ANC, DA en Land Party wen in tussenverkiesings

(Argieffoto: Henk Kruger/ANA)

Die ANC het landwyd 17 wyke in vandeesweek se 24 munisipale tussenverkiesings gewen, die DA ses en die Land Party, ʼn plaaslike party van Hermanus wat grondbesettings voorstaan, een wyk.

Geen ander party het juis naby aan ʼn oorwinning gekom nie, hoewel ʼn onafhanklike kandidaat amper amok gemaak het op Groblershoop in die Noord-Kaap en die VF Plus stewig van ʼn lae basis aan die Oos-Rand en die Bluff in Durban gegroei het.

In die proses het die Land Party een wyk by die ANC afgeneem in Hermanus en die ANC het twee wyke by die DA afgeneem in Oudtshoorn. Die ANC het ook drie wyke afgeneem by die Bosbokrand-inwonersvereniging. Die ander 18 wyke word steeds deur dieselfde partye as tevore beheer, hoewel daar duidelik stroomveranderinge is in die aanloop tot aanstaande jaar se plaaslike regeringsverkiesings.

Die wyk wat die Land Party by die ANC afgeneem het, is Overstrand wyk 12. Dit vorm deel van die Zwelihle-township by Hermanus. ANC-steun hier het geval van 90% in 2016 tot 43% vandeesweek. Die Land Party het 844 stemme gekry, die ANC 546, die DA 68 en die EFF 45.

Die ANC het egter twee wyke in die stadsraad van Oudtshoorn by die DA afgeneem. Dit is wyk 5 in Bridgton en wyk 10 in Dysselsdorp. In wyk 5 het Naomi Jonkers (ANC) 490 stemme gekry, die DA 379, ʼn onafhanklike kandidaat het 221 stemme gekry, Good 193 en nog twee onafhanklikes het onderskeidelik 122 en 32 stemme gekry.

DA se vertoning in Wes-Kaap

In wyk 10 het die DA van die eerste na die derde plek teruggesak. Die ANC het 671 stemme gekry, Good 427, die DA 333, ʼn onafhanklike kandidaat 127 en die EFF 50 stemme.

Die DA het Oudtshoorn wyk 4 (dele van Bridgton en Bongolethu) net-net behou toe Fielies September (DA) 505 stemme gekry het teen 491 vir die ANC, 177 vir ʼn onafhanklike kandidaat, 66 vir Good, 12 vir die EFF en 11 vir nog ʼn onafhanklike.

Elders op die Wes-Kaapse platteland het die DA in Langeberg wyk 9 (Ashton) met 19% verswak hoewel die DA-kandidaat, Sonja Beginsel, steeds gewen het. Sy het 705 stemme gekry teen 511 vir die ANC, 193 vir Cope, 185 vir Icosa, 59 vir ʼn onafhanklike kandidaat en 31 vir die EFF.

Hoewel die party ver gewen het, sal die helderste gevaarligte vir DA-lede flikker uit die uitslag in Kaapstad wyk 115 (Walmer Estate, Soutrivier, Woodstock, Distrik Ses, middestad, Laer Tamboerskloof, Waterfront, Groenpunt en Mouillepunt).

Dat die DA in hierdie hartland van die party, met ʼn bekende plaaslike sakeman soos Ian McMahon as kandidaat, net 11,7% van die kieserskorps kon oortuig om hul kruisies te trek, dui op tanende geesdrif vir die party in sy heimat en verteenwoordig een van die swakste stempersentasies in ʼn munisipale tussenverkiesing die afgelope 25 jaar.

McMahon het wel 1 623 stemme gekry teen 137 vir Al Jamaah, 98 vir Good, 46 vir die EFF, 35 vir die ANC en 33 vir die Democratic Independent Party. Vergelyk dit met die 9 359 stemme wat McMahon se DA-voorganger, Dave Bryant, in 2016 hier gekry het en die DA se probleem is voor die hand liggend.

Maar, as die DA se uitslag in wyk 115 sleg is, is die ANC s’n beskamend. Walmer Estate en Soutrivier is veronderstel om van die ANC se sterkste gebiede in die stadskom te wees en verlede jaar het die party die middestad se stempunt gewen. Hierdie keer was die ANC vyfde en vir die party kan dit as rampspoedig bestempel word.

Die DA se beste oorwinning van die dag was in Durban wyk 66 (die Bluff, wat by sommige Afrikaanssprekendes bekend staan as Die Bult). Zoe Solomon (DA) het 3 897 stemme gekry teenoor 427 vir die VF Plus, 198 vir die ANC, 32 vir die EFF en 23 vir Inkatha.

Opvallend in daardie wyk is die sterk groei van die VF Plus, wat ʼn klomp partylede met bakkies uit Noordwes ingebring het vir ʼn veldtog in ʼn gebied waar die KP in die vorige bedeling ʼn faktor was.

Só lyk Oos-Rand

Die ander twee DA-oorwinnings was in aanliggende wyke aan die Oos-Rand, albei in Benoni as deel van die Ekurhuleni-metro.

Wyk 27 (Rynfield en Northmead) is vir die DA ingepalm deur Lornette Joseph met 3 049 stemme teen 834 vir die VF Plus, 142 vir ʼn onafhanklike kandidaat, 72 vir die ANC en nege stemme vir die EFF.

