ANC, DA behou setels in tussenverkiesings

Kiesers het Woensdag hul kruisie getrek in vier tussenverkiesings in drie provinsies. Argieffoto: Morné van Rooyen

Die ANC en die DA het hul setels in tussenverkiesings in KwaZulu-Natal, Limpopo en die Wes-Kaap behou, het die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) Donderdag bekend gemaak.

Die ANC se kandidate het geseëvier in Limpopo se Greater Letaba-munisipaliteit (Duiwelskloof), in die Ray Nkonyeni-munisipaliteit (Port Shepstone) in KwaZulu-Natal en in die Knysna-munisipaliteit in die Wes-Kaap.

Die DA het wyk 3 in die Breedevallei-munisipaliteit (Worcester) in dieselfde provinsie behou toe sy kandidaat, Luwellyn Gregory Willemse,  die pyp met 52,16% van die stemme gerook het.

Altesaam 12 kandidate van ses politieke partye en een onafhanklike kandidaat het aan Woensdag se tussenverkiesings deelgeneem, berig African News Agency.

Die ANC in KwaZulu-Natal het die party se oorwinning in die Ray Nkonyeni-munisipaliteit verwelkom. “In vennootskap met ons gemeenskappe sal die ANC toesien dat ons verkose raadslede gereeld vergaderings met inwoners hou,” het die party in ʼn verklaring gesê.

“Die ANC het dit weer eens onder sy raadslede se aandag gebring dat kommunikasie ʼn belangrike werktuig is om te verseker dat die regte soort diens aan die regte soort gemeenskap gelewer word.”

In al vier gevalle het setels in die plaaslike rade vakant geraak nadat die dienende raadslede dood is.

In die verkiesing in KwaZulu-Natal het die ANC se steun afgeneem van 97% tot 88% en in Limpopo van 76% tot 66%. Die DA het sy steun in die Wes-Kaapse verkiesing egter opgestoot van 49% tot 52% en die ANC syne in Knysna van 68% tot 85%.

In al vier gevalle het minder kiesers gestem as in die munisipale verkiesing van 2016. Die stemsyfer het gewissel van 46,24% tot 53,7%, vergeleke met tussen 54,38% en 65,33% in die munisipale verkiesing van 2016.

Woensdag se tussenverkiesings het presies drie weke ná die vorige ronde van vier tussenverkiesings op 3 Oktober gevolg, toe kiesers stembus toe is in KwaZulu-Natal en Mpumalanga.

Toe het die DA ʼn setel in eThekwini aan die ANC afgestaan, maar sy setel in Umhlathuze (Richardsbaai) behou, nes die IVP in ʼn tussenverkiesing in Mthonjaneni (Melmoth) en die ANC in Steve Tshwete (Middelburg, Mpumalanga).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

nico k ·

EP, jy moet onthou munisipale verkiesings vind plaas volgens buurte. So dit hang af wie is die meerderheid in daardie buurt.

Ellisras ·

Nou is ek so deurmekaar. Wat het in Limpopo gebeur. Die berig is soos stippel lyne. Hier en daar iets. En op die einde so deurmekaar

Frik Lotz ·

Wie stem nog vir die DA? Hoe kan mense vir n party stem wat minderhede se belange en regte ignoreer? Die DA verskil nie veel van die ANC nie en minderheidsgroepe soos die Afrikaner vermors hul stem deur DA te stem.

pieter ·

Wel Da het bewys hul kan regeer die weskaap is pragtig hoe lekke om da te kuier geen slaggate,alle robote werk,alle straatligte werk ,skoon omgewing,verkeers personeel gaaf en op hul poste ,da geen bome en bosse wat in paaie groei nie en so kan ons aangaan maar kan ons diselfde van ander provinsies se

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.