ANC-hoë ʼn tweede keer geskors

Argieffoto

Argieffoto

Die ANC sal twee lede van sy nasionale uitvoerende komitee (NEC) na die Wes-Kaap stuur om met die plaaslike partystrukture te help nadat Faiez Jacobs, die provinsiale sekretaris, Maandag die tweede keer uit sy pos geskors is.

Yonela Diko, ʼn woordvoerder vir die party, het gesê Jacobs is amptelik geskors hangende die uitkoms van ʼn dissiplinêre proses. Dika het gesê Jacobs het versoek dat die dissiplinêre proses deur die ANC op nasionale eerder as provinsiale vlak hanteer word.

“Dit is sy prerogatief as senior persoon in die provinsie [om dit te versoek],” het hy gesê.

Jacobs is in Desember voorlopig geskors toe hy na bewering ʼn personeellid aangerand het. Die party het egter verlede week die skorsing omgekeer aangesien dit nie volgens die behoorlik proses gedoen is nie. Hy is Maandag volgens die behoorlike stappe van die party se skorsingproses geskors.

Die omwenteling volg net maande voor die plaaslike regeringsverkiesings waartydens die ANC hoop om die Wes-Kaap uit die politieke beheer van die DA terug te wen.

Diko het berigte dat die twee NEC-lede die provinsiale strukture heeltemal sal oorneem, ontken. “Hulle is net hier om te help. Die kantore van die voorsitter en die sekretaris-generaal sal voortgaan om te funksioneer soos voorheen.”

Intussen het Patricia de Lille, Kaapstad se burgemeester, gesê die ANC is nou “leierloos”.

“Om Luthuli-huis-opsigters in te stuur om Marius Fransman, die Wes-Kaapse ANC-voorsitter, en Faiez Jacobs, die sekretaris, te vervang terwyl hulle geskors is, is ʼn bekentenis deur Luthuli-huis dat die ANC in die Wes-Kaap in wanorde gedompel is,” het De Lille gesê.

Fransman is ook geskors nadat hy deur ʼn jong vrou, wat glo in diens van die party was, van seksuele teistering aangekla is. Fransman het die bewerings ontken en gesê dit is deel van ʼn politieke sameswering teen hom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

m ·

Hoeveel keer wil hulle hom nou nog skors. Fire hom en kry klaar.

Liewe Heksie ·

ANC julle botter raak op en daar is nie meer brood om dit op te smeer nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.