ANC het belang om ‘kapitalistiese stelsel te vernietig’

Betogers met ‘n SAKP-vlag tydens ‘n optog in September 1989 in Johannesburg waartydens die vrylating van die ANC se politieke gevangenes geëis is. (Foto: WALTER DHLADHLA/AFP)

“Die ANC het ʼn belang daarin om die kapitalistiese stelsel te vernietig en armoede en onstabiliteit te bevorder as ʼn agtergrond vir die skuif na sosialisme.”

Só sê dr. Anthea Jeffery, hoof van spesiale navorsing by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (IRR), in haar nuwe boek The Countdown to Socialism: The National Democratic Revolution in South Africa since 1994.

“Die doel van die boek is om te verduidelik waarom dit so sleg in Suid-Afrika gaan, waarom beleid so sleg is, waarom korrupsie so prominent is, waarom disfunksionaliteit so deurdringend is en waarom die ANC ten spyte hiervan nie daarin belangstel om te verander nie,” het Jeffery by die boek se bekendstelling gesê.

Dit is alles simptome van die ANC se oorkoepelende padkaart na ʼn sosialistiese stelsel – die sogenaamde Nasionale Demokratiese Rewolusie (NDR).

Waarom berokken dié plan die land soveel skade?

“ʼn Samelewing wat wil beweeg van kapitalisme na sosialisme kan dit nie doen in die konteks van ʼn florerende kapitalistiese stelsel nie. Indien die kapitalistiese stelsel egter verkreupel word, is die argument om na sosialisme oor te skuif soveel sterker.”

Daarom het die ANC ʼn belang daarin om die kapitalistiese stelsel te vernietig en armoede en onstabiliteit te bevorder as ʼn agtergrond vir die skuif na sosialisme.

Jeffery meen dit is noodsaaklik vir elke Suid-Afrikaner om nie net bewus te wees van dié NDR nie, maar ook te verstaan hoe dit alle ANC-beleidsbesluite onderskraag en waarom die ANC daaraan vasklou ten spyte van uiters swak sosialistiese opbrengste.

Sosialisme steeds oogmerk

Ten spyte van die ontbinding van die Sowjetunie asook die Kommunistiese Party van die Sowjetunie in 1991, spook die gees van sosialisme teenintuïtief steeds in Suid-Afrika.

Dr. Anthea Jeffery (Foto: Reint Dykema)

“Die indruk het toe geheers dat kommunisme soveel reputasieskade gely het, dat dit byna onrehabiliteerbaar was. Dit was egter nie die geval nie.”

Talle lande wêreldwyd het daarna gekyk en gesê dat dié slegte prestasierekord nie saak gemaak het nie, verduidelik Jeffery.

Hoe huldig ʼn mens dan dié mening gegewe die duidelik bespeurbare verwoesting wat die ideologie saai?

Mislukkings van sosialisme in die verlede is afgemaak as “nie regte sosialisme nie”, met sogenaamde “regte sosialisme” wat rondom menseregte sentreer.

Soos Chris Hani in 1990 reeds gesê het: “Sosialisme gaan oor behoorlike skuiling vir die haweloses. Dit gaan oor water vir diegene sonder veilige drinkwater. Dit gaan oor gesondheidsorg en ʼn lewe van waardigheid vir bejaardes. Dit gaan oor goeie onderwys vir al ons mense.”

Dit is egter nie ʼn akkurate omskrywing van sosialisme nie, meen Jeffery.

“Die werklikheid kom neer op deurdringende onderdrukking, ongekende staatsmag en -beheer, bykans 100 miljoen mense wat in die Sowjetunie gesterf het. Dit is Mao se China, Pol Pot se Kambodja, Viëtnam, Kuba en soveel meer wat nie bloot geïgnoreer kan word nie.”

Die NDR is as bloudruk ontwikkel waardeur en waarmee state hierdie sosialistiese einddoel sou kon bereik – ook op tuisbodem.

Nasionale demokratiese rewolusie

Die nasionale demokratiese rewolusie is in die 1950’s deur die Sowjetunie ontwikkel “met die oogmerk om verskeie nuutonafhanklike voormalige kolonies vanaf kapitalisme na sosialisme te lei”.

