ANC-hoë skuldig aan aanranding

Andile Lungisa. Argieffoto: Raahil Sain/ANA

Andile Lungisa, ANC-raadslid en provinsiale hooggeplaaste in die party, is Dinsdag in die Port Elizabeth-streekshof skuldig bevind aan aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Landdros Morne Cannon het bevind Lungisa het met opset ʼn glasbeker oor die kop van Rano Kayser, die voormalige burgemeesterskomiteelid vir vervoer, stukkend geslaan tydens ʼn chaotiese Nelson Mandelabaai-raadsvergadering in Oktober 2016.

Die vergadering het in sulke erge geweld ontaard, dat sommige van die raadslede berading moes ontvang.

Cannon het in sy beslissing bevind dat Lungisa ʼn swak getuie was “wat sy weergawe van die gebeure aangepas het soos die verhoor aangegaan het”. Hy het gesê Lungisa was vaag, ontwykend en het homself tydens die verhoor weerspreek.

Cannon het verder gesê Lungisa se weergawe dat Kayser hom wou aanrand strook nie met beeldmateriaal wat tydens die vergadering deur DA-raadslid Renaldo Gouws geneem is nie.

Cannon het die staatsgetuies geloof en gesê hul getuienis het wel ooreengestem met die videomateriaal. “Dit is duidelik in die video dat [Kayser] nie vir [Lungisa] geslaan het nie,” het hy gesê.

“Daar was teenstrydige weergawes, maar na my mening was dié teenstrydighede onbelangrik. Die feit dat daar verskille was, dui op die staatsgetuies se eerlikheid en dat hulle nie saamgesweer het nie,” het Cannon gesê.

Cannon het gesê die videobewyse dui daarop dat daar geen rede was vir Lungisa om Kayser te slaan nie en daarom word Lungisa se bewering dat hy uit selfverdediging opgetree het, verwerp. “Hoewel die situasie chaoties was, was daar geen rede vir die beskuldigde om die klaer te slaan nie.”

Lungisa is ná die uitspraak afgeneem na die hof se aanhoudingselle en is tans in aanhouding.

Die saak is uitgestel om Luthando Ngqakayi, vir die verdediging, kans te gee om met sy kliënt te konsulteer voordat vonnisverrigtinge sal begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Judge Dredd ·

Oktober 2016 ? – en dit vat maar net 18 maande en hoeveel geld om tot hierdie uitspraak te kom, vir wat blyk ‘n eenvoudige saak te wees.
Ons howe se geloofwaardigheid krimp by die dag.

geregtigheid ·

Absoluut barbaars! Vir die k-woord kry ‘n blanke 2 jaar en ‘n R100,000 boete. Stuur hd krimineel 5 jaar tronk toe met ‘n R300,000 boete!

Johann ·

ANC LEGACY… geweld geweld geweld. Gaan seker bevorder word in die kaders siende hy die “ANC KULTUUR” so getrou uitleef?

Potlood ·

Van nou af sal hulle slegs papier borde, plastiek glase en sporks ontvang om te eet en drink. Hulle sal ook die tafels en stoelle vas skroef aan vloer. Geen haar knippies, belde, skoenveters, ringe en hangertjies word ook toegelaat nie. Daar is ook een plek agter in die vertrek met ‘n hoek waar timeouts kan plaasvind vir die kinderagtiges.
Ek dink hulle moet ‘n “third umpire” kry soos in Krieket sodat hulle in slowmotion die skuldiges kan sien en dan ook sommer onmiddelik hulle van die veld verwyder met rooi kaarte en lekker Groot boetes. Dan sal die wat werklik wil werk se tyd en (ons) geld nie gemors word nie.
PS Hierdie optrede is net so ongelooflik soos my kommentaar hier bo…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.