ANC Bojanala-streekskonferensie nietig verklaar

hof-hamer

Argieffoto.

Die hooggeregshof in Noordwes het Vrydag die ANC se Bojanala-streekskonferensie nietig verklaar.

Die hofuitspraak kom ná ʼn hersieningsaansoek wat deur Tokyo Mataboge, voormalige Bojanala-streeksekretaris, en 39 ander gebring is om ʼn bevel te kry om die algemene takvergaderings van 40 takke in Bojanala ter syde te stel en die streekskonferensie van 24 September 2017 nietig te verklaar.

Die beweerde takke is nie grondwetlik op die been gebring nie en meer as 70 handtekeninge by die takvergaderings is vervals.

Die ANC het aangevoer dat die onreëlmatighede by die ANC-takke nie ʼn invloed op die streekskonferensie het nie en dat al die interne prosesse van die ANC nie gebruik is om die geskil op te los nie.

Adv. Terry Motau, vir die applikante, het volgehou hulle het in Desember 2016 ʼn geskil by die ANC se nasionale en provinsiale kantore aangemeld en agt maande later is daar nog niks gedoen om die geskil op te los nie. In plaas van ʼn oplossing het organisatoriese prosesse ontvou, waaronder algemene takvergaderings wat tot die streekskonferensie gelei het.

Die meerderheid takke wat deur die hooggeregshofbeslissing geaffekteer word, word gesien as ondersteuners van Nkosazana Dlamini-Zuma in die ANC se presidensiële leierskapstryd. Die uitspraak beteken die betrokke takke sal nie die naweek se ANC-verkiesingskonferensie in Johannesburg kan bywoon nie.

Die ANC in Noordwes het ʼn aansoek ingedien om teen die hofbeslissing te appelleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.