ANC, EFF teiken Kaapstad oor behuisingsbeleid

Langa op die Kaapse Vlakte. (Foto: Tracey Adams/ANA)

Die ANC en die EFF het Vrydagaand tydens ʼn sitting van die parlementêre portefeuljekomitee oor samewerkende regering aanval na aanval geloods op Kaapstad se burgemeester, Dan Plato, oor die stad se behuisingsbeleid. Hulle moet egter uiteindelik toegee dat die beleid eintlik goed is en dat Plato omgee vir die stad se arm mense.

In ʼn deurtastende voorlegging het amptenare van Kaapstad planne voorgehou wat tans in die inwerkingstellingfase is vir bekostigbare behuising in Atlantis, Mitchells Plain, Belhar, Delft, Didovallei, Greenville, Gugulethu, Harare, Macassar, Maroela-Suid (Kraaifontein), Morkel’s Cottage en Somerset-Wes.

Byna 30 behuisingsprojekte is gereed vir tender met die drie grootstes by Symphony Way, Maroela-Noord en Sir Lowry’ Pass.

Alle oop grond wat die stad nog besit in Belhar en Athlone word tans ontwikkel, asook laekostebehuising in Langa, Gugulethu, Nyanga, Soutrivier, Woodstock en Parow.

Boonop is die Wes-Kaapse regering besig met behuisingsontwikkelings in Belhar, Conradie (Pinelands), Forest Village, Ithemba, Khayelitsha, Woodlands (Mitchells Plain), Penhill, Woodstock, Dunoon en Kosovo en is daar begin met verdere woonstel-ontwikkelings in Didovallei, Macassar, Symphony Way, Maroela, Sir Lowry’s Pass, Bonteheuwel, Elsiesrivier, Mitchells Plain, Masiphumelele en Pooke Se Bos.

Daar is ook ʼn gemengde koste-ontwikkeling aan die gang in Plattekloof in die noordelike stadsgebiede.

Ongelukkig beteken die afname van R84 miljoen in die stad se behuisingsbegroting dat van die projekte vertraag word, veral omdat instandhouding van bestaande behuising nie agterweë gelaat kan word nie. Veral die vervanging van vensterrame wat roes en die vervanging van rioolstelsels is hoog op die agenda.

Kaapstad het 464 verskillende informele nedersettings (plakkerskampe), elkeen met sy eie ekonomiese en sosiale dinamika. Dit beteken elke ontwikkelingsplan is uniek en die gevolg van onderhandelings met die gemeenskap.

Die drie grootste plakkerskampe is almal suidoos van die stad, te wete Monwabisi, Sweethomes en Enkanini.

ʼn Projek wat uniek is aan Kaapstad, is dié een vir agterplaasbewoners: Die stadsraad gee dié bewoners ʼn kraan, ʼn elektrisiteitspunt en ʼn skottel.

Tydens vraetyd het die EFF veral uitgevra oor verouderde infrastruktuur in townships.

Bheki Hadebe, ANC-LP, wat in Kaapstad woon en lank op die stadsraad gedien het, het uitgevra oor uitsettings en lang waglyste.

Hlengiwe Mkhaliphi, EFF-LP, het uitgevra oor die stadsraad se gevoel oor die hofsaak wat die stad verloor het en wat uitsettings verbied. Sy wou ook weet of Plato al in verbinding was met die man wat nakend uit sy plakkershut verwyder is en of genoeg vroue deur die stadsraad se behuisingsprojekte bemagtig word.

Aan Hadebe het Plato die syfers verskaf wat hy aangevra het en toe verduidelik dat dit juis die gebiede wat afgesonder word vir behuisingsontwikkeling wat dikwels deur grondbesetters geteiken word.

Plato het gepraat oor die ongelukkigheid in Hangberg, ʼn deel van Houtbaai – die gebied waarna in die hofuitspraak verwys is. Daar het vier grondbesetters wat nie verwyder mag word nie nou tot gevolg dat tientalle families nie huise kan kry nie.

Plato het ook uitgewys dat dit die einste Hadebe was wat hierdie week die stadsraad gekontak het om plakkers te verwyder van grond wat geoormerk is vir ontwikkeling in Khayelitsha.

Hadebe het gesê dis noodsaaklik, want duisende mense se behuisingsgeleenthede kan nie teruggehou word omdat ʼn paar mense wil plak nie.

Plato het uitgewys dat dit presies sy punt is, maar die ANC en EFF moedig juis sulke besettings aan.

Aan Mkhaliphi het hy gesê hy het reeds ʼn gesprek aangevra met die man wat naak uit sy hut verwyder is, maar hy kan hom die dwing nie en die man is nie lus vir praat nie.

Hy het ook die syfers oor vrouebemagtiging bekend gemaak, wat die riglyn ver oortref. Die vergadering het vreedsaam verdaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Adam Adriaan ·

Ja en kyk hoe lyk die plekke waar die twee partye in beheer van sake is. Die ANC/EFF moet eers voor hulle eie deur vee voordat hulle hul besems wil vat en ander se werwe wil vee

Cherokee ·

‘Die vergadering het vreedsaam verdaag’. Sou dink dat juis dit opmerklik is in nou se tyd.

Nonnie ·

Die beste van alles is, DIE ANC HET BUSVRAGTE PLAKKERS IN DIE KAAPSE METRO ELKE NAG VIR WEKE UIT DIE OOS KAAP AF GELAAI…….NOU IS HULLE BAIE KRITIES OOR DIE DA SE HANTERNG VAN BEHUISING IN DIE WESKAAP????? RERIG ??????

JohanR ·

The pot calling the kettle black. Die agt ANC provincies is in soe ‘n gemors, dan wil hulle gaan “gumboot” dans in Kaapstad waar min of meer alles werk. Se my Jan van Riebeeck kon jou ooit voorstel dat daar sal mense wees in die ou wereld met baie min breins?

Yvonne ·

Wie ry die people aan van die Transkei etc….juis met die doel glo ek, om die Kaap te ontwrig….nou huil hulle oor behuising….siek spul

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.