ANC gedwing om Afrikaans, Khoi en Santale as inheems te erken

Argieffoto (Foto: Maroela Media)

In ‘n historiese oorwinning vir die beskerming en bevordering van Suid-Afrika se kulturele- en taaldiversiteit – en vir die sprekers van Afrikaans sowel as Khoi- en Santale in besonder – het meer as ‘n jaar van harde werk deur die Demokratiese Alliansie daarin geslaag om die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, se departement te dwing om te erken dat hierdie tale inderdaad inheems aan Suid-Afrika is.

“Die bevestiging dat die DA die heeltyd reg was met ons veldtog om die nasionale ANC-regering te dwing om die inheemse status van Afrikaans, Khoi- en Santale te erken het gekom in die vorm van ‘n regsmening wat Nzimande op 11 Oktober 2021 ingewin het,” sê Leon Schreiber, die DA se kiesafdelingshoof in Stellenbosch.

“Nzimande se kantoor het uiteindelik die regsmening met ons gedeel nadat die DA gister ‘n appèl in terme van die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) ingedien het, ná Nzimande se vroeëre weiering van ons oorspronklike versoek van 16 Januarie 2022.

Die dokument noem uitdruklik dat ‘die versoek vir die mening gekom het ná vrae wat geopper is deur dr. L.A. Schreiber (DA-LP)’ aan Nzimande.”

Dit beveel verder aan dat Nzimande die Taalbeleidsraamwerk vir Hoër Onderwysinstellings, wat op 1 Januarie 2022 in werking getree het, moet wysig om die inheemse status van hierdie tale te erken.

“Nadat die regsmening ʼn oorsig bied van die relevante wetlike presedente – en soos die DA nog die heeltyd aanvoer – bevestig die dokument dat ‘dit duidelik is dat die Grondwetlike Hof Afrikaans as ʼn Afrikataal erken wat inheems is aan Suid-Afrika’. Die regsmening bevestig verder dat ‘die uitsluiting van Afrikaans as ʼn inheemse taal in die Taalbeleid onversoenbaar is met die Grondwetlike Hof se beskouing van Afrikaans as ʼn inheemse taal.”

As gevolg van hierdie bevinding, beveel die regsmening ook dieselfde oplossing aan wat die DA reeds meer as ʼn jaar gelede aan Nzimande voorgestel het. “Ons argumenteer nog die heeltyd dat dit krities belangrik is dat voorheen benadeelde inheemse Suid-Afrika tot hul volle potensiaal ontwikkel behoort te word – maar dat hierdie strewe nie vereis dat Afrikaans, Khoi -en Santale as ‘uitheems’ geklassifiseer moet word of op ander manier afgebreek hoef te word nie. In ooreenstemming met ons posisie, beveel die regsmening aan dat waar die beleid handel oor die ontwikkeling van ander inheemse tale, dit eenvoudig verwys na daardie tale as ‘voorheen benadeelde inheemse tale’.”

Laastens waarsku hierdie regsmening, wat as gevolg van die DA se werk ingewin is, dat dit ʼn vermorsing van skaars hulpbronne sou wees vir minister Nzimande om hierdie advies te ignoreer. Die dokument maak dit duidelik dat die “gebruik van die voorgestelde term enige moontlike litigasie oor die definisie en onnodige uitgawes sal verhoed”.

Die DA moedig Nzimande en die ANC aan om nou op te hou met hul “haatlike veldtog teen hierdie inheemse tale”.

“Dit is nou tyd vir hulle om te luister na die regsadvies en dringend die Taalbeleidsraamwerk aan te pas om Afrikaans sowel as Khoi en Santale as volwaardige inheemse Afrikatale te erken, en wat ook waardig is van beskerming vir opkomende geslagte. Dit maak nie saak hoe min minister Nzimande dalk van hierdie tale hou nie, want dit is nou eenvoudig onvolhoubaar vir hom om hierdie tale steeds as ‘uitheems’ te klassifiseer ten spyte van wat sy eie regsadvies sê.”

Schreiber sê soos wat die DA oor die afgelope jaar gedoen het deur middel van parlementêre vrae, petisies, optogte en Paia-versoeke, sal die DA aanhou om onverpoosd druk toe te pas op Nzimande totdat die Beleidsraamwerk formeel aangepas is volgens hierdie regsmening.

Die implikasies van die DA se oorwinning is van historiese belang vir die toekoms van hierdie tale. Sodra die nodige wysigings aangebring is, sal Afrikaans, Khoi en Santale wetlik beskerm wees teen enige pogings om hulle te ontneem van die hulpbronne wat toegeken word om inheemse tale te beskerm en ontwikkel, insluitend aan ons universiteite.

