ANC-hoë gevonnis ná glasbeker-voorval

Andile Lungisa. Argieffoto: Raahil Sain/ANA

Andile Lungisa, die ANC-raadslid en provinsiale hooggeplaaste in die party wat in April skuldig bevind is aan aanranding met die doel om ernstig te beseer, is Woensdag in die Port Elizabeth-streekhof tot  twee jaar tronkstraf gevonnis.

Sy prokureur het intussen aangedui dat hy van plan is om ʼn aansoek te bring om verlof tot appèl teen die vonnis.

Landdros Morne Cannon het bevind Lungisa het met opset ʼn glasbeker oor die kop van Rano Kayser, die voormalige burgemeesterskomiteelid vir vervoer, stukkend geslaan tydens ʼn chaotiese Nelson Mandelabaai-raadsvergadering in Oktober 2016.

Kayser het verskeie snywonde aan sy kop en nek opgedoen en foto’s het gewys hoe hy bloed oral oor hom gehad het.

Die vergadering het in sulke erge geweld ontaard dat sommige van die raadslede berading moes ontvang.

Bewyse wat aan die hof voorgehou is sluit ʼn video in wat deur die DA-raadslid Renaldo Gouws  geneem is wat wys hoe Lungisa die glasbeker oor Kayser se kop stukkend slaan voordat hy op die vlug slaan en hoe Kayser agteroor tuimel en op die vloer te lande kom.

Cannon het Woensdag bevestig dit is ʼn strafregtelike saak en nie ʼn politieke saak nie. Cannon het ook in ag geneem dat Kayser ernstige beserings opgedoen het wat noodlottig kon wees met katastrofiese gevolge.

Kayser het ter verswaring van vonnis getuig en die hof het gehoor dat hy sedert die voorval in 2016 aan korttermyn geheueverlies ly.

“Selfs nou getuig hy dat hy migraines kry en korttermyn geheueverlies het twee jaar ná die voorval. Die dokter het ook gesê dat hy gelukkig is om te lewe,” het Cannon gesê.

Lungisa het ter versagting van die vonnis getuig dat hy finansieel na sy sewe kinders omsien, asook sy ouers en jonger sibbe. Hy het bygevoeg dat hy die hof se besluit respekteer en dat hy berou het.

Die hof het egter bevind dat Lungisa nie berou getoon het nie en nie verantwoordelikheid vir sy aksies geneem het nie.

Cannon het gesê ʼn vonnis wat nie tronkstraf insluit nie sal te veel klem plaas op Lungisa se persoonlike omstandighede. Hy het ook gesê hy het in ag geneem dat Lungisa ʼn eerste oortreder is wat sy familie onderhou, maar dat aanranding met die doel om ernstig te beseer ʼn erge oortreding is.

Hy het ook bevind dat Lungisa as ʼn openbare verteenwoordiger die vertroue van die gemeenskap geskend het.

Lungisa het tydens die verhoor onskuldig gepleit en gesê hy het uit selfverdediging opgetree. Cannon het gesê die videobewyse dui daarop dat daar geen rede vir Lungisa was om Kayser te slaan nie en daarom word Lungisa se bewering dat hy uit selfverdediging opgetree het, verwerp.

Lungisa is nadat die vonnis opgelê is steeds in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Daan Erasmus ·

As dit ‘n wit Raadslid was wat ‘n swart ou aangerand het was hy 10 jaar in die tronk.

Attie ·

so om die k woord te gebruik is net so sleg soos om iemand met n glas beker oor die kop te slaan.

Ad ·

Interresante vergelyking. Wonder waarmee die steers geval gaan vergelyk word. Goeie punt!

Alida ·

Dit was barbaarse maniere raadslede behoort beskaafd op te tree teenoor mekaar. Laat hom sit.

Koos de Meyer. ·

Spyt kom altyd te laat. Hy moes gedink het wat hy doen. Betaal vir jou dade, En kry maar vir jou.

Daan ·

Wat goed is vir die een is goed vir die ander een. In die tronk hoort jy. Nou is die man wat die swanger vrou aangerand het se beurt … Tronk toe!!!

jaco ·

‘n wit regter vonnis ‘n swart man wat ‘n wit man aangerand het tot 2 jaar tronkstraf.
Hierdie man gaan op grond van dít loskom op appèl.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.