dat daar by radikale en populistiese uitsprake gehou sal word.”

Hy reken egter die Zuma-faksie is tot dusver by die konferensie onder baie druk geplaas.

“Mabula se ‘top down’-benadering met die verkiesing van ANC se leierskap plaas verder druk op Zuma.

“Dit blyk ook dat die premier van Mpumalanga, David Mabuza, wat altyd deel was van die sogenaamde premiersliga wat van Zuma se grootste ondersteuners is, moontlik die naweek na die Ramaphosa-kamp gedraai het.

“Die moontlikheid bestaan dat Ramaphosa sterker uit die konferensie kan kom en hy doen dit netjies deur deurentyd te veg vir eenheid binne die ANC en deur homself as party-gesentreerd voor te hou. Dit maak die geveg vir Zuma moeilik.”

Duvenhage waarsku egter dat Suid-Afrikaners in geen stadium moet verwag dat die leierskapstryd ʼn gewonne saak is nie. “Nee, die leierskapstryd gaan al feller raak, ek verwag die soort optrede van Hlaudi Motsoeneng, voormalige bedryfshoof van die SAUK, wat ten alle koste bly voorgee en sal veg vir behoud van die leierskapsposisie tot die wederkoms.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Johann ·

Jip, al hierdie konferensies is maar daar om die faksies by mekaar te hou, die mense te laat glo hulle deel in die besluitnemings proses, eintlik gaan dit maar ook oor lekker samesyn, weer bande smee, partytjie hou, eet en feesvier en almal goed te laat voel, so sien die klomp dan weer uit na die volgende keer.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.