ANC het glo planne teen skelms in stadsrade

Argieffoto

Die ANC het nuwe riglyne om te keer dat korrupte en onkundige mense as ANC-stadsraadslede verkies word, het ’n lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK), Joel Netshitenzhe, by ’n ANC-vergadering in Roodepoort, noordwes van Johannesburg, aangekondig.

Volgens Netshitenzhe sal die name van alle voornemende ANC-kandidate wat sterk verdink word van korrupsie, wanbestuur, ander misdaad of wangedrag, sowel as diegene wat by ’n hof op ’n aanklag teregstaan, se name voorgelê word aan ’n ANC-komitee wat sal moet besluit of hulle van die regte kaliber is om ANC-stadsraadslede te wees.

Die ANC het in 2016 en 2019 ook sulke riglyne vir kandidate geskep, maar dit het nie baie goed gewerk nie. Die verslae van die ouditeur-generaal toon dit was nie baie suksesvol nie, dikwels juis omdat dit aan komitees bestaande uit partypolitici eerder as aan objektief-feitelike omstandighede oorgelaat is om te besluit wie hulself verkiesbaar mag stel.

Netshitenzhe het aan die ANC-lede in Roodepoort gesê die rede waarom die party ekstra versigtig moet wees oor wie vir aanstaande jaar se munisipale verkiesing genomineer moet word, is dat die ANC tans dalende steunvlakke ondervind.

Volgens Netshitenzhe sal die ANC – soos die DA en die EFF alreeds doen – vooraf hul burgemeesterskandidate aankondig sodat kiesers weet wie hulle in die burgemeesterstoel kry indien die ANC sou wen.

Netshitenzhe het kaalkop gewaarsku dat die ANC waarskynlik volgende jaar steun by die stembus gaan inboet, en dat volgende jaar die ANC-uitslae van 2016 “soos ’n Sondagskoolpiekniek” kan laat lyk.

Hy het gevra dat mense wat gemeenskapsleiers en etiese persone sowel as akademies gekwalifiseerd is, aangewys word as ANC-kandidate.

Nadat ANC-takke hul kandidate genomineer het, sal ’n ANC-paneel alle nominasies fynkam en ’n voorlopige kandidatelys opstel. Enige voornemende kandidaat wat onregverdige of wederregtelike gedrag vermoed, het die reg op appèl.

ANC-burgemeesterskandidate sal geruime tyd voor die verkiesing deur die party se NUK aangekondig word.

Netshitenzhe het aangekondig ANC-kandidate sal op oop gemeenskapsvergaderings in elke wyk aangewys word. Hy het nie laat blyk hoe die ANC beplan om te keer dat ander partye die vergaderings infiltreer en kaap nie.

Volgens Netshitenzhe mag “natuurlike leiers buite die ANC” ook as ANC-kandidate oorweeg word.

ANC-lede mag in die week voor hierdie gemeenskapsvergaderings stemme werf vir kandidate, maar geen plakkate of pamflette mag gebruik word nie, en geen T-hemde of snuisterye mag versprei word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johann

Whahaaaaaaaaa…..hahahhahahaaaaaa!!!!!! Die ANC bekwaam, eerlik, bevoeg….WHAHAHAHAAAAAA!!!!!!!

Anel

Whaaaahaaaa. Kan maar net lag. Wat nog?!!!!

Strandloper

En jakkels verander van streke? Sien is glo! Hoe lekker lag ek nou!

Pieter

Dit is van al julle ANC slim planne dat die land sy gaai gesien het vertel ons nog n grap asb.

Kosie

Jy is uitgevang jy gaan bevorder word, dit is al plan wat hulle het