ANC eis Zuma moet self ontmoeting verduidelik

Oudpres. Jacob Zuma. Foto: Nic Bothma/Pool via AP

Oudpres. Jacob Zuma se turf sit al meer en sy beweegruimte raak al minder in die ANC.

Die jongste aanduiding dat sy eertydse onaantasbaarheid aan’t taan is, is dat die ANC se topamptenare hom versoek het om self te kom verduidelik wat gebeur het op die onlangse ontmoeting by die Maharani Hotel op die Durbanse strandfront waar hy met die sekretarisse-generaal van die ANC, die ANC-vroueliga en die KwaZulu-Natalse jeugliga vergader het.

Wegkomkans vir Zuma gaan min wees – net soos vóór die Zondo-kommissie, waar hy eersdaags in persoon gaan moet getuig oor sy beweerde betrokkenheid by staatskaping. Zuma het die afgelope 15 jaar dit tot ‘n fyn kuns vervolmaak om ander mense namens hom te laat baklei op belastingbetalers se koste. Wanneer hy self sy saak moes stel, soos tydens vraetyd in die parlement, was sy vertonings pateties.

Maar dis nie net vir Zuma dat die beweegruimte minder en die wegkomkans al kleiner word nie. Die sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule, se bewerings dat al vier die teenwoordiges mekaar “bloot toevallig” op die tweede vloer van die Maharani raakgeloop het, is duidelik nie sonder meer deur sy kollegas in die topstrukture van die ANC aanvaar nie.

Met intelligente mense dwarsoor die land wat dit heimlik eens is in hul vermoede dat Magashule – om dit sag te stel – bog praat, beteken die feit dat Magashule weer opnuut sy weergawe sal moet verduidelik net een ding: Die vertrouensbreuk in die ANC raak al hoe erger.

Dit – en die spektakel van Zuma wat sy bedenklike handelinge op al meer plekke self en sonder hulp moet verduidelik – is van die sterkste aanduidings dat die ANC só kwesbaar is as nog nooit tevore in ons land se demokrasie nie, en dat die koring groen staan op die land as die opposisie net eensgesind wil saamwerk in aanstaande jaar se verkiesing.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Anton Hugo ·

Fopnuus. As hy se hulle het byeengekom vir ‘n dop en tjop, wie gaan die teendeel bewys.
Alle oe op plaasmoorde asseblief.
Dis meer realisties as al die ondersoeke wat op niks uitloop.
ns. ouens, tyd om kommentaar te lewer onder jou eie naam. Dae van wegskram en laagle is verby. Staan op, neem standpunt in, en hou daarby.
Maak jou stem dik, of duk is ook ok. Maar laat hoor van jou persoonlik.

John ·

Kakebeenwa, maar die oom lyk sleg-bedroef oor al die denge in die land waarvan hy niks kennis dra nie. Wanneer het dit alles gebeur? Toe hy in Rusland was of in Dubai aan die visvangkompetisie deel geneem het en met daai grote die groot geld gewen het waaroor almal nou so mor en knor. Kan hy help as hy ‘n slag met groot visse het… die’ wat gelukkig betyds weggekom het, kla dan nie.

Cherokee ·

Die belangrikste vraag is wie die (meeste) wins gaan skep uit die ANC se verlies. EFF of DA.

Sarel ·

Beslis die EFF, die DA het sy ware kleure gewys met sy 80/20 verteenwoordiging op alle vlakke. DA is maar net n ANC Light.
Blankes moet maar besef dat ons altyd die minderheid gaan wees en moet maar vir ons eie mense stem met die vertroue dat ons sterk genoeg sal wees om die “Koningmaker” in n koalisie sal wees. Dit is moontlik indien ons net almal gaan stem.

AJ ·

Zuma is in sy wese ‘n misdadiger … hy was dit ALTYD en sal dit ALTYD wees!

Soos ‘n psigopaat!

Ja Nee ·

Stem saam AJ. Zuma het geen liefde vir die waarheid hy funksioneer in die leun en korrupsie is sy maatstaf.

S.A. Burger ·

Dan wonder ones waar die swak dissipline en disrespek in ons skole vandaan kom.

Johanna Botha ·

Hy sal verduidelik ….maar dit sal onsamehangend wees en niks of niemand sal die klou by die oor kan uitkry nie … .en natuurlik sal iemand anders weer die skuld kry soos arme ou Jan v Riebeeck

jeanj ·

Kom ons hoop die water het al begin kook waarin die padda sit….

Hansie Slim ·

Die twee, Ace Zuma of is dit Jacob Magashule is so in mekaar gekruip, jy sien net die helfte van die een en die ander…
As die ANC nie versigtig is nie, gaan die twee hulle nog baie skade berokken..en ‘n split veroorsaak!!

possie ·

mag al die duiwels wat jou en die anc ry, jou bloots kom ry ou zuma. mag jy kry wat julle toekom. wraak, hebsug “vergelding” eiewaan om n paar te noem.

Elize ·

Ek hoop regtig nie hulle gaan vir hom syfers gee om te lees nie!

christa ·

dit is die man wat aan die regering op gedis is vir ‘n president. Sy eie mense soek hom nie maar vir die hele SA was hy goed genoeg.

marous ·

Hy het sy mandaat om toe te laat dat die land deur sy kamerdade bankrot geplunder word baie deeglik uitgevoer . Komissies en howe is deel van die beplanning van ‘n bieg komissie sonder enige gevolge . Alles rookskerms waarin die land se massas elke dag verstik .

alida ·

Hoeveel tyd het Regter Zondo want Xno1 het baie tyd om te oo en te aa. Hy antwoord mos nie ‘n vraag deur eenvoudig ja of nee te se nie. Ou trick !!!speel vir tyd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.