ANC ‘hersirkuleer’ Mapisa-Nqakula in amp as speaker

Die ANC, met sy meerderheid in die parlement, het Nosiviwe Mapisa-Nqakula, voorheen minister van verdediging, as nuwe speaker benoem. (Argieffoto: GCIS)

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, wat verlede week die trekpas as minister van verdediging en militêre veterane gekry het, is die nuwe aangewese speaker van die parlement.

Thandi Modise, die vorige speaker, is verlede week deur pres. Cyril Ramaphosa as minister van verdediging en militêre veterane aangewys. Sy is Dinsdag in dié amp beëdig.

Die speaker word verkies deur ʼn meerderheid parlementslede in die nasionale vergadering. Die ANC het 230 van die 400 parlementêre setels en Mapisa-Nqakula sal na verwagting volgende week, wanneer LP’s van hul reses terugkeer, verkies word.

Die DA het die ANC se besluit om Mapisa-Nqakula te benoem gekap, na haar as “onteerde oudminister” verwys en gesê haar benoeming as kandidaat “maak ʼn bespotting van die parlement en die Grondwet”.

“Terwyl die ANC ʼn prysenswaardige weergawe van Mapisa-Nqakula se termyn in die regering probeer gee, is die werklikheid dat daar niks is om te vier nie. Sy is nie geskik om die parlement te lei nie en beskik nie oor die beginsels van verantwoordbaarheid en deursigtigheid wat nodig is om die instelling te lei nie,” sê Natasha Mazzone, die DA se hoofsweep.

“Die benoeming is net nog ʼn voorbeeld van die ANC wat ʼn onderpresterende minister hersirkuleer.”

Mazzone sê dit was veral tydens Mapisa-Nqakula se termyn as minister van verdediging dat ʼn vlaag flaters wat “aan die onwettige gegrens het”, aan die lig gekom het.

Dit sluit in bewerings dat sy ʼn vrou van Burundi, wat in ʼn romantiese verhouding met haar oorlede seun was, vanuit die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) aan boord van ʼn straler van die lugmag laat smokkel het.

Die DA sê Mapisa-Nqakula was ook aan die stuur van sake tydens lede van die ANC se omstrede reis na Zimbabwe in die strenger afsonderingstydperk, sy was in beheer toe die weermag met haar medewete Interferon, ongeregistreerde medikasie, aangekoop het en dit was sy en haar departement wat die ondersoek na die dood van Collins Khosa aan die hand van soldate opgemors het.

“Sy is ook al daarvan beskuldig dat sy danksy belastingbetalersgeld in luuksheid lewe,” sê Mazzone.

Mazzone sê daar is duidelik talle voorbeelde van hoe Mapisa-Nqakula oënskynlik haar magsposisie misbruik en etiese standaarde vir haar eie politieke en persoonlike gewin verontagsaam.

“Hoe kan die ANC iemand benoem en steun wie se geskiedenis een van minagting is van die beginsels wat die parlement probeer handhaaf en bevorder?”

Mazzone sê die DA sal nie Mapisa-Nqakula se benoeming steun nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

34 Kommentare

jongste oudste gewildste
Louis

Ek wil eintlik maar net vir Mnr Ramaphosa vra die volgende: As jy nege vriende het wat idiote is wat maak dit dit jou ? maar net die tiende idioot, so wat ek wil sê dat as jy jou met klomp onbevoegde persone as ministers omring maak dit jou eintlik onbevoeg nommer een.

annie

Onthou die spreekwoord: Hou jou vriende nà an jou bors en jou vyande nader. Die antie met die verbitterde gesigsuitdrukking het groot griewe oor iets, maar dit is nie oordat sy g’n snars weet van weermagsake nie. Sy is dalk nie deur die koning uitgenooi na daai groot partytjie nie en toe…

Harley Davidson

Daar is maar net nie hoop nie met die ANC en sy president nie ,dit is asof hulle moedswillig is en doelbewus die land verder die afgrond in wil stuur.

Stefaan

En dit is hoekom die land nêrens gaan kom nie.

Blikkies

Wat is haar kwalifikasies nou weer?…….