ANC en EFF verskil oor grondkwessie

Argieffoto

Op dieselfde dag dat die Nasionale Vergadering gestem het ten gunste van die verandering van die Grondwet om onteiening sonder vergoeding te vergemaklik, het die ANC en die EFF se samewerking oor die kwessie uitgerafel, en lyk ‘n wysiging van die Grondwet wiskundig onwaarskynlik.

Die Nasionale Vergadering het die voorstel van die grondwetlikehersieningskomitee om die Grondwet te wysig, aanvaar met 209 stemme teen 91, en die ANC gaan Donderdag met ‘n parlementêre mosie aandui hoe hy die proses verder wil neem.

Dis egter net mooi hier waar ‘n wysiging aan die Grondwet kan skipbreuk ly, want met die DA, IVP, VF Plus, ACDP en Cope heeltemal teen ‘n wysiging van die Grondwet gekant, sal die ANC nie die Grondwet kan wysig sonder EFF-steun nie – die hoeveelheid stemme daarvoor is te min, selfs al het hulle die steun van die UDM, NFP, PAC, AIC en APC, soos dit tans lyk..

Dit was die rede waarom leidende politieke waarnemers vandag baie gefokus was op die toespraak van Vincent Smith, ANC-LP, oor die ANC se toekomsvisie wat grondhervorming en ‘n wysiging van die Grondwet betref.

Smith het dit in sy toespraak duidelik gemaak dat die ANC ten gunste is van ‘n gemengde stelsel van grondbesit waarvolgens grond in private besit, staatsbesit en kommunale besit kan wees.

Hy het dit ook duidelik gemaak dat die ANC se beleid nie is om wit mense vir grondonteiening te teiken nie.

“Die enigste manier waarop ons die Grondwet wil verander, is om dit wat nog altyd implisiet was – naamlik dat dit moontlik is om ‘n nulwaarde toe te ken aan vergoeding wat by onteiening betaal moet word – eksplisiet en duidelik te stel,” het Smith in sy parlementêre toespraak gesê.

By ‘n nuuskonferensie direk ná die parlementêre debat het die EFF-leier, Julius Malema, gesê Smith se toespraak was belangrik en dat die EFF nie met die ANC sal saamwerk as dit die ANC se voorstel is nie. “Die EFF se standpunt was nog altyd duidelik: die staat moet beheer neem oor die toewysing van grond. Dit is vir die EFF ononderhandelbaar. Die ANC-beleid is ‘n rondvallery wat nie op sterk beleid gegrondves is nie.

“Daar is geen onderhandeling hieroor tussen die EFF en die ANC nie. Die EFF sal ook nie stem vir enigiets behalwe ons eie beleid nie. Daar is diegene in die EFF wat met die ANC wil onderhandel hieroor, maar hulle sal maar eers van my as leier moet ontslae raak. Solank ek leier is, sal die EFF nie stem vir die ANC-beleid van ‘n gemengde stelsel nie,” het Malema gesê.

Die parlementêre debat oor die kwessie was vurig en interessant. Dit is ingelui deur die ANC-LP Stanford Maila, wat veral die VF Plus en AfriForum aangeval het, en ontken het dat skriftelike voorleggings aan die komitee geïgnoreer is.

“Die landsburgers soek hul grond! Gee aan hulle wat hulle wil hê!”, het hy uitgeroep.

Thandeka Mbabama, DA-LP, het gesê dis onnodig om die Grondwet te verander. Die regering moet eerder verander word sodat grondhervorming behoorlik bestuur kan word. “Die DA is ten gunste daarvan dat mense grondeienaars word, nie huurders nie,” het sy verklaar.

Volgens Mbabama het die ANC en EFF in hul haas om hul voorkeur deur te voer, verskeie prosedurele foute gemaak. Sy het gesê die DA beskou die hele proses as ‘n klug, soos geopenbaar deur pres. Cyril Ramaphosa se middernagtelike uitsending oor die aangeleentheid terwyl openbare voorleggings nog aan die gang was – wat die DA as voortydig beskou.

Volgens haar is die ANC besig met ‘n swak rookskerm om hul korrupsie en onbeholpenheid rakende grondhervorming te probeer wegsteek.

In sy toespraak het Malema krediet opgeëis vir die EFF as aanvoerder van die proses. Hoewel hy toegegee het dat die meeste voorleggings teen ‘n grondwetwysiging was, het hy gesê dit is nie ‘n referendum nie, en dat die mondelinge openbare voorleggings 90% ten gunste van ‘n grondwetwysiging was.

Hoofman Elphas Buthelezi, IVP-LP, het teen ‘n grondwetwysiging te velde getrek en dit as ‘n rookskerm vir staatskaping bestempel. Volgens hom is die ANC ‘n mislukte regering wat nie gesteun kan word nie en vorm die ANC en EFF ‘n onheilige alliansie.

Die NFP het ‘n grondwetwysiging gesteun en AfriForum as rassisties uitgekryt.

