ANC, EFF verkla van ‘ras-aanhitsing’ oor eNCA-maskerdebakel

Lede van die ANC betoog vandeesweek buite eNCA se kantoor in Johannesburg. (Foto: ANC/Twitter)

Terwyl die Menseregtekommissie (MRK) aangekondig het hy gaan ʼn verslaggewer van eNCA se gedrag ondersoek omdat sy glo net vir swart parlementslede gevra het om hul maskers tydens TV-onderhoude na die begrotingsrede te dra, het die DA nou die ANC en die EFF vir sogenaamde rasuitlokking  by dieselfde instelling verkla.

ʼn Storm woed sedertdien oor eNCA en verslaggewer Lindsay Dentlinger se koppe oor die kwessie.

Natasha Mazzone, die DA se hoofsweep, sê ʼn video wat vroeër rondgestuur is en wat daarop sinspeel dat Dentlinger op grond van ras teen LP’s gediskrimineer het, is sedertdien ontmasker.

Sy sê die ANC het ʼn teen-rassismeveldtog en ʼn betoging, gelei deur sy adjunk-sekretaris-generaal, Jessie Duarte, gehou en Dentlinger in wese as rassis bestempel sonder dat hulle na die bewyse gekyk het. Mazzone sê die partye het spanning ook verder opgejaag deur te beweer die nuuskanaal het ʼn “geskiedenis dat hy swart mense mishandel”.

Die EFF het op sy beurt gevra vir ʼn boikot van die nuuskanaal en hom bestempel as die propaganda-arm van witmonopoliekapitaal, sê Mazzone. “Dit is ʼn narratief wat die EFF deurlopend versterk wanneer hy politieke punte probeer wen.”

Mazzone sê dit het aan die lig gekom dat sekere dele van die beeldmateriaal in die gewraakte video afkomstig is uit veel ouer onderhoude – waarvan sommige selfs vóór die Covid-19-pandemie opgeneem, of die dra van maskers verpligtend gemaak is.

Sy sê die uittreksels is selektief gebruik om te wys dat wit LP’s kwansuis nie gevra is om maskers te dra nie, maar swart LP’s wel.

“Die ANC en EFF het egter die geleentheid aangegryp en die video gebruik as ʼn manier om die rassespanning onder Suid-Afrikaners deur rasuitlokking verder uit te buit om sekere gehore op te stook.

“Dit is uiters gevaarlik, veral as die aannames sonder bewyse gemaak word.”

Mazzone sê die ANC en die EFF sweep emosies doelbewus op en speel ʼn gevaarlike speletjie, “een wat hulle al jare lank skaamteloos speel”.

“Die DA glo onomwonde dat rassisme en diskriminasie sonder vrees of guns veroordeel moet word. Die ANC en EFF se rasuitlokking het egter geen plek in Suid-Afrika se demokratiese samelewing nie.”

Sy sê politieke partye het veral ʼn plig en verantwoordelikheid om rassesamehorigheid te bevorder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Samuel ·

Waar ook al die EFF sy kop uitsteek, speel hy die raskaart! Die EFF het géén politieke beleid en die raskaart word gebruik vir politieke gewin. Die ANC speel saam, maar verwelkom dit as hulle handlangers, EFF, die werklike vuil werk doen. Dit is verkiesingsjaar en beide die EFF en die ANC moet punte wen.

Dollatjie ·

Hulle krap altyd waar dit nie jeuk nie. Terwyl Rome brand stook hulle die vuur nog hoër. Op n dag gaan hulle vir hulle vasloop.

Rentia ·

Ons weet almal die MRK is so bevooroordeeld as kan kom. Net een groep maak saak, en dis oor en oor bewys. Wat die ANC en EFF betref, ons weet almal niks sal gebeur nie, maar ‘n herrie word weereens gemaak teen ‘n verslaggewer, terwyl almal weet wat is die redes daarvoor eintlik…

Sarel ·

MRK ??? Wie is hulle nou weer….1x Joernalis ondersoek ..
Vir wat????? Met so groot grap soos die OB

daniel ·

Die EFF laat mens dink aan n miskruier wie se bal nie wil rol nie.

Cherokee ·

Hierdie moet ‘n fout wees. Erens is iets verkeerd geskryf, want die anc en eff is swart en swart mense kon tog nie rassisties wees nie? Dìt is immers ‘n wit etiket.

Chris ·

‘n Bohaai word gemaak oor rassediskriminasie, maar wanneer gaan MALema en Ramaphosa hul monde uitspoel oor Zuma wie die landswet ondermyn om voor die Zondo kommisie te getuig. Ongelukkig draai alles net om die “agtergeblewenis” gedurende die apartheidsjare wat baie beter gelewe het toe, as miljoene van hul eie mense onder hul eie regering. Ongelukkig verstaan hul nie van prioriteite nie.

jzjz05 ·

Met klein gebeurlikhede. wat gebeur probeer hulle om hul mislukings te verbloem waarvan ons elke dag hoor .

Pappa Beer ·

Die cANCer regering en die ” poep in die wind ” eff het hulle bekke altyd wyd oop om “rassisme” te skreeu, maar wat van die openlike rassisme van bbeee en affirmative action wat al 25jaar lank seevier in SA? Die enigste land in die wereld waar affirmative action toegepas word om die meerderheid te bevoordeel. En steeds na 25jaar sit ons met rekord werkloosheid syfers. Wat van blanke ondernemings wat nie covid hulp mag kry nie omdat hulle in blanke besit is? Die grootste rassiste in hierdie land is die narre wat altyd rassisme skreeu waneer hulle nie hulle sin kry nie.

Cherokee ·

Pappa Beer, jy kan gerus jou mede-kommentators wat DA stem, uitkryt oor regstellende aksie wat hulle graag wil hê.

Kobus ·

En sou hy Palistina en al die lande waar mensevergrype plaasvind en ondersteun het, glo ek dat hy as held van die “bevrydingstryd” opgehemel word. Is daar nie meer belangriker sake wat aandag vereis nie?

Yvonne ·

Wat n siek spul is dit nie…dit wil voorkom asof hulle enigste doel in die lewe is om kwaad te saai , te verwoes en te versmaai.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.