ANC, EFF maak vooruitgang by Gamagara-munisipaliteit ‘ongedaan’

(Foto: Facebook/Gamagara Local Municipality)

Die DA in die Noord-Kaap sê die ANC en EFF het oënskynlik nie op hulle laat wag om die vooruitgang – wat die DA se Henriette du Plessis as burgemeester van die Gamagara-munisipaliteit gemaak het – ongedaan te maak nie.

“Toe ek drie maande gelede tot burgemeester verkies is, het ek onderneem om ontslae te raak van die duur ampsvoertuig wat my voorganger gebruik het en dat die spaargeld dan aangewend sal word om twee bakkies te huur,” sê Henriette du Plessis, DA-raadslid en voormalige burgemeester van die Gamagara-munisipaliteit in Kathu.

“Een van die bakkies is in hierdie tyd aan die elektrisiteitsafdeling toegewys, terwyl die ander deur die paaie-afdeling gebruik is.

“Ek het ook die dienste van ʼn protokolmotorbestuurder en lyfwagte van die hand gewys, wat ʼn bykomende besparing vir die munisipaliteit tot gevolg gehad het,” sê Du Plessis.

“Kort nadat die onregmatige mosie van wantroue teen my op 7 Augustus ingedien is, het die onwettige ANC-burgemeester ʼn nuwe Audi gehuur waarvoor daar nie begroot is nie.”

Volgens Du Plessis het die nuwe burgemeester die protokolbestuurder opnuut aangestel. Dié staan ​​op ʼn strafregtelike aanklag tereg omdat hy glo ʼn hond met ʼn byl opgekap het.

Benewens die ampsvoertuig, het die EFF-speaker ʼn bakkie gehuur wat glo vir politieke werk misbruik is, voer Du Plessis aan.

“Die onwettige ANC-burgemeester het ook ʼn kontrakteur betaal om ʼn kleurvolle muurskildery in die munisipale kantoor te verf en die slotte in die kantoor is intussen verander.

“Die DA het verklaar dat ek nie my sleutels moet oorhandig terwyl ons vir die uitslag van regstappe – wat teen my onregmatige verwydering ingestel is – wag nie,” sê Du Plessis.

“In ʼn kort tyd het die DA die munisipaliteit op ʼn trajek van goeie bestuur en vooruitgang geplaas, maar in ʼn selfs korter tyd het die ANC en EFF die munisipaliteit terug in die grond gedryf.

“Dit is duidelik dat die ANC en EFF hul eie behoeftes en begeertes bo dié van die inwoners van Gamagara – wat om dienste pleit – plaas.”

Die DA se aansoek om Du Plessis se verwydering as burgemeester ter syde te laat stel, word op 31 Augustus aangehoor.

“Ons sal veg om in ooreenstemming met die oppergesag van die reg aan die stuur van die munisipaliteit te bly.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

De Villiers ·

Ek verstaan nie, as die mosie onregmatig is,hoekom moet die DA hof toe gaan en nie die ANC nie?

Hoekom het die DA beheer oorgegee aan die ANC?

Harley Davidson ·

Hoe laat die inwoners dit toe of hou hulle van swaarkry en ellende.

Elmarie ·

“‘n Hond met ‘n byl opgekap het”! Liewe hemel. Ek dink vullisverwydering is hier van toepassing

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.