“Hierdie oorwinning getuig ook daarvan dat die DA die enigste party is wat werklik Suid-Afrika se ryk kulturele- en taalerfenis koester, en dat ons die enigste party is wat dinge gedoen kry om jou taalregte te beskerm en bevorder.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Pieter9 ·

Mooi… Vertrou dat die Minister se raadgewers die inhoud sal verstaan; ons het mos nou al ervaring van die vermoe van die comrades se regsspan.

Martin ·

Gaan die landsburgers in SA ook nou gedwing word om ons regering se korrupsie en onvermoee te erken. Die landsburgers word tans gedwing om Eskom se onvermoee te erken.

Bertie ·

Wonder wat hierdie regsmening gekos het? Seker weer miljoene rande in die drein af? Hoe onnosel moet ‘n mens wees om ‘n regsmening in te win vir iets wat voor die hand liggend is?

annie ·

Dit is duidelik dat die hele stryd van die DA… namens… nie basies oor die erkenning van inheemse tale gaan nie maar oor die DA as party. Om na byna drie dekades lewe te kry en ‘op te staan’ vir ander tale terwyl die DA self feitlik uitsluitlik Engels in omgang besig, is effe skynheilig. Dalk druk die angs met die opkoms van die behoefte aan afskeiding eerder die DA om sy stem dik te maak in die hoop op baasskap… net ingeval…

Henri ·

Ek stry nie met jou opinie nie, maar die feit bly dat hulle dit kon regkry sonder om ‘n aggressiewe houding in te neem. ‘n Pluimpie vir hulle.

Ek wonder net hoekom die Afrikaner self so onderverdeeld is dat hulle (VF+, Afriforum/Solidariteit, FAK, ens.) nie saam kon staan vir die behoud van ons kleurvolle taal nie. Gee eerder krediet waar dit toekom, as om vinger te wys en klippe te gooi.

Daar is immers geen ander taal wat gevoel kan beskryf dat jou tone omkrul van lekkerkry nie!

Alana ·

Hierdie erkenning aan die kant van die departement van Hoër Onderwys het weinig met die behoud van Afrikaans te make. Die departemente van o.m. Basiese Onderrig en Kuns en Kultuur het nog nooit die status van Afrikaans as inheemse taal betwis nie. Dit was slegs minister Nzimande en sy departement se standpunt. Die uitsprake van die Konstitusionele Hof in taalbeleidsake van die Universiteite van die Vrystaat, Stellenbosch en Suid-Afrika het dit ook onomwonde bevestig – dink bv. aan regter Majiedt se kommentaar tydens die saak van Unisa – ‘As Afrikaans nie inheems in Suid-Afrika is nie, sê vir my, waar is dit dan?’ Die stryd om die behoud van Afrikaans het nie in 2021 begin toe dié taalbeleid aanvaar is nie, so om te dink die stryd is nou gewonne is naïef. Die DA, AfriForum, Solidaritei, FAK, SOS, ATR, Gelyke Kanse en vele ander werk al jare lank aan die behoud van die taal en gaan dit nog jare lank moet doen – soms saam, soms afsonderlik as spesialiste op elkeen se eie terrein.

Sarel ·

Die DA gebruik dan steeds feitlik net Engels of is ek verkeerd.

gatgogga ·

Die meeste DA ondersteuners is seker Engels, Sarel.
En ja, jy is verkeerd.

Anel ·

Wonder nogal hoe kan hulle ingels as inheems beskou. Dis is die eingste taal wat as uitheems hier gepraat moet word. So nou kan niemand meer vir my sê ek mag nie “that language” praat nie. Kan ook nie verstaan hoekom die ander bevolkingsgroepe hul kinders straf om ingels, wat hul 2de of3de taal is, in moet skoolgaan nie. Gee vir elje taalgroep sy eie universiteite, maar nou ja, hulle taalvaardighede sluit nie wtenskaplike termes in nie. Ai, Ai, ai.!!!

Reinald ·

Khoi en San tale is “meer” inheems as alle ander tale!

Mieke ·

ANC is arrogant genoeg om te wil dink dat sekere tale nie genoeg Suid-Afrikaans is!!

Jannie van Niekerk ·

Ek gee julle ‘n brief huistoe ou Blade en Pansattang Liegsufi is baie kwaad hieroor….

Jack ·

Die swart tale is die enigste tale wat nie inheems is aan ons land nie. Die tale is van afrika dis al.

JohanR ·

Dit moet nou die ANC krom in die krop geslaan het! Ek is ‘n trots Afrikaner. My ouers ook en hulle Ma en Pa en soe terug tot by die Voortrekkers.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.