ANC, DA veroordeel Lesotho-staatsgreep

Foto: Google Earth

Foto: Google Earth

Die ANC het ‘n beroep op Lesotho se weermag gedoen om sy troepe na hul barakke te laat terugkeer en die regering toe te laat om sy werksaamhede voort te sit.

“Die ANC het met kommer kennis geneem van die verwikkelinge in die koninkryk van Lesotho waar die weermag volgens berigte verskeie sleutelpunte in die land oorgeneem het,” het Zizi Kodwa, woordvoerder van die ANC, in ‘n verklaring gesê.

“Die ANC veroordeel enige poging tot magsoorname wat op ‘n ongrondwetlike wyse gedoen word.”

Kodwa het ‘n beroep gedoen op die Afrika-Unie (AU) en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) om bystand te lewer in die land.

“Die ANC doen ‘n beroep op die AU en SAOG om die verwikkelinge in Lesotho te monitor en samewerking te gee aan die mense van die land ten einde wet en orde en demokrasie in stand te hou.”

Die DA het intussen versoek dat die SAOG ‘n dringende vergadering moet hou ten einde ‘n oplossing te vind vir die situasie.

Mmusi Maimane, parlementêre leier van die DA, sê dit is Suid-Afrika se plig om ‘n oplossing vir die konflik te vind.

“Die gebeure kom na verhoogde politieke spanning in Junie vanjaar, wat daartoe gelei het dat die land se parlement ontbind is as gevolg van die koalisieregering wat in duie gestort het.”

Tom Thabane, eerste minister van Lesotho, het Saterdag bevestig dat die weermag deur middel van ʼn staatsgreep beheer oorgeneem het in sy land en dat hy na Suid-Afrika gevlug het.

Intussen het Clayson Monyela, woordvoerder vir die departement van internasionale betrekkinge, Saterdag tydens ʼn perskonferensie in Pretoria gesê die Suid-Afrikaanse regering gaan nie dadelik soldate na Lesotho stuur nie. Hy het gesê diplomasie moet ʼn kans gegun word en die situasie moet vreedsaam opgelos word.

Lees ook:
Lesotho-staatsgreep: Eerste minister het na SA gevlug
Lesotho-weermag ontken staatsgreep
Lesotho-staatsgreep: Skote klap al van vroeg af
Moontlike staatsgreep in Lesotho

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.