Mncedisi Filtane, UDM-LP het van pure opgewondenheid begin sing toe hy die grondwetwysiging steun.

Dr. Corne Mulder van die VF Plus het gesê die Grondwet word ondermyn en 630 000 geskrewe voorleggings word in die wind geslaan. Prosedurele foute word gemaak en die ANC is soos ‘n dronkie wat oor ‘n kruiwa struikel. “Die belastingbetaler se geld is gemors en die verslag van die grondwetlikehersieningskomitee is nie die papier werd waarop dit geskryf is nie.” het Mulder gesê.

Die Cope-LP Deidre Carter het aangevoer die Grondwet is voldoende en die ANC probeer net hul mislukkings toesmeer.

Volgens die ACDP-leier, eerw. Kenneth Meshoe, gaan die voorgestelde wysiging van die Grondwet beide teen die Bybel en die regstaat.

Namens die DA het dr. Annelie Lotriet gesê dis onbehoorlik om te torring aan die handves van menseregte in die Grondwet, en sal die DA nooit ‘n wysiging steun aan hierdie bolwerk tussen die individu en onbehoorlike, arbitrêre magsmisbruik deur die staat nie.

Die AIC het hul kommer uitgespreek dat Suid-Afrika op die pad van Zimbabwe kan beland, maar gesê hul steun die wysiging van die Grondwet in die geloof dat lesse geleer is.

Namens die APC het hul LP Themba Godi gesê die wysiging van die Grondwet is die eerste stap om die vergrype van die verlede reg te stel.

Die DA se adv. Glynnis Breytenbach het gesê die hele proses was net ‘n stemwerwery deur die EFF in die aanloop tot die verkiesing. Sy het uitgewys dat die DA in die Wes-Kaap ses keer meer suksesvol is as die nasionale regering wat grondhervorming betref, en het bygevoeg om te veel mag aan die regering te gee, sal neerkom op diefstal van grond.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

lewies ·

“Two wongs dont make a right” wat ‘n gemors!! mamon is nou besig om tot ons intelek ook te vernietig.

Kasper ·

Shame, enige iemand wat glo hulle gaan nie kom vir alle grond en eiendom nie, kan net sowel glo die maan is van kaas gemaak. Kommunisme en chaos is ons voorland, Gee net tyd, en sien hoe die stert (EFF) die hond (ANC) swaai.

wonder net ·

van watterintelek praat ons, dis iets wat grotendeels in die parlement en anc ontbreek.
hulle probeer maar net die stemme van die stemvee behou met belofte van grond totdat die ekonomie verwoes is en almal niks het en net die sg leiers hulself verryk. Dis wat hulle verstaan en wil he, Hoofman het res het nie.

Tinus ·

Ononderhandelbaar. Wat ‘n pragtige woord.
Dis mos ‘n woord wat toentertyd ook baie rondgegooi is, so tesame met “wigte en teenwigte”. En op die einde was alles toe onderhandelbaar.
So indien die EFF se grootkoppe ook genoeg geld agteraf kry, sal hulle ook vir enigiets onderhandel.

Basjan ·

Nou praat jy ou Tinus, nou praat jy! Dis ‘n baie waar ding wat jy hier aanroer.

Blaarman ·

Smoke and mirrors.

Moet asb nie naïef wees nie, Jan-Jan.

Al ·

Dank die Heer, as die ANC en EFF verskil van mekaar gaan die hele proses in ñ flater omskep word.
Die ANC en EFF moet die leuse: Be careful what you wish for’ ernstig opneem. Wanneer aan die Grondwet gepeuter word kan hulself en hul erfgename later self slagoffers word van grondonteiening.
Hul sal nie verewig in die parlement sit om hul belange te beskerm nie.

Staak saam ·

En dit is waar dit interesant raak, die ANC wen geweldig steun met die grond diefstal, om aan te hou steun wen sal die ANC moet aflewer, miskien soebat hulle binne kort by die publiek vir n 2/3 meerxerheid steun om alleen voort te gaan.
My geld is egter dat die skaal nou weer na die EFF se kant toe sal val, indien Malema nie voor die verkiesing uit sy stoel gelig word nie, as dit nie gebeur nie dan sal die ANC maar die knieg moet buig en rampella by Malema.
Hier kom n kompromie en ons gaan betaal.

Janneman ·

Afrika leer wragtig niks uit die geskiedenis nie.

Wanneer hongesnood instree en hulle kinders met boeppense en lee oe rondloop sal hulle white monopoly capital blameer, dis om van siek te word!

Anoniem ·

Ek gee nie om wat wiskundig bewys of nie bewys kan word nie. Die bespreking was met ‘n meerderheid gewen. So sal ook die verandering van die grondwet gewen word. Die huidige gemors wat in die land aangaan was al sedert die sestigerjare voorspel en probeer verhoed. Dit is Afrika wat in beheer is en regeer.

MALEMMER ·

MAKLIK — WIE IS AAN BEWIND? DIE EFF MET SY 6% STEUN??? HOE KAN HULLE DIE HOND SO RONDSWAAI?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.