ANC gee terugvoer oor NUK-vergadering

Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, aan die woord tydens die mediakonferensie (29 Mei 2017). Foto: Twitter via @MYANC

Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, het Maandag gesê opposisiepartye se oproepe dat pres. Jacob Zuma uit sy amp moet bedank, gaan nie werklik oor Zuma nie, maar eerder daaroor om die ANC uit die kussings te lig.

Mantashe het tydens ʼn mediakonferensie terugvoer gegee oor die vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) die afgelope naweek. Verskeie media het oor die naweek berig dat lede van die NUK ʼn mosie van wantroue teen Zuma ingestel het en aangevoer het hy moet uit sy amp as president verwyder word.

Mantashe het Maandag gesê die oproep dat Zuma uit sy amp verwyder moet word, was nie ʼn mosie van wantroue as sulks nie, maar eerder net lede van die NUK wat hul insette oor die kwessie gelewer het. “Sommige lede lewer insette en sê die president moet dit oorweeg [om uit sy amp te tree], ander sê dit sal nie vir ons werk nie en ander sê die fokus van die hele kwessie is verkeerd,” het Mantashe gesê. “Dit gaan nie oor die president se reaksie nie, maar eerder oor hoe ons as ʼn struktuur oor die saak voel.”

Hy het verwys na die mosie van wantroue teen Zuma wat vroeër in die parlement ingestel is en waaroor LP’s binnekort sal stem. Volgens Mantashe het die NUK vertroue in die ANC-LP’s, ongeag of die mosie met ʼn geheime stemproses beslis word of nie, om in lyn met die besluite van die ANC-koukus te stem.

Die UDM het in April die hof genader om te versoek dat die mosie van wantroue met ʼn geheime stemproses beslis moet word. Die UDM het aangevoer aangesien die president deur die nasionale vergadering met ʼn geheime stemproses ingestem is, moet dieselfde stemproses geld vir ʼn mosie wat hom uit sy posisie kan verwyder.

Mantashe het ANC-LP’s tydens die mediakonferensie herinner aan ʼn reël in die ANC se reëlboek wat dit duidelik stel dat dit wangedrag is wanneer ʼn ANC-LP optree namens of in samewerking met magte teen die ANC, of op enige manier wat in teenstelling is met die ANC se beleide en doelstellings.

Mantashe het ook gesê hoewel die nominasies vir ANC-presidentskandidate nog nie geopen het nie, word die ANC-strukture aangemoedig om moontlike name te bespreek en daardie name “teen die beginsels van die ANC te toets”.

Staatskaping

Oor die kwessie van staatskaping het Mantashe gesê die NUK steun die aanbeveling in Thuli Madonsela, voormalige openbare beskermer, se staatskapingverslag dat ʼn onafhanklike geregtelike kommissie van ondersoek ingestel moet word om bewerings van staatskaping te ondersoek. Mantashe het gesê die ondersoek moet poog om te bepaal in watter mate die sakesektor regeringsbesluite beïnvloed.

Mantashe het gesê die besluit is geneem te midde van ʼn “verhoogde vlak van rusteloosheid” in die ANC en die samelewing as geheel. Hy het erken daar is spanning in die drieparty-alliansie en het gesê ʼn alliansie- politieke raad sal op 4 en 5 Junie vergader om verskille tussen die onderskeie partye te bespreek.

Mantashe het gesê oproepe binne die alliansie dat Zuma moet uittree, is “deel van die breër besprekings”. Hy het gesê die NUK het die naweek saamgestem dat daar ʼn behoefte aan eenheid binne die ANC en die alliansie is.

Op ʼn vraag van een van die joernaliste het Mantashe gesê die NUK het nooit gesê oproepe dat Zuma moet uittree kom net van opposisiepartye af nie, maar sê wel dat die opposisie met hierdie oproepe poog om die ANC uit hul magsposisie te verwyder.

Brian Molefe

Mantashe het gesê die NUK meen meer moet gedoen word om goeie bestuur in staatsondernemings te bewerkstellig en het kennis geneem van goeie werk wat gedoen word om die SAUK te stabiliseer. Hy het gesê die NUK het ooreengekom die besluit om Brian Molefe weer as die uitvoerende hoof van Eskom aan te stel, moet teruggetrek word. Hy het bygevoeg daar moet nie op die howe gewag word om die besluit namens die regering te neem nie.

Opposisiepartye het kort ná Molefe se heraanstelling by Eskom gesê ʼn dringende hofaansoek sal gebring word om te verhoed dat hy na Eskom terugkeer.

Op ʼn vraag van ʼn verslaggewer of die NUK die minister van openbare ondernemings opdrag gegee het om nie die opposisiepartye se hofaansoek teen te staan nie, het Mantashe gesê daar is geen opdrag aan die minister in hierdie verband gegee nie.

“Al wat ons aan die minister gesê het, is om hierdie saak op te los voordat dit in die hof draai. Hoe die saak opgelos word, kan ons nie namens die minister bepaal nie. Die NUK sê net kom ons los die saak op en wag nie vir howe om [die minister] opdrag te gee oor wat om te doen nie. Ons moet hierdie besluit self kan neem,” het Mantashe gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Verwonder my ·

Werklik, maw die land kan tengronde gaan solank die ANC net aan bewind bly. Is dit nie selfmoord vd regerende party nie? Baie eng manier om te redeneer.

