ANC het ‘geen plan’ om verpleegkrisis om te keer

Foto ter illustrasie. (Foto: pixabay)

Die DA sê hy gaan nie toelaat dat die ANC die land se primêre gesondheidsorgstelsel in duie laat stort weens sy onverskillige houding oor opleidingskolleges vir verpleegpersoneel nie.

DA-LP Madeleine Hicklin het Maandag gesê die ANC-regering het in sy oorhaastige poging om die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) te implementeer, “geen plan om die dreigende verpleegkrisis in Suid-Afrika reg te ruk nie”.

Hicklin het gesê die ANC het ʼn DA-geleide parlementêre mosie om die kwessie te bespreek, afgeskiet.

“Ek gaan aan die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, skryf en hom vra om ʼn omvattende openbare verklaring vry te stel, waarin hy ʼn verduideliking gee van wat sy departement gaan doen om die gestaakte proses om nuwe en bestaande verpleegopleidingsinstellings te akkrediteer, so gou moontlik weer aan die gang te kry,” het Hicklin gesê.

Hicklin het gesê die ANC het verlede week beswaar gemaak teen die mosie waarin Mkhize gevra word om te verduidelik hoekom die akkreditasieproses so sloer. Volgens haar eindig die programme by geakkrediteerde instellings op 31 Desember vanjaar en gaan die instellings daarna – weens die gebrek aan akkreditasie deur die departement – nie met opleiding kan voortgaan nie.

Sy het gesê die langsame akkreditasieproses hou ʼn gevaar vir die volhoubaarheid van die primêre gesondheidsorgstelsel in. As niks gedoen word om die akkreditasieproses te versnel nie, gaan verpleegkolleges nie belangrike programme in onder meer pediatriese sorg, verloskunde en traumaversorging kan voortsit nie.

“Dit is ʼn raaisel hoe die ANC-regering beoog om sy NGV-teiken van een personeellid vir elke 40 pasiënte te verseker, terwyl hy duidelik wys dat hy nie bereid of daartoe verbind is om ʼn dringende oplossing vir die verpleegkrisis te vind nie.

“Die werklikheid is dat die huidige verhouding van een tot 1 000 net gaan vererger as die versuim om sentrums vir hoër onderwys vir verpleegkunde in 2020 te akkrediteer, gaan voortduur,” het Hicklin gesê.

Die DA sê as Mkhize aanhou om sy kop in die sand te begrawe, dui vooruitskattings dat daar teen 2025 – wanneer die NGV na verwagting ten volle geïmplementeer gaan wees – ʼn verpleërtekort van 400 000 gaan wees.

Hicklin het gesê die onderliggende probleme in die land se gesondheidsorgstelsel moet opgelos word en dat die opleiding van verpleegpersoneel een van die hoekstene hiervan is. “ʼn DA-regering sal R1 miljard per jaar vir opleidingsprogramme in die sektor beskikbaar stel.”

Solidariteit het vroeër vanjaar gewaarsku verpleegkunde as beroep is in gevaar in Suid-Afrika en dat die lewering van gekwalifiseerde verpleegkundiges in al die verpleegkategorieë sedert 2013 met byna 40% gekrimp het.

Die burgerregtegroep AfriForum het ook vantevore al gesê die kritieke en toenemende tekort aan verpleegpersoneel in Suid-Afrika is ʼn fatale swakplek in die strewe om die beoogde NGV in werking te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
Piesang

Hulle is soos ‘n eenrigtingstraat, afdraende na chaos en verwoesting!

JR

Opleiding moet soos op die oudae gedoen word waar verpleegsters nog omgee vir n pasient

humor

Die anc maak staat op die belastingbetaler om die toekoms van die NGV te finansier en dit moet dan dien as n reddingsboei vir die reeds bankrot staatsinstellings.

Jantru

DA julle is meer bek as binnegoed!! Wie dink julle sal ooit vir julle dreigemente luister!! ” ons sal nooit toelaat dat bla bla bla” julle het nog niks, niks konkreets gedoen nie!! Niks!!

Klasvakie

Teen ‘n koers van 1 tot 40 betken dat die vormele betalers van belasting gaan betaal teen ‘n koers van 1 tot 20 sou ek antisipeer dat 50% belasting betaal. Dan is daar die jeug wat bykom en bv 50% van die populasie is jeug en nie bydraend nie bring die betaalings las op 1 tot 10. Verder laat ek werklooshed in die algemeen uit. Dit beteken dat hierdie plan gaan ten minste 10% van jou inkomste absorbeer. Sien daar sal ook die bestuur wees wat baie meer as die regte geondheid werker besoldig word soos daar ook van die… Lees meer »