ANC eis Tshwane-bestuurder se kop

Moeketsi Mosola, munisipale bestuurder van die Tshwane-metro. Die ANC dring daarop aan dat hy geskors word. Foto: ANA

Die ANC in Tshwane het ʼn dringende mosie in die stadsraad ter tafel gelê om die stadsbestuurder, Moeketsi Mosola, te skors.

Op ʼn mediakonferensie Donderdag het die ANC-raadslede Kgosi Maepa en Mapiti Matsena vir Mosola daarvan beskuldig dat hy regulasies verontagsaam het in die toekenning van ʼn R12 miljard-kontrak aan die raadgewende ingenieurs GladAfrica.

ʼn Verslag oor die skandaal sou na verwagting Donderdag aan die stad se raadslede bekend gemaak word, maar Mosola het Dinsdag ʼn versoek by die arbeidshof ingedien om die uitreiking daarvan te verhoed.

Die dringende aansoek het nog Donderdagmiddag voor die hof in Johannesburg gedien.

In sy aansoek vra die stadsbestuurder dat die ondersoek na die saak onregmatig verklaar word. Hy vra ook dat dit gestaak word.

In sy voorleggings sê Mosola hy het glad nie ʼn probleem met ʼn ondersoek na beweerde korrupsie in die GladAfrica-transaksie nie, maar hy bevraagteken die wettigheid van die proses wat die raad gekies het om te volg.

Maepa het gesê die ANC het bewyse dat Tshwane se burgemeester, Solly Msimanga, bewus was van die projek van etlike miljarde rande wat na bewering onregmatig aan die raadgewende ingenieurs toegeken is.

“Die ANC is daarvan oortuig en het bewyse dat die aanstelling van GladAfrica inderdaad onregmatig was,” het Maepa gesê. “Die ANC kan nou bevestig dat die ouditeur-generaal die geld wat betaal is, as vrugtelose en verkwistende uitgawes sal bestempel.”

Die ANC dreig om ʼn aansoek in die hooggeregshof te bring om die toekenning van die GladAfrica-tender ter syde te stel as Mismanga in gebreke bly om dit regterlik te laat hersien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

christa ·

die publiek is altyd besig om eise te stel. Ek se nie die raad tree korrek of verkeerd op nie. Ek sien net dat die publiek om elke hoek en draai iets soek om oor te verwoes en plunder. Laat die gereg sy gang gaan.

christa ·

Wel hul se waar daar n rokie is is daar n vuurtjie . As dit so is moet hy Geskors word ONS KAN REGTIG WAAR NIE MEER TOE KYK HOE DIE MENSE MET ALLES WEG KOM NIE SOLLY DIT IS JOU WERK JY MOET DIT MAAR UITSORTEER MAAR SOOS EK SE MY MAN WERK V TSHWANE DIS EEN KORUP SPUL OP DIE ANDER EN NOG ONBEVOEGDE MENSE IN POSTE OOk EN SUKKEL MET ALLES TOT MY MAN SE OORTYD DIS OM VAN TE GIL AS JY NAVRAE DOEN WEET NIEMAN NIKS.

Petro ·

Ag hoor nou hoe kekkel die spul by die ANC…… Asseblief…… Gaan sorteer VBS se gestelery uit voor julle so tekere gaan.

Alida ·

Hulle trek ons aandag af dis al. VBS se gemors gaan nerens nie. Solly sal hier uitkom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.