ANC-gevegte stryd om politieke oorlewing

Die ANC se interne struwelinge duur voort. (Argieffoto)

Wat in die ANC gebeur is nie nét die ANC se sake nie – Suid-Afrikaners het die reg om te weet wat in die regerende party aan die gang is.

Prof. Dirk Kotzé, politieke ontleder verbonde aan Unisa, sê pres. Cyril Ramaphosa het net gedeeltelik ʼn punt beet as hy sê ANC-sake bly in die party.

Ramaphosa wou Donderdag nie reageer oor die verwikkelinge rondom Ace Magashule, geskorste sekretaris-generaal van die ANC, nie.

Kotzé meen Magashule se dae is getel. “Ace is gone,” sê hy.

Hy sê Magashule kan hom moontlik tot die hof wend, maar net oor die kwessie of sy skorsing prosedureel korrek was. “Die meriete kan nie na die hof geneem word nie, die prosedure wel.”

In ʼn week van hoogdrama is Magashule vandeesweek tydelik uit die party geskors omdat hy nie binne die gegewe tyd van 30 dae self opsy gestaan het nie. Ingevolge ANC-beleid moet enige partylid wat strafregtelik vervolg word, “opsy staan”.

Magashule staan tereg op verskeie aanklagte van bedrog en korrupsie wat verband hou met ʼn tender van miljoen rande vir ʼn ondersoek na asbesdakke wat tydens sy termyn as Vrystaatse premier toegeken is.

In ʼn skokwending het Magashule egter aangedui dat hy vir Ramaphosa geskors het. Volgens die ANC is dié sogenaamde skorsing van die president ongeldig.

Kotzé sê Magashule was deurlopend deel van die besluitnemingsproses van die nasionale uitvoerende komitee (NUK) en hy het kans gehad om insette te lewer oor die opsystaan-beleid en dit is nie agter sy rug of sonder sy medewete gedoen nie.

Partypolitiek word dikwels intern hanteer, maar kiesers het beslis ʼn reg om te weet wat aangaan in die party wat die land regeer, sê Kotzé.

Hy sê die stryd in die ANC is nie uniek aan die party nie, en dieselfde binnegevegte vind ook in partye soos die EFF en DA plaas.

“Binne ʼn party is daar verskillende belange, daar is ʼn hoë mate van ambisie. Daar is baie mededinging en ʼn oorgekonsentreerde versameling mense wat almal bo wil uitkom,” sê hy.

In die geval van die ANC – die regerende party – maar ook in die Wes-Kaap waar die DA in beheer van die provinsie is, is hierdie wedywering veel groter omdat daar soveel meer op die spel is, sê Kotzé.

“Dit gaan dan oor posisies van invloed wat mag ook insluit, die posisies vir besluitnemers.

“Dit is hoekom die posisies in die ANC so aanvegbaar is en hoekom daar soveel mededinging is. Natuurlik is korrupsie ʼn newe-effek hiervan. Wanneer dit ontwikkel in misbruik [van magsposisies], kom korrupsie ter sprake.”

Kotzé sê die Ramaphosa-pool van die ANC probeer die ewewig in die ANC herstel sodat dit weer gesien word as ʼn party met morele waardes en ʼn goeie naam. In die Jacob Zuma-era het die party se reputasie in die hek geduik en mense wat destyds hierby gebaat het, probeer nou steeds hul belange beskerm.

Dit sluit mense soos Magashule, Bongani Bongo en voormalige eThekwini-burgemeester Zandile Gumede in, sê hy.

“As hulle hul poste in die ANC verloor, is hulle uit die politiek; dit is die einde van hulle politieke loopbaan en in die algemeen ook die einde van hul loopbane.”

Talle politici het nie ʼn terugvalposisie nie en moet daarom klou aan hul politieke poste.

“Dis die dilemma van die moderne politiek wêreldwyd: Dit skep die idee van beroepspolitici. Dit motiveer mense weer om ʼn ander inkomste te kry en dit word korrupsie.”

“Hierdie [skorsing] is ʼn tydelike proses wat afhang van wat in ʼn hof gebeur.”

Kotzé sê Magashule verdien boonop steeds sy salaris, maar hy kan nie ʼn formele posisie in die ANC gebruik om enige invloed uit te oefen nie.

“Dit is al wat van hom weggeneem, die res is eintlik wag en sien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jakes ·

Hebsug en gierigheid bring mense tot n val. Wag totdat Magashule die blikke wurms gaan oopmaak en moenie verbaas wees as Ramaposa ook geimpliseer word nie.

Andre ·

Omrede die ANC ‘n afgod is wat menige stink ryk gemaak het sal die meerderheid swart mense tot die dood in die beweging glo want net dalk sal die ANC lotto hulle ook tref . Dit is dan die rede dat Suid Afrika vandag leef om te oorleef want hoe kan die onvermoës’n land suksevol bestuur

Chris ·

Daar is ‘n spreekwoord (kan dit nie hier noem nie) wat verwys waar iemand iets doen dan doen ander persone dit ook. Dit is nou die geval in die ANC.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.