ANC het die armes verlaat, sê Malema

Julius Malema, leier van die EFF, spreek die skare toe in Luka, Rustenburg (21 Julie 2015) Foto: EFF, Facebook

Julius Malema, leier van die EFF, spreek die skare toe in Luka, Rustenburg (21 Julie 2015) Foto: EFF, Facebook

Die ANC is liewer vir diere as vir mense, het Julius Malema, leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters, Dinsdag in Rustenburg in Noordwes gesê.

“Die ANC het die armes verlaat. Kinders sit op bakstene by die skool, hulle het nie stoele of tafels nie. Dink wat R250 miljoen kan doen. Hoeveel stoele dit kan koop… mense het nie komberse nie, maar een man gebruik meer as R200 miljoen om ʼn huis te bou,” het hy aan meer as 2 000 mense tydens ʼn byeenkoms in Luka naby Rustenburg gesê.

“Moenie met jou hart stem nie, dink. Stop hierdie ding dat jy aanvoer jy het vir [Nelson] Mandela gestem. Mandela is nie meer hier nie. Dit is hoekom julle nie water het nie. Hoe kan Mandela vir julle water gee? Hy is nie meer hier nie. Moenie sê hulle het vir ons vryheid baklei nie. Hulle het in ballingskap geleef, ons het vir Mandela gestem. Ons kyk nie terug nie, want ons soek ware verandering.”

Malema verwys na die meer as R200 miljoen wat vir veiligheidsopgraderings gebruik is by pres. Jacob Zuma se woning in Nkandla, KwaZulu-Natal.

Hy het gesê onderwysers, verpleërs en polisiebeamptes word nou swakker betaal as tydens apartheid. “Die ANC-regering het hierdie beroepe nutteloos gemaak. Verpleërs dien nie meer met trots nie, hulle is helfte van die tyd kwaad omdat hulle te min betaal word. Polisiebeamptes aanvaar omkoopgeld, omdat hulle niks huis toe vat nie. Daar word van hulle verwag om die gevaarlikste misdadiger in hegtenis te neem, en as hulle aan diens sterf of beseer word, dan sorg niemand vir hulle families nie. Ons blameer hulle dat hulle omkoopgeld aanvaar, maar hulle verdien nie goeie salarisse nie.”

Malema het aan die skare gesê hy probeer nie hulle stem werf nie, maar wil net die waarheid met hulle deel. “Ek soek nie julle stem nie. Ek is hier om die waarheid aan julle te vertel. Daar is iets fout, julle het ʼn keuse,” het hy gesê.

Malema het onderneem om met Kgosi Lerou Molotlegi van Bafokeng te vergader om kwessies van indiensneming by die myne te bespreek wat binne die grensgebied van die Koninklike Bafokeng-administrasie val. Ek dink Kgosi [Molotlegi] en die myn moet ʼn beleid het dat plaaslike mense van Bafokeng eerste in diens geneem moet word of besigheidsgeleenthede saam met die myne aangebied word,” het hy bygevoeg. “Ons gaan met Kgosi praat en julle probleme met hom deel.”

Dit kom ná een van die inwoners, Bella Rangwaka, gekla het dat haar kinders werkloos is, en tog is daar myne reg rondom hulle. Sy het bygevoeg veiligheidsbeamptes wat by die Koninklike Bafokeng-administrasie aangestel is, teister en arresteer inwoners wanneer hulle ongeregtighede in hul dorpie wil bespreek.

Malema het Dinsdag met inwoners in Kroondal, Boitekong en Luka vergader, as deel van die party se tweede herdenkingsviering wat Saterdag by die 45 000 sitplek-Olympiapark-stadion plaasvind. Mbuyiseni Ndlozi, woordvoerder van die EFF, het gesê verskeie kunstenaars sal die skare vermaak nadat Malema hulle toegespreek het. Die verrigtinge duur tot 23:00 en die stigting van die EFF sal om 00:00 met ʼn vuurwerkvertoning gevier word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Robert ·

Daar is waarlik iets fout in die land…Bly jy besef dit ook stadig maar seker!!

Petra ·

Malema = OOK BOOS!! Maar die ongeletterdes val daarvoor…dis klaarpraat met die land!

jacques ·

Hou op om mense op te sweep dan sal dit al klaar beter gaan in die land.
Gaan kyk hoe sleg gaan dit in ander lande, jy kan die Here dankie se dat jy so spekvet is.Dis net die krime in die land wat vasgevat moet word dan is die land reg,en dit kan gedoen word as mense net wil saamstaan en hulle 3de oog oopgaan.

Louis ·

Ek hou nie van hom (Malema) nie, maar alles wat hy sê is die waarheid !!

Cornelia ·

was hy nie die een wat voor n hof gedreun sing het i will kill for Zuma nee dankie hy het hom as president gesoek nou wat sing hy volgende

zahn ·

Dit is skokkend om te besef dat dit wat hy gesê het, eintlik die waarheid is. Dink mooi, vat dieselfde woorde, en sit dit in enigiemand anders se mond, en dit maak sin. Ons is almal moeg getax, opgehaat, deurvermoor, en klaarverneder deur omgekeerde rassisme, maar die woorde bly waar. Weet julle wat my bang maak? Ons moet oppas dat ons nie almal een van die dae sal moet anc stem net om hierdie “bloody agent” uit die presidentstoel te hou nie. Dit is vergesog, ek dink soms ek dink te ver, maar nie onmoontlik nie.

Christie Joubert ·

Malema, dit maak nie saak hoe swak jou salaris is nie. Omkoopgeld vra en vat bly korrupsie. Ek kry die idee dat jy dit goedpraat. Jy sal altyd n poepol bly!

Eliza-beth ·

Malema, dis nou maklik vir JOU om beskuldigings rond te gooi. Jy is mos rein as dit kom by korrupsie van allerlei soorte! Maar ons weet ook die tipe van toesprake gaan, hoe nader die volgende verkiesing kom, hoe meer gehoor word. En die massas sal die tipe “opium” met oorgawe inneem.

Chivago ·

Ja wel, wat sal ek sê? Ek is ook liewer vir diere as vir sommige mense.

pop ·

En so tokkel ons op n ou snaar. en die have nothings val nog steeds vir die bollie.

Liewe lulu ·

Baie van die mense stem anc (jammer ek sit dit nie in hoofletters) maar dit is agv intimidasie. My vriendin in die dorp se werkers stem anc, hulle se die bar code op hulle ID boeke wys vir wie hulle stem, as hulle nie vir die anc stem, word hulle huise afgebrand. En hulle glo dit, maak nie saak wat jy se. Hulle stem anc uit vrees

Martin ·

Hy is reg. Die wat deur die ANC bevoordeel word is diere. Dit is nie mense nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.