ANC bly agteruit boer in KwaZulu-Natal

ANC-se-vlag-deur-ANA

ANC Foto: ANA.

Die ANC is besig om erg agteruit te boer in landelike KwaZulu-Natal en het gister nog ʼn munisipale wyk aan Inkatha afgestaan.

Dit is ʼn voortsetting van die patroon sedert die bedanking van oudpres. Jacob Zuma en kan ernstige implikasies vir die ANC inhou in die aanloop tot die 2019-verkiesing.

Die swakste uitslag vir die ANC het gekom uit twee plattelandse wyke sowat 300 km van mekaar, onderskeidelik aan die provinsie se Noord- en Suidkus.

In die Jozini-munisipaliteit op die Makhathini-vlakte aan die grens van Mosambiek het die IVP wyk 2 by die ANC gebuit deur 1 451 stemme te trek teenoor die ANC se 851. Die ineenstorting van die NFP het voortgeduur toe dié party net 101 stemme kon trek en die EFF het nogmaals ervaar hoe taai dit is in die KwaZulu-Natalse politiek toe hulle net 41 stemme kon kry.

In die Umdoni-munisipaliteit, gesentreer op die dorp Scottburgh sowat 60 km suid van Durban, het die ANC weliswaar wyk 16 behou, maar met omtrent 13 persentasiepunte teruggesak vergeleke met hul 2016-vertoning. Die ANC het 660 stemme in die wyk gekry, die IVP 381 en die EFF 52 stemme.

Die derde tussenverkiesing was in ʼn meer stedelike gebied, wyk 3 van die Mkhambathini-munisipaliteit tussen Durban en Pietermaritzburg. Die wyk sluit die dorp Camperdown langs die N3-snelweg in.

In hierdie wyk was drie interessante neigings waarneembaar. Eerstens het die ANC weliswaar teruggesak, maar slegs met sowat 2% vergeleke met 2016. Tweedens het die DA ook met omtrent 2% teruggesak, grootliks omdat die stempersentasie onder die wit kiesers in Camperdown skerp afgeneem het. Derdens het sowel die IVP as die EFF met omtrent 2% toegeneem, wat vir die EFF (wat altyd in KwaZulu-Natal sukkel) omtrent ʼn verdubbeling van stemme verteenwoordig.

Die ANC het die wyk dus behou met 1 033 stemme, gevolg deur die DA met 620, die IVP met 103 en die EFF met 89 stemme.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Daan Erasmus ·

Dankie tog dat die EFF se stemme so min is. Daardie rooi gevaar maak my bekommerd. Dit is hoogs intelligente leiers wat ‘n klomp minder intelegente mense aan hul neuse rondlei. Met baie gevaarlike leë beloftes

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.