ANC gaan voort met mosie van wantroue

Pres. Jacob Zuma en adjunkpres. Cyril Ramaphosa. Argieffoto: Elmond Jiyane/GCIS

Paul Mashatile, tesourier-generaal van die ANC, het Woensdag ʼn spesiale vergadering van die ANC se parlementêre koukus toegespreek ná die nasionale uitvoerende komitee (NUK) van die ANC Maandag besluit het om Jacob Zuma te herroep.

Jackson Mthembu, ANC-hoofsweep, het gesê indien pres. Zuma nie teen die einde van vandag bedank nie, sal die koukus ten gunste van ʼn gewysigde mosie, om hom te verwyder, stem. Dit vind plaas kragtens artikel 102(2) van die Grondwet om die NUK se besluit uit te voer.

Die nasionale vergadering se programmekomitee het Woensdagmiddag beslis dat ʼn mosie van wantroue vir Donderdag, 15 Februarie 2018, om 14:00 in die nasionale vergadering geskeduleer word.

Die komitee het ook beslis dat, hangende die beskikbaarheid van die hoofregter of sy genomineerde, sal die nuwe president van die Republiek van Suid-Afrika Vrydagoggend, 16 Februarie 2018, aangewys word. Die ANC ondersteun die voorstel dat sy president, Cyril Ramaphosa, as president van die republiek aangewys word, het Mthembu bygevoeg.

Die ANC ondersteun ook die voorstel dat die nuwe president die staatsrede Vrydagaand om 19:00 tydens ʼn gesamentlike sitting sal lewer, aldus Mthembu.

Die Demokratiese Alliansie het intussen die besluit van die ANC, om die opposisie se mosie van wantroue te ondersteun, verwelkom. “Die besluit bevestig die siening van die opposisiepartye dat Zuma uit die parlement verwyder moet word as die enigste grondwetlike liggaam wat die mag het om presidente aan te wys en af te dank,” het Mmusi Maimane, leier van die DA, gesê.

“Dit sal Donderdag die negende mosie van wantroue teen Zuma wees en die eerste wat die hele ANC ondersteun.”

Volgens Maimane is die verwydering van Zuma die eerste stap en dit moet dadelik opgevolg word met vervolging op kriminele aanklagte.

Die VF Plus het ook die besluit verwelkom. “Die onbeholpe manier waarop die ANC in die laaste weke opgetree het, dien as bewys dat die ANC-regering nie bevoeg is om krisisse te bestuur of die land te regeer nie,” het Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, gesê.

“ʼn Verdere bewys van die ANC se onbeholpenheid is die krisisbestuur wat nou toegepas word deur te probeer om Vrydag reeds die staatsrede te hou indien ʼn nuwe president môre verkies word. Dit blyk voorts dat net een dag afgestaan gaan word aan ʼn debat oor die staatsrede. Voorheen is twee dae daaraan afgestaan wat beteken die opposisiepartye word direk benadeel.”

Groenewald meen Suid-Afrika kon reeds ʼn nuwe president in plek gehad het indien die ANC nie besluit het om die vergadering van sy nasionale uitvoerende komitee (NUK) verlede Woensdag te kanselleer nie.

Die VF Plus sal die mosie van wantroue teen pres. Zuma steun.

Zuma het Woensdagmiddag tydens ʼn onderhoud met die SAUK gesê hy sal nie bedank nie en hou vol hy het niks verkeerd gedoen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Alida ·

Daai slange gaan hom almal steun dan lag hy weereens vir ons almal.

JaNee ·

Stem heeltemal saam Frikkie. CR gaan die ANC se ‘revolusie’ net sterker steun. Donker wolke bly

Sous trein ·

Dis verstaanbaar. Wat het hulle verwag? Sous treindrywer gaan net af klim? Maar dis ook goed in die sin dat die regerende party net verder verdeel. Vir die ANC se nadeel is groter verdeling nie goed nie. Gaan oorlewing en verkiesing kos.

Matewis ·

Die enigste werklike gevolgtrekking wat ‘n mens uit die hele affere kan maak is dat Cyril Ramaphosa hoegenaamd nie te vertroue is nie. En ek dink hy gaan nog kwaai bygekom word – o.m. deur die Zoeloes in die ANC!

Zuma het bedank ·

Wel, die dag gaan nou nooit gebeur nie. Dis nie meer nodig nie. Zuma het bedank!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.