ANC-hoë berispe ná sy Ramaphosa beledig

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto; David Ritchie/ANA)

Sefora Ntombela, premier van die Vrystaat, het Lindiwe Makhalema, die burgemeester van die Dihlabeng-munisipaliteit, skerp aangespreek nadat sy pres. Cyril Ramaphosa daarvan beskuldig het dat hy homself uitverkoop het en hom as ʼn “sellout” bestempel het.

Dié opmerking is in ʼn Facebook-plasing gemaak op ʼn geslote Facebook-groep van sowat 80 000 ANC-lede. Een van die gebruikers het glo vir die lede gevra wie hulle dink die grootste “sellouts” is, en Makhalema het geantwoord Ramaphosa.

Sy is glo vinnig deur lede aangespreek en beskuldig dat sy verdeeldheid in die regerende party saai.

Sy het egter gesê sy gee nie om of sy haar werk verloor nie en het voet by stuk gehou.

Bethlehem, Clarens en Fouriesburg val onder Dihlabeng.

Ntombela het gereageer deur te sê dat disrespek teenoor leiers nie geduld sal word nie. “Namens die Vrystaatse provinsiale regering wil ek die uitsprake van Makhalema met die hoogste veragting verwerp. As ʼn senior leier in die regering behoort sy te weet haar woorde is belastering van die president. Ek het haar reeds gekontak oor haar betreurenswaardige opmerkings en sy het saamgestem dat haar gedrag jammerlik was,” het Ntombela in ʼn verklaring gesê.

Sy meen Ramaphosa verdien respek van almal, veral van senior leiers. Sy het benadruk dat daar nie enige disrespek teenoor leierskap geduld sal word nie.

Die ANC het vroeër vanuit Luthuli-huis gesê dit het onlangs onder hul aandag gekom dat daar ʼn toename op verbale aanvalle en beledigings teenoor ANC-leiers, veral Ramaphosa, was en het die Vrystaatse uitvoerende komitee gemaan om dissiplinêre stappe teen Makhalema te doen.

Hulle meen dis moontlik om menings bekend te maak sonder om persoonlik aanvallend of beledigend te wees.

“Die ANC se sosialemediabeleid stel dit dat enige plasing op sosiale media wettig, eties en met respek gedoen moet word. Reël 40 verhoed lede om uitlokkende taal te gebruik,” het die ANC in ʼn verklaring gesê.

Die kwessie word in ʼn ernstige lig beskou. Die Vrystaat, onder leierskap van voormalige premier Ace Magashule, het Nkosazana Dlamini-Zuma gesteun om die leisels van die ANC oor te neem op die party se konferensie in Desember.

Magashule is sedertdien verkies as sekretaris-generaal van die ANC. Ntombela en Magashule is glo stoere bondgenote.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

koos1 ·

Is dit nie een van die munisipaliteite wat Eskom miljoene skuld nie?As dit is, is dit nie genoeg rede om haar af te dank nie? Sy het mos gesê sy gee nie om, om haar werk te verloor nie. Maar sy wys verder dat sy ook nie aan demokrasie glo nie. Cyril is mos wettig in gestem deur haar party genote!

se net ·

Bethlehem……….Eens n baie mooi dorp. Ek wens jul kan die strate sien. Die hoofstraat lyk aaklig. Vol slote/gate en ons spot al en praat van die grondpad. Bethlehem se water is vuil en vol riool. Daar is glo net een pomp en die werk oortyd en is baie oud. Die rivier(vlei) waarvandaan hul water kry word openlik met rioolstorting gevul. Eerlik Bethlehem is n nagmerrie deesdae. Ek weet want ek is baie daar en baie van my kollegas bly daar.

Johnna ·

Net berispe!ag asb kom kyk hoe lyk dit in Bethlehem waar sy in beheer is Sy weet sy verdien dit nie om burgermeeester te wees nie,wonder net hoe lank ons nog gaan wag vir die uitslag oor die miljoene wat in haar motor se kattebak was toe sy in n padblokade betrap was.Hoogtyd dat daar opgetree word.

Judge Dredd ·

Maar tog het hul facebook groep gevra wie is die grootste sellout.
En toe hulle ‘n antwoord kry wat nie met hulle stem nie, toe is dit ‘n probleem – wou seker he almal moet se Musi Maimane.

christa ·

se net, dink jy dis net Bloemfontein… die hele eens mooi en skoon land lyk soos ‘n Rommel staat.

Mrs H ·

Die grootste sellout, is die ou wat die vraag gevra het! Die vraag het bloot n antwoord gekry, nie n mening nie. Dis die vraag wat die verdeeldheid begin. Hoe stupid!

Vryheid ·

Ja hier pop Ace weer op en nogal seketaris generaal….. Hier kom nog baie korrupsie.

Padda ·

My water word warmer maar ek is (gelukkig) nie die enigste.

Ben ·

Dis nie net Bethlehem of Bloemfontein nie. Die hele land is één groot gemors!

tee ·

gaan kyk na die eens pragtige MIMOSA in Parys, nou gevaarlik!!! was n samekoms van wie weet watter partye en organissasies oor laas naweek, vrye toegang, ons was daar en be angs, gevlug sondag oggend. sal beslis nie weer soontoe gaan nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.