ANC-hoë bevraagteken tydsberekening van aanklagte

Mike Mabuyakhulu (Foto: ANA)

Mike Mabuyakhulu, KwaZulu-Natalse onderleier van die ANC, meen die aanklagte van bedrog en rampokkery teen hom is glo deel van ʼn georkestreerde politieke veldtog om hom van ʼn amp as staatsamptenaar te weerhou.

Mabuyakhulu het Maandag in die Durbanse handelsmisdaadhof verskyn waartydens hy aangevoer het dat die aanklagte teen hom teruggetrek behoort te word.

Mabuyakhulu is een van 16 beskuldigdes, wat verskeie sakemanne, onder meer van sewe maatskappye, en ʼn voormalige hooggeplaaste staatsamptenaar insluit, wat daarvan beskuldig word dat hulle die KwaZulu-Natalse regering uit R28 miljoen bedrieg het. Dié aanklagte spruit uit ʼn jazzfees wat in 2012 in Durban gehou sou word, maar nooit plaasgevind het nie. Die geld, afkomstig van die belastingbetaler, is uitbetaal, maar daar is nooit ʼn fees aangebied nie.

Die beskuldigdes word deur meer as 70 aanklagte van korrupsie, bedrog, diefstal en geldwassery in die gesig gestaar. Mabuyakhulu, ʼn politieke swaargewig in KwaZulu-Natal en ʼn bondgenoot van pres. Cyril Ramaphosa, staan ​​tereg op vyf aanklagte vir sy rol in die fees waartydens hy glo R300 000 in sy sak gesteek het.

Mabuyakhulu het Maandag sy beëdigde verklaring by die hof ingedien waarin hy aanvoer dat hy benadeel is deur die staat se onnodige gesloer om die klagstaat te finaliseer. Hy meen dié vertraging was “onredelik” en tot nadeel van sy saak.

Mabuyakhulu het gesê dat hy geen bewyse van sameswering teen hom kan lewer nie, maar dat hy wel die “tydsberekening”” van die aanklagte bevraagteken aangesien dit gekom het in ʼn tydperk toe die land “beduidende politieke skuiwe” ondergaan het. Jacob Zuma is gedurende dié tyd as staatspresident verwyder en deur sy adjunk, Ramaphosa, in Februarie verlede jaar vervang.

“Die besluit om my op 7 Februarie 2018 voor die hof te daag was in ʼn kritieke stadium tydens die politieke maneuvrering en hoewel ek nie werklike bewyse het dat dit ʼn rol gespeel het nie, bevraagteken ek die tydsberekening daarvan,” het hy gesê.

“Ek kan nie ʼn posisie as staatsamptenaar aanvaar nie omdat hierdie saak oor my kop hang. Dit is tans besonder nadelig, veral aangesien die nasionale en provinsiale verkiesings op 8 Mei 2019 gehou sal word en my naam op die ANC se kandidaatlys vir die provinsiale wetgewer was.

“Ek moes my naam onttrek aan die lys hangende die afhandeling van hierdie saak.”

Mabuyakhulu het gesê die saak word sedert 21 Augustus 2013 ondersoek en dat die staat op ʼn baie vroeër stadium gereed moes wees. Hy het verder gesê hy kan nie verstaan ​​hoe ʼn saak wat in Augustus 2013 ondersoek is, eers teen Februarie 2018 uiteindelik in die hof kan draai nie.

“Ek glo regtig dat hierdie saak nie deurlopend ondersoek is nie en dat dit vir lang tyd onaangeraak gelê het. Die tydsberekening van die besluit om my te vervolg, is relevant omdat dit saam met belangrike politieke veranderinge in die leierskap van die land geval het.”

Mabuyakhulu sal weer in April in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

thelsa ·

Daar is nooit die ‘regte tyd’ om ‘n misdaad teen iemand te ondersoek nie volgens enige verdagte

riaan ·

Rerig?

As jy skelm is moet jy suffer maak nie saak wanneer nie!

Thinus ·

Ja nou dat die strop van korrupte ANC kaders al stywer trek gaan alerhande verskonings uitgedink word. Ons wag net vir die rasse kaart om uitgehaal te word. Stuur die hele ANC lot tronk toe, want dit is waar hulle almal hoort en le beslag op al hul bates wat deur korrupte bedrywighede bekom is.

ne ·

Nou hoekom voorsien jy nie die mense van die R300,000 wat jy ontvang het nie. Dan sal die saak mos afgehandel word. Shame, nou is jy jou joppie kwyt!

Awie jansen van vuuren ·

Hy sê hy kan nie verstaan nie hoekom dit so lank gevat het nie, ek kan verstaan die soldate word al minder wat hulle beskerm het maar nou moet hy pa staan vir sy skelm guitige

Jerry ·

Julle moet nie opgewonde raak nie, want hierdie kader word doodeenvoudig met n ander kader vervang wat in die ry staan. Al wat nou gaan gebeur is dat die opvolger net n bietjie slimmer te werk sal gaan, maar eet gaan hy eet! Dit is ongelukkig deel van die sosialistiese pakket! Die kaders gaan aanhou eet totdat daar niks oor is nie en dan gaan hulle wil oorlog maak, want hulle is die eintlike slagoffers en daar is altyd iemand of iets anders wat geblameer kan word! Alle sosialistiese verhale is tot vervelens toe herhalend en nimmereindigend!

George in Bloem ·

Kan die Nationale Vervolgingsgesag asseblief tog net kennis neem dat die vervolging van ANC hoogeplaaste korrupte kaders tog net met hulle vooraf gereel word sodat arrestasies en diesmeer tog net by hulle skedules inpas. Baie dankie……….Rerig?

Bennie ·

Ja nou dat Shawn the sheep nie meer daar is nie, nou begin dinge te gebeur, snaakse tydsberekening ne.

Skroef ·

Hy moet onthou daar was 783 aanklagye so kort voor n verkiesing teen zuma gebring en hy het PROSIDENT geword.

Sarel ·

Nou dat hy die tydverloop ophaal, goed dat hy uiteindelik aangekla word, tog het hy n punt wat deeglike ondersoek behoort te word en gevolge te he, wie het die regsvereideling gepleeg om die saak solank uit die hof te hou ?

Cassie Carstens ·

Janee, die wiel is besig om te draai – stadig maar seker. Nou dink die selfverryktes almal moet hulle jammer kry?? Hallo Baba, welcome in the new democratic South Africa.

Bietjie baie ·

Enige persoon met n korrupsie of bedrog saak hangende moet nie eers vir n pos in die staatsdiens oorweeg word nie. As jou lewe vraagtekens “tags” het, moet jy maar sukkel.

Moenie nog n korrupte by die korruptheid voeg nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.