Loeis ·

Tewyl die ANC en Zuma reg is dat ons nie tevrede sal wees voor die ANC uit die kussings gelig is en met iets beters vervang is nie, kan Mantashe nie ontken dat daar ‘n magdom vingers na Zuma wys wat hom in persoon as staatshoof onwensbaar maak nie.

Intussen is die speletjie eintlik pret want Zuma verswak die ANC merkbaar. Die onlangse tussenverkiesing in Natal waar die IFP die ANC bloedneus gegee het is ‘n voorbeeld daarvan. So eintlik moet opposisiepartye en die howe keer dat Zuma te veel skade aan ons almal se sakke aanrig terwyl ons glimlag terwyl hy voortgaan om die ANC van binne te verdeel.

Pieterlewismuts ·

Hoe stiksienig kan n mens tog nie word as hy nie WIL sien nie.
Die saak van “mosie van wantroue” Is Verseker teen Mnr Z gerig en as die party in die proses val is dit seker bonus

Danie Rossouw ·

Mnr Mantashe, word wakker. Opposisie partye hoef nie eens te probeer om die ANC uit die stoel te lig nie, Zuma gaan dit self vir hulle doen. Hulle moet hom net lank genoeg laat bly (tou gee).

Martin ·

Hy is nie die president nie hy is die sous truin drywer en hoekom sal al die mense wat skep nou van hom ontlae raak.

jan van riebeeck ·

Die ANC sal die lot van die NP deel , binne tien jaar sal daar geen meer ANC wees nie

Johann Marx ·

Hierdie land het nie meer ‘n regering nie….dis net ‘n klomp oningeligte onbevoegdes wat voort strompel van een flater na die ander….en ‘n gepeupel wat met ALLES moet hof toe hardloop net om te kan oorleef. Ons het ook nie eintlik meer ‘n konstitusionele hof nie…..dis eintlik maar net ‘n appél hof!! Is dit nie pateties nie?

Johann ·

Ter wille van die ANC kaders en hul magsvergrype, ten koste van Suid Afrika. Soveel speel met woorde om hulle gatte te red het ek nog nooit gesien nie! SHAME ON YOU ANC!!!!!

Andre Jacobs ·

Mnr. Mantashe, jy was nog altyd iemand vir wie ek ‘n mate van respek gehad het. Om jou nou blind te hou vir die streke van nommer 1 en sy familie laat my respek kwyn. Indien die ANC werklik standpunr inneem en hierdie saak en nommer 1 verwyder kan meer mense geloofwaardigheid in die ANC kry, en moontlik meervstemme ook. Bewys julle het die waardigheid en integriteit om die land te regeer.

al ·

Wat rook die NUK? En is boonop paranoïes! Mantashe is in elk geval in zum-zum se sak!

Scalla ·

Kan hulle nie besef hul is nie bevoeg om die werk te doen nie, klomp Soustrein ryers.

Ouman ·

55 miljoen word gyselaar gehou deur die sogenaamde leierskorps van die ANC. Geen twyfel dat hulle almal voordeel trek uit die vergrype van Zuma en sy bende. Maar dit is seker maar die kultuur waarvoor Afrika bekend is. Geen wonder die beskaafde wereld het opgegee met Afrika nie. Kort voor lank gaan ons weer met sanksies sit maar die keer gaan dit wees as gevolg van grootskaalse geldwassery. Tragies dat dit maar weer net ‘n herhaling is van wat in Afrika gebeur na sogenaamde bevrydingsorganisasies oorgeneem het.

Streicher ·

Heeltemal korrek mnr Mantashe. Hoe vinniger hoe beter! Maak nie saak wie Zuma opvolg nie, die land sal n gemors bly so lank die ANC aan bewind is. Julle het bewys dat julle nie opgewasse is vir die taak nie.

al ·

Daarmee stem ek saam! Die ANC kan eenvoudig nie die land lei na ñ stabiele ekonomie, werkskepping en om die jeug op te hef nie.
Buitendien is hul misdadige gedrag ñ uiters swak voorbeeld vir ons jeug!

Akademi Buktu ·

Elke keer wat mnr. Mantashe sy mond oopmaak om Zuma te verdedig verloor hy net meer eie geloofwaardigheid. Sou hy mettertyd in ‘n regeringsamp aangestel word sal hy by voorbaat nie vertrou word nie.

Magda ·

Regtig – kan nie glo dat niemand wil sien waste skade zuma aanrig in SA nie – enige party kan die land regeer solank dit net nie vir eie gewin is nie.

broos ·

wat hulle nie besef nie is dat as hulle nie zuma verwyder nie, gaan hulle een van die dae nie meer aanhangers he nie wat beteken dat die anc as geheel gaan verwyder word….

SARIE VAN HEERDEN ·

Mantashe is so swaar van spraak. Kan een van die joernaliste nie maar ‘n verkorte weergawe van sy toesprake vir ons lewer nie? As ek hom op televisie sien sak my bloeddruk tot NUL en weet ek uiteindelik nie deur watter woorde hy geworstel het nie.

Johan. H. ·

Ek kannie glo hulle dink hulle kan n land suksesvol ly nie, En is meer arrogant as die ander, Gelukkig is hulle niks van my nie,,,

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.