ANC-burgemeester dalk vandag in die pad gesteek

Zandile Gumede, burgemeester van die Ethekwini-metromunisipaliteit. Foto: Bongani Mbatha/ANA

Die ANC in KwaZulu-Natal sal vandag ʼn mediakonferensie hou waar die party na verwagting sal aankondig dat Zandile Gumede, die burgemeester van die eThekwini-munisipaliteit wat strafregtelik vervolg word, afgedank is.

Ricardo Mthembu, woordvoerder van die ANC, het Maandagaand laat aan joernaliste gesê hy is nie bereid om die uitkoms van ʼn vergadering van die provinsiale uitvoerende komitee bekend te maak nie, maar meer besonderhede sal tydens die mediakonferensie gegee word.

“Die mediakonferensie sal om 13:00 [Dinsdag] plaasvind waar ons meer besonderhede sal gee aangesien ons nie met net een kwessie te doen het nie,” het Mthembu gesê. “Voorlopig gaan ons nie kommentaar lewer oor die uitkoms van die vergadering nie.”

Mthembu het gesê enige individue wat geraak word deur die besluite wat by die vergadering geneem word, sal voor vandag se mediakonferensie in kennis gestel word.

African News Agency (ANA) verneem daar sal ʼn algehele herstrukturering van leierskap by vandag se mediakonferensie aangekondig word. Die konferensie sal by die ANC se provinsiale hoofkantoor in Durban plaasvind.

Die ANC is al geruime tyd besig om vure dood te slaan in KwaZulu-Natal met verskeie burgemeesters, senior beamptes en politici wat van bedrog en korrupsie, en in een geval, moord, aangekla word. Die party kan egter nét so baie probleme op die lyf loop as hulle die beamptes wat op dié aanklagte tereg staan bloot elders ontplooi.

Gumede is in Mei saam met Mondli Mthembu, ANC-raadslid in eThekwini, aangekla vir beweerde tenderbedrog, korrupsie en rampokkery rakende ʼn R208 miljoen-kontrak vir die verwydering van vaste afval in Durban.

Verskeie ander mense is twee weke vroeër in hegtenis geneem, insluitend twee senior eThekwini-beamptes en ʼn paar sakemense, in verband met die misdaad. Al die beskuldigdes sal in Januarie volgende jaar in die hof verskyn.

Gumede is tans uit op borgtog van R50 000 en is deur die ANC op spesiale verlof geplaas, wat al twee keer verleng moes word.

Tydens Gumede se eerste hofverskyning het die hof gehoor dat sy na bewering die toekenning van tenders beïnvloed het en personeel opdrag gegee het om die wet te oortree. Sy het ook na bewering ʼn optog teen die stadsbestuurder, Sipho Nzuza, gereël om daarop aan te dring dat hy afgedank word nadat hy geweier het om maatskappye te betaal vir die onreëlmatige kontrakte wat hulle bekom het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

SjN ·

Hulle wil tog so belangrik wees en voel tydens media konferensie, dit weerspieël net die onbevoegdheid.

J ·

Darem vreeslik moeilik vir ANC om skelms in hulle midde weg te te kry, sy sal seker nou n beter pos iewers in ANC kry

Elna ·

Al die comrades van die ANC moet in die pad gesteek word van die president tot heel onder en sommer die EFF ook.

Gemaskerde Sopbeen ·

Ek sou ook geklou het soos ‘n neut…..selfs net ‘n klein persentasie van R208 miljoen kan handig te pas kom!!

Daan Erasmus ·

Een mens.
Een stem.
Een keer.
Dit is wat die ANC beskou as demokrasie. Dit is onafhanklik terwyl “ons” wen.

Maljan ·

Een keer? Nie as daar uitgedeel word nie. Kindertoelaag tot in die tiende geslag. Ma kry dit, ouma kry dit, pa kry dit, kind kry dit, vier keer vir dieselfde kind. Drie vier RDP huise vir dieselfde mens. Dis keer op keer.

Johan Swart ·

Emfuleni munisipaliteit is ge “loot” van R1 biljoen……die burgermeester van Vanderbijlpark bly iin Sandton…dis 110 kilometer van die Vaaldriehoek af….snaaks dat almal wat vir Emfuleni werk nou eweskielik al die lëe erwe besit in Vanderbijlpark…mense het geld jong.

John ·

Wat mens treurig stem is die feit dat soveel mense haar steun wat toon dat misdaad steeds geduld word deur die gemeenskap en nie wil besef dat hulself indirek benadeel word deur die misdrywers nie. Indien dienste nie gelewer word nie, beland al wat voorkom op die brandstapel, maar die stadsbesture bly ongeskonde. Miskien het diè dame talente wat ons nog nie waargeneem het nie.

marous ·

Afdank , goue handdrukke , soentjies , nagwaak . Geen gevolge .

@marous ·

En ontplooi dan êrens anders. Jy het vergeet van daai laaste stap.

Wielspore ·

Politieke speelbal ten koste van Durban se belasting betalers, dit gaan oor mag van een persoon.
Totsiens mamma, sorteer ou lewe uit!

Alida ·

SA kan vergeet om te herstel solank hierdie skelms vry los loop. Sluit hulle toe en stel bekwame mense aan ongeag kleur of vir watter party hulle staan. Gewone burgers gaan tronk toe vir bedrog. Wat maak hulle anders? CR moet wakker word.

Gemaskerde Sopbeen ·

Het sy die R50K borgtog betaal met haar share van die R208 miljoen?

Leser ·

Weet sy ooit wat sy doen?
Dalk weet sy nie die verskil tussen rand sent honderde en miljoene nie?

Cherokee ·

Ek het al voorheen in ‘n kommentaar daarna verwys dat die media dikwels van die 1994 verkiesing vertel deur dit Suid Afrika se eerste demokratiese verkiesing te noem. En dan gevra watse bestel ons voor dit gehad het. ‘n Polisiestaat was dit beslis nie. Dit was nie kommunisties nie en dit was ook nie werklik outokraties nie, want ons het gestem en beywer vir onafhanklike state. Niemand het ‘n antwoord gewaag op my vraag nie.

ne ·

@Magda – jy is 1000% korrek. ANC moet wakker skrik! voordat dit heeltemal te laat is.

Skoolgeld ·

Spesialeverlof!! Dit wil sê jy kry steeds jou ” pay ” terwyl jy sit en bolle rol in die gerief van ñ vakansie bankie, lui lekker né ? En ek en jy betaal daarvoor moet dit ook nie vergeet nie, ok?

Johan ·

Sy is in die pad gesteek….maar seker met volle pension….sy moet tronk toe….kom aan Gerrie Nel …..kom ons privaat vervolg haar…sy gaan wegkom met die spul ….

Gert van Wierdapark ·

Reel asb net vir Outsurance punt-manne vir die okkasie om verkeers-opeenhopings te voorkom!!! He-he-he!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.