ANC-bestuur swyg oor vermiste stemme

anc-2017-nuwe-top-ses-twitter

Die nuwe top ses van die ANC wat Maandagaand tydens die nasionale verkiesingskonferensie in Johannesburg verkies is. Foto: Twitter.

Soos die einde van die ANC se nasionale verkiesingskonferensie by Nasrec in Johannesburg naderkruip, het die bestuurskomitee van die ANC teen Dinsdagaand nog geen aankondiging gedoen oor wat gaan gebeur rondom die 68 vermiste stemme van afgevaardigdes wat deel van die duisende was wat vir die nuwe ANC-leierskap gestem het nie.

Vrese dat die verkiesingskonferensie kan ineenstort neem al meer toe soos ondersteuners van Senzo Mchunu, wat teen Ace Magashule meegeding en verloor het vir die posisie van sekretaris-generaal, eis dat stemme weer getel moet word. Mchunu se ondersteuners glo hul kandidaat het teen Magashule verloor weens onreëlmatighede met die stemproses.

Supra Mahumapelo, premier van Noordwes, het aan joernaliste gesê hoewel hy die uitslae van die verkiesings aanvaar, is dit nie net die stemme vir sekretaris-generaal wat weer getel moet word nie, maar vir die hele top-ses van die party.

Die ANC-bestuurskomitee het Dinsdag ʼn reeks vergaderings agter geslote deure gehou, maar die honderde joernaliste by die konferensie is nog nie ingelig oor wat vorentoe gaan gebeur nie.

Mchunu se ondersteuners sê minstens 68 stemme word vermis van die stemtotaal vir sekretaris-generaal. Die verskil tussen Mchunu en Magashule was slegs 24 stemme. Die uitslae was só na aan mekaar dat Mchunu se ondersteuners ook met die aankondiging gejuig en hom na die verhoog toe gedra het omdat hulle aanvanklik gedink het hy het gewen.

Indien die kwessie oor die 68 stemme uitgeklaar kan word, is dit dus moontlik dat Mchunu as sekretaris-generaal aangewys kan word.

Adjunk-president Cyril Ramaphosa het 2 440 stemme ingepalm vir president van die ANC, teenoor 2 261 stemme vir Nkosazana Dlamini-Zuma.

Nadat die vorige nasionale uitvoerende komitee (NUK) van die party ontbind is, word die party nou deur ʼn bestuurskomitee bestuur wat bestaan uit die kantoor van die sekretaris-generaal, voorsitters van die provinsies en die party se ligas.

Die ANC-vroueliga (ANCVL) het Dinsdag op hul beurt gesê die ANC het vroue gefaal deur vir Ramaphosa bó Dlamini-Zuma te stem. Bathabile Dlamini, president van die ANCVL, het gesê “patriargie het weer sy lelike kop uitgesteek” in die ANC.

“Ons is teleurgesteld. Ons het hard geveg. Hierdie was die maak van geskiedenis vir vroue in die ANC. Ons het ʼn vrou as presidensiële kandidaat op die stembrief gehad. Ons gesamentlike doelwit moet wees om teen patriargie en seksisme te baklei,” het sy aan verslaggewers gesê.

Die vroueliga het agter Dlamini-Zuma gestaan om die presidentskap van die ANC oor te neem. Sy is ook deur die jeugliga en die MK-veterane ondersteun in aanloop tot die nasionale konferensie.

Interessant genoeg is Lindiwe Sisulu, wat teen David Mabuza die posisie van adjunk-president verloor het, nie deur Dlamini en die vroueliga ondersteun nie.

Vandag is die laaste dag van die konferensie.

Lees alle vorige berigte oor die ANC-konferensie 2017 op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Eish ·

Verlore stemme, verlore miljarde, verlore politieke alliansie.
Meesters van die konsep ” Rigging”

gatiep ·

Met die nuwe ou in die stuur kan ons Afrikaner maar vergeet van ooit onafhanklikheid te kry.
Nou gaan daar eers gediskrimineer word teen ons.

SjN ·

Ekke weet hom nie, nie gesien, nie gehoor nie, hulle is weg soos verlede maand se pay.

Johan ·

Natuurlik sal hulle swyg….hulle is vrot met skelmstreke….die goed dat almal kan sien hoe skelm hulle self as dit kom by hulle eie konferensies…….voor die 2019 verkiesing……jy moet nogal wonder hoe deursigtig en eerlik is ons algemene verkiesings….laat mens wonder…..

Domvraag ·

Dlamini was die verkiesing dan nie demokraties nie. Nou wil jy die seks/geslagskaart speel en dis verfoeilik deur te sê dat die ANC jul in die steek laat. Die beter mens, let wel mens het gewen. Volgens jou sienswyse moet n vrou inbeheer wees nieteenstaande dat die vrou dalk Gupta controlled is..kyk na SASSA betalings …vrot, vrotter en verrot

Hanna ·

Dit maak my bang dat daai Zuma-vrou in elk geval soveel stemme gekry het. Lyk my mense wil nie leer nie…

anti verrotting ·

CR gaan nie al die korrupsie kan keer nie – want die kanker het alreeds deur die hele liggaam versprei. Die organisasie sal dus uitsterf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.