‘ANC blind vir SA’ners se teëspoed’

Kuba se vlag. (Foto bloot ter illustrasie: Yamil Lage / AFP)

Die DA het Dinsdag gesê hy veroordeel die besluit van die departement van internasionale betrekkinge en samewerkende regering (Dirco) om met hofaksie voort te gaan nadat die Noord-Gautengse hooggeregshof ʼn R50 miljoen-skenking aan Kuba gestuit het.

Die party meen die regering is meer besorg oor die behoeftes van Kubane as die teëspoed wat Suid-Afrikaners elke dag beleef.

Maroela Media het berig dat die hof verlede week ʼn interdik aan die burgerregteorganisasie AfriForum toegestaan het om die regering se planne om dié reuseskenking te doen, tydelik stop te sit sodat die saak behoorlik ondersoek kan word.

Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge, het ʼn dag ná dié uitspraak aangedui dat die departement egter na die hof sal terugkeer.

“Ons bestudeer die uitspraak. Dit is ʼn tussentydse bevel. Daar sal binne 20 dae na die hof teruggekeer word. Ons raadpleeg nou ons regsverteenwoordigers en berei ons hoofargumente voor,” het Pandor in ʼn verklaring gesê. Volgens haar verskaf die African Renaissance-fonds ook nie geld aan enige begunstigde nie, maar humanitêre hulp soos “kos, mediese voorrade of ander vorme van ondersteuning”. Sy sê dié geld lê binne Dirco se begroting en geen ander departement nie.

“Dit maak ons woedend dat die ANC-regering kies om geld wat Suid-Afrika nie het nie aan die beweerde ellende van hul Kubaanse kamerade af te staan, terwyl hulle nie ʼn duit omgee oor ernstige kwessies waarmee Suid-Afrikaners bemoeid is nie.

“Terwyl sy eie party die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) R102 miljoen belastinggeld skuld en verlede jaar gesukkel het om personeel se salarisse te betaal, dink die ANC dit is steeds ʼn goeie idee om broodnodige geld aan Kuba te skenk en boonop in ʼn duur hofgeding betrokke te raak. Hoe maak dit sin?” het Bridget Masango, die DA se woordvoerder oor maatskaplike ontwikkeling, Dinsdag gesê.

Masango meen die lot van honger Kubaanse kinders weeg skynbaar swaar op die ANC se gemoed, terwyl hulle geen aandag skenk aan Suid-Afrikaanse kinders wat toenemend weens hongersnood doodgaan nie.

“Sewe kinders het sedert Januarie in die Oos-Kaap aan hongersnood gesterf. Nog ses is weens ernstige wanvoeding in die hospitaal opgeneem. Is dié kinders dan bloot statistieke vir die ANC-regering? Vorm hulle net deel van die geraamde 27% van kinders wat landwyd aan groeiprobleme weens wanvoeding ly?”

Sy sê hoewel skenkings aan behoeftige lande op papier bewonderenswaardig kan lyk, is dit eintlik net nog ʼn manier waarop die regering hulp aan sy eie landsburgers weerhou.

Volgens Masango hou die ANC hom doelbewus blind vir die teëspoed van Suid-Afrikaners wat deur dié party se deelname aan korrupte aktiwiteite beaam word.

“Die ANC-regering moet voedselsekerheid vir die mense van Suid-Afrika prioritiseer. Om geld op hul vriende uit te gee terwyl hul eie land se kinders doodhonger is, is verregaande.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Suzette ·

Daardie geld kan onder andere aangewend word om Bloemfontein, soos baie ander dorpe, wat in die grond in bestuur is, te help.

Dup ·

Kuba is een van SA se rolmodelle.Daarom verkeer SA in die huidige benarde ekonomiese situasie.Kuba se infrastruktuur is totaal vernietig en SA is vinnig oppad daarheen.Jy word aan jou “vriende” geken.Rusland….Kuba…Palestina…ens….ens.

Jannie van Niekerk ·

Dis waarom die wonderlike Demokratiese Nuwe Suid Afrika ‘n mislukking is. Om Kuba as rolmodel te hê moet mens geestekik versteurd of verstasdelkik vertraag wees.

Althes ·

Dis skandelik dat ANC regering Suid-Afrikaanse burgers versaak. Wat van droogtehulp aan boere? Wat van hulp met sprinkaanbestryding wat weiding verwoes?
Wat van die uiterste duur petrolprys wat gaspryse gaan opjaag – en sodoende hulpbehoewendes nog meer gaan swaarkry?
Wat van voedselpryse en broodpryse wat verskriklik duur is.
Sies vir ons regering, het hul nie skaamte nie?! SA se nood is meer en juis agv die staatskaping wat miljarde rande weg is.

Danie ·

Die huidige regering betaal nog steeds hulle oorlog skuld af. Geen land gaan jou help sonder enige terug betaling nie – net jammer die belasting betaler moet dit ontgeld

Frank John ·

Nee nee mense, dis skuld wat betaal word onder ‘n vals agenda. Onthou, nou die dag toe gaan Zuma-kie Cuba toe vir “behandeling”, iemand moet dit nog betaal en ANC het vir Zuma-kie gesê, ons sal al jou onkoste dra. Al die speletjies wat ou Zuma so met die howe speel is ANC strategies. Hulle het hom daai tyd belowe, ou Rampies, bedank nou ons sal na jou kyk. Al jou onkoste dra….

Tokkel ·

Worry oor ander lande, terwyl jou eie land krippeer onder armoede. Wonder hoeveel huise kon hul gebou het met daardie geld …of sorg dat mense kos kry.

Santie ·

Ek het vandag 8 ure in n ry gestaan in son vir n Id kaart. Hoekom word meer mense nie eerder aangestel nie. Maar geld word in Kuba weggegooi.

Manie ·

Doen dit aanlyn deur jou bank, dis baie makliker en gouer. Die meeste banke het by van hulle takke ‘n kantoor van Binnelandse Sake. Dis seepglad en geen lang toue en gewag nie.

Samuel ·

Sies vir die ANC regering. Sies. Hoe lui die Engelse spreekwoord? Charity begins at home? Maar in Kuba en Rusland het hulle niks anders as oorlogvoering en afbreek geleer nie.

Blikkies ·

Kan Pandor asseblief vir ons almal verduidelik wat is haar opinie oor die R50 Miljoen aan Kuba en die hongersnood van ons eie mense en kinders>

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.