Die ANC en SAKP het hulle reeds in die 1960’s tot die aard en oogmerke van die NDR verbind.

“Op daardie punt het hulle veral gehoop dat hulle gou ná magsoorname die gewenste sosialistiese staat sou kon vestig.”

Met die einde van die sogenaamde People’s War (die titel van ʼn vorige boek van Jeffery) in 1994 is die Sowjetunie ontbind met ʼn ander internasionale orde wat tot stand gekom het.

Selfs al sou die pad na sosialisme hier ʼn lang een word, sien die ANC die NDR steeds as gewenste bloudruk wat die reguitste pad na sosialisme uitstip.

Politieke ‘prestasies’ tot dusver

Die ANC pas natuurlik reeds vir die afgelope 30 jaar die NDR toe, wat beteken bepaalde politieke vordering ís al gemaak in bevordering van die agenda. Hierdie prestasies behels hoofsaaklik die verswakking van verskeie regeringsfere met die doel om potensiële teenstand teen die NDR weg te kalwe.

“Die eerste wesende die verswakking van die parlement deur dit te vul met kaders wat aanspreeklik is teenoor die ANC-leierskap eerder as die kiesers.”

Dié verswakte parlement vervul dus nie sy aangewese oorsigrol oor die kabinet nie en is te “slaperig” om op te tree waar nodig “soos in die verlede getoon met oudpres. Jacob Zuma en meer onlangs ook deur pres. [Cyril] Ramaphosa se Phala Phala-sage”.

Die regbank is ook verswak deurdat dit “oor NDR-verwante sake altyd eerder transformasie bevorder as om die Grondwet te handhaaf”.

Ander onafhanklike instellings is volgens Jeffery ook deur kaderontplooiing verswak – een onontbeerlike instrument van die deurvoering van die NDR.

Op verskeie vlakke is die teorie én praktyk van die NDR egter in spanning met die letter én gees van die Grondwet. Hoe dan gemaak?

Dié foto van die vermoorde SAKP-leier Chris Hani is in 1991 geneem. Hy is twee jaar later doodgeskiet. (Foto: Walter Dhladhla/AFP)

Grondwet herinterpreteer

“Die ANC se oplossing hiervoor is ʼn herinterpretasie van die Grondwet ten gunste van handhawing van die NDR.”

Een groot voorbeeld hiervan is die konsep van nierassigheid wat ʼn funderende waarde van die post-1994-bedeling is, maar konstant verraai word deur goed soos raskwotas, sê Jeffery.

Verder vind herinterpretasie plaas wanneer dit kom by die sogenaamde soeke na “breë verteenwoordiging” wat in die Grondwet gestipuleer word as oogmerk vir die openbare sfeer, “maar hoegenaamd nie die staatsbeheerde entiteite of die privaatsektor nie”.

Jeffery meen breë verteenwoordiging is ook ʼn heel ander ding as die streng wiskundige kwotas wat dikwels deur die regering gehandhaaf word. So ook stipuleer die Grondwet dat SEB-verkryging nie verpligtend is nie, “selfs nie eers vir staatsorgane nie en beslis nie vir die privaatsektor nie”.

“Dié verkryging word inteendeel aanbeveel net indien dit tot voordeel van die voorheen benadeeldes toegepas word – iets wat SEB-vereistes deurlopend verontagsaam.”

Sosio-ekonomiese ‘prestasies’

Met die hulp van hierdie herinterpreteerde Grondwet het die ANC al bepaalde sosio-ekonomiese “prestasies” behaal.

“Die belangrikste hiervan is die vestiging van radikale ekonomiese transformasie (RET) wat prominensie onder Zuma, as ‘ons RET-leier’ gekry het.”

RET – die sosio-ekonomiese onderafdeling van die NDR – plaas onder meer grootskaalse beperkinge op informele of tydelike arbeid wat in praktyk bloot tot minder werksgeleenthede lei. Onder dié vaandel is diensbillikheid- en SEB-reëls ook verskerp met strenger vereistes en veel swaarder strawwe, minder verwere en groter boetes vir nienakoming.

