ANC-hoës bepeins KZN-leierskapstryd

Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal, spreek die media toe (22 September 2017). Foto: Jonisayi Maromo/ANA

Die Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) van die ANC het Vrydag gesê hoewel die party die uitspraak respekteer van die volbank regters van die hooggeregshof in Pietermaritzburg in die saak tussen twee ANC-faksies in KwaZulu-Natal, het die topstruktuur van die party besluit om regsadvies in te win oor hoe om die saak verder te hanteer.

“Die NUK het volle vertroue in die regbank en aanvaar die uitspraak van die [hof] in die saak ‘Dube en ander versus Zikalala en ander’ met betrekking tot die 2015 ANC KwaZulu-Natal provinsiale konferensie,” het Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal, aan verslaggewers in Pretoria gesê.

“Die NUK voel egter daar is ʼn behoefte aan verdere konsultasie met ons regspan om meer duidelikheid te kry oor die besluit van die hof aangesien dit te doen het met reël 17(2)(1) van die ANC-grondwet en daar ʼn moontlikheid van sukses is vir ʼn appèl teen die uitspraak.”

Die hof het op 12 September in ʼn rigtinggewende uitspraak beslis die resultate van die provinsie se 2015-verkiesingskonferensie is ongeldig. Die hof het verder beslis die konferensie waar Sihle Zikalala as die provinsiale leier van die provinsie aangewys is, was ook ongeldig. Die party het 15 dae kans om teen die uitspraak te appelleer.

Verskeie ANC-hoës, insluitend pres. Jacob Zuma, het Vