‘ANC-binnegevegte’ rede vir Fransman se bedanking

Marius Fransman

Marius Fransman

Marius Fransman, voorsitter van die ANC in die Wes-Kaap, het Vrydag gesê hy het besluit om uit die provinsiale wetgewer te bedank aangesien faksies en binnegevegte in die ANC dit vir hom onmoontlik gemaak het om sy pligte in die wetgewer uit te voer.

Maroela Media het vroeër berig dat Fransman Vrydag sy bedanking uit die wetgewer aangekondig het. Hy het egter gesê hy bly steeds lid van die ANC.

“My besluit in 2013 om terug te keer na die Wes-Kaap om langs en saam met die armes en agtergeblewenes te baklei om die wanbalans tussen dié wat het en dié wat nie het nie reg te stel en ʼn inklusiewe samelewing te skep, word ingekort deur die voortslepende ANC onrus, binnegevegte en faksies. Dit maak dit byna onmoontlik vir my om my pligte uit te voer om die opheffing van die kiesers te verseker,” het Fransman gesê.

“Ek kan dit nie meer regverdig om ʼn salaris te ontvang sonder die meganisme om uitvoering te gee aan my roeping nie,” het Fransman gesê.

Fransman se bedanking kom ’n dag nadat die hooggeregshof in Kaapstad sy aansoek om nie voor die Wes-Kaapse wetgewer se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) te hoef getuig nie van die hand gewys het. Die provinsiale Skoor wil hê Fransman moet getuig oor ʼn verslag van die ouditeur-generaal in verband met honderde miljoen rande wat bestee is aan konsultante vir die departement van vervoer en openbare werke, waarvan Fransman die hoof was toe die ANC destyds die provinsie regeer het.

Fransman het niks hiervan gesê in sy verklaring oor sy bedanking nie en het volgehou hy keer terug na partypolitiek in ʼn poging om die ANC se steun in die Wes-Kaap te laat groei. “Die gemeenskap vra vir die glorieryke ANC van vroeër en ek glo ek kan my roeping beter uitleef deur hierdie doelwit na te jaag. Dit is my nederige opinie dat die organisasie opnuut moet verenig,” het Fransman gesê.

“Ek sal al my aandag daaraan wy om die vertroue tussen die mense, die burgerlike samelewing en die ANC te herstel.”

Fransman het gesê hy sal voortgaan om die ANC te dien, ten spyte daarvan dat die party dissiplinêre stappe teen hom begin het. Die ANC het in Julie vanjaar met dissiplinêre stappe teen Fransman begin nadat seksuele aanklagte teen hom ingedien is. Fransman is daarvan beskuldig dat hy in Januarie die 21-jarige Louisa Wynand van Stellenbosch seksueel geteister het gedurende die ANC se 104de herdenkingsgeleentheid in Rustenburg.

Die aanklag teen Fransman is later teruggetrek nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) besluit het dat hy sal nie vervolg word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Penellope Jones ·

Sowaar?
Mens sou wou gehad het dat die “binnegevegte” in die eie ek en die self dalk die rede sou wees . . . .

Helene smuts ·

Hoop jy tel jou ook by vir die wat het. Gee jy elke mnde iets of praat jy net vir die ander en praat jy ook van die regering. Jy moet n slag stil bly en dink.as jt kan

Popeye ·

Sy computa werk nie reg nie, maaind djou, die hoofraam ook nie.

SPEEDGUARD ·

Kom nou Marius , jy is mos ‘n yster, gaan doen die regte ding by Skoor, of is jy nou bang nadat jou maters (kaders) jou nou ook vir die wolwe gooi, kom nou man dis nou die tyd om te wys wat in jou steek!

Albert Marais ·

“Binne gevegte, faksies en onrus in die ANC – en jy bly aan as ANC lid??? Hoe dom!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.