Onder Zuma is grondeise ook heropen met 160 000 méér eise wat ingedien is terwyl die onderliggende wetgewing staande was. So ook is verskeie bilaterale investeringsverdrae “met van ons belangrikste Westerse vennote beëindig waar lande soos Rusland, Kuba en China nie op soortgelyke wyse hanteer is nie”.

Hierdeur is Hani se visie van ʼn menseregte gebaseerde sosialisme bevorder.

“Sosio-ekonomiese regte is nie net in die 1996-grondwet ingesluit nie, maar die vertikale toepassing daarvan is só deur die ANC geïnterpreteer dat dit ook die privaatsektor in sekere toepassingsfere bind.”

Op dié pad na sosialisme is die staat alleen voorsiener van alle sosio-ekonomiese behoeftes en mense al meer afhanklik van die staat gemaak “wat enorme staatsafhanklikheid geskep het”.

Pad vorentoe

Indien die ANC nie toegang tot die regering het nie, kan hy uiteraard nie die regering met dié beleid vul nie.

“Dit is nie nodig om verandering teweeg te bring deur chaos en omverwerping in die strate wanneer die ANC net uit sy magsposisie gestem kan word in die 2024-algemene verkiesing nie,” verduidelik Jeffery.

Met die ANC wat in die 2021-munisipale verkiesing 46% van nasionale steun kon wen, en talle meningspeilings wat sedertdien ʼn daling tot onder 50% in die nasionale verkiesing voorspel, is dit nie onmoontlik nie.

Dit is egter geen waarborg vir magsverlies nie, omdat die ANC maklik in koalisie met ʼn kleiner party steeds kan regeer. Selfs ʼn magsverlies in enkele provinsies kan die ANC se hegemonie op die nasionale raad van provinsies breek wat sy magsgreep op die wetgewer sal verswak.

Moontlik magsverlies is nie die ANC se enigste kopseer nie.

“Die ANC is deeglik bewus van die dreigemente tot sy huidige oorheersing én die NDR – soos sy Nasrec 2-resolusie op Strategie en Taktiek (uitgereik in Maart 2023) dit duidelik maak.”

Die sogenaamde georganiseerde teenrewolusie beoog om die ANC van binne af te disorganiseer, te verswak en uiteindelik te vernietig wat die driepartyalliansie se oorlewing bedreig.

Of hy nou mag verloor of behou, kan Suid-Afrikaners in die tussentyd verwag dat die ANC sy NDR-gebaseerde sosialistiese propagandaveldtog sal verskerp, in die beweerde beste belang van “die mense”.

“Voordat ʼn mens dié propaganda kan beveg, moet jy eers verstaan wat onderliggend daaraan staan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Althes ·

Dit is nuus. Want dit maak ander se oë oop wat nie kan verstaan wat aangaan nie, waarom die regering dom besluite keer op keer maak.
Nou meer as poit moet mense wakker word en aktief hil daaglikse bydrae doen en ook stem om dit te verhoed.
Indien ons toelaat dat ons weggekalwe word, gaan dit te laat raak.

annie ·

Sosialisme is eie aan Afrika se ideologie en denkpatroon vandaar die voorliefde en die aangryp van so ‘n denkpatroon wat nou ook vastrapplek kry in die VSA en Europa soos migrante daarheen stroom en aanpassings vra. Dié ideologie sal eerder groei as afplat want dit is nuttig vir enige idee om wyer byval te vind… Ongelukkige kiesers soek redes om jammer vir hulself en hul omstandighede te voel.

Truman Burbank ·

Die ANC is kapitalisties. Waar net sekeres verryk word. DIe SA van 60’s, en 70’s was sosialisties. Op n praktiese vlak wat vir almal gewerk het. Die hele tender sisteem is n bewys dat SA kapitalities is.

Pietertjie ·

Ek lees elders dat ons elektriese minister groot visioene het van kapitaal-projekte om weer lewe in eishkom te blaas. My pa sou gesê het die spul maak nie kop of gat uit van waarmee hulle besig is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.