Langsaan, in wyk 28 (Farrarmere), het Mary Goby van die DA 2 715 stemme gekry teen 431 vir die VF Plus, 193 vir ʼn onafhanklike, 98 vir die ANC en 12 vir die EFF.

Die twee onafhanklikes is albei voormalige DA-raadslede wat hulself tot ondersteuners van die voormalige Johannesburgse burgemeester, Herman Mashaba, verklaar het. Vir Mashaba en sy ondersteuners sal dit ʼn skokkende uitslag wees, terwyl die VF Plus hom waarskynlik kan verbly in die groei.

Elders in Ekurhuleni het die DA naby gekom daaraan om wyk 42 (die Elspark-gebied in Germiston) by die ANC af te neem. Die ANC het naamlik 1 360 stemme gekry teen die DA se 1 271, die EFF se 620 en die AIC se 100 stemme.

Gemaklike oorwinnings vir ANC

Die twee Oos-Kaapse tussenverkiesings het gemaklike oorwinnings vir die ANC opgelewer. In Raymond Mhlaba wyk 23 (gesetel in die dorpie Bedford), het die ANC 1 183 stemme gekry teen 297 en 184 onderskeidelik vir twee onafhanklike kandidate, asook 159 stemme vir die EFF.

Engcobo wyk 13 in die landelike Transkei het 1 460 ANC-stemme opgelewer en 103 stemme vir die EFF.

Twee gemaklike oorwinnings is deur die ANC in die Vrystaat behaal, hoewel die EFF ook tevrede sal wees. Dihlabeng wyk 20 (Clarens, Golden Gate en plase) is deur die ANC gewen, met 1 805 stemme teen 250 vir die EFF en 56 vir ʼn onafhanklike kandidaat, terwyl die ANC met 1 579 stemme teen 410 baas was teen die EFF in Mangaung wyk 11 (Chris Hani en Turflaagte in Bloemfontein).

Die ANC het eweneens gewen in twee plattelandse wyke in Limpopo, te wete Musina wyk 1 (tussen Tshipise en Musina, eens bekend as Messina), waar die ANC 693 stemme gekry het teen 241 vir die DA en 158 vir die EFF, asook Blouberg wyk 20 (plase oos van die Groblersbrug-grenspos) waar die ANC die EFF getroef het met 1 202 stemme teenoor 410.

In Mpumalanga het die ANC al vyf landelike wyke ingepalm. In Bosbokrand het die Bosbokrand-inwonersvereniging geen kandidaat gestel in drie wyke (16, 18 en 32) wat hy voorheen beheer het nie, met die gevolg dat ANC-kandidate in al drie wyke verkies is.

In wyk 18 het die ANC met 961 stemme teen 177 gewen teen die EFF en in wyk 32 met 1 039 stemme teen 483. In wyk 16 het die ANC 1 636 stemme gekry, die EFF 409 en die DA 232.

Die verdere twee tussenverkiesings in Mpumalanga was in die Nkomazi-munisipaliteit se wyk 5 en 15. Laasgenoemde wyk is teen die grens met Swaziland. Daar het die ANC 1 238 stemme gekry, die DA 105 en die EFF 102. In wyk 5 het die ANC 935 stemme getrek teenoor die EFF se 136 en 121 stemme vir die ATM.

Noordwes se enigste tussenverkiesing was in Ratlou wyk 10 (Mareetsane) waar die ANC 638 stemme gekry het, ʼn onafhanklike kandidaat 178 en die EFF 108 stemme.

Laastens was daar twee tussenverkiesings in die Noord-Kaap. In Thembelihle wyk 3 (Steynville by Hopetown) het die ANC 655 stemme getrek teen 441 vir die EFF, en onderskeidelik 63 stemme, 41 stemme en 29 stemme vir drie onafhanklikes.

In Groblershoop (wyk 3 van die !Kheis-munisipaliteit) het die ANC 856 stemme gekry teen 744 vir ʼn onafhanklike, 57 vir ʼn ander onafhanklike en drie stemme vir die EFF.

Die volgende stel tussenverkiesings vind op 20 Januarie plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Riaana ·

Lyk darm of mense deur EFF begin sien, daar word nie vir hulle gestem nie

Jakez ·

Hulle was maar nog altyd klein, verstaan nie hoekom hul altyd so baie media dekking kry nie.

Chris dupreez ·

Kan nie glo die mense staar hulle blind teen die anc se korrupsie en stem nog steeds vir hulle.

NEO ·

Hopenlik sal die hoof stroom media nie alles wat die EFF opdus publiseer nie. Die EFF se steun kwyn maar die media gee hulle heeltemal te veel dekking.

Fritz ·

Demokrasie is waar jy elke 4 of 5 jaar vir n spul nuwe diktators stem, ongeag in watter land jy woon. Want probeer bietjie om van n regering wat aanjaag na n jaar of twee ontslae te raak. Onmoontlik. Jy moet maar wag tot die volgende verkiesing, terwyl hulle nog lekker vir die res van hul termyn kan aanjaag. En tog glo mense in die “power to the people” feeverhaal.

pompies ·

Die DA is besig om stadig maar seker stemme te verloor, ek wonder hoekom is hulle besig uitgedien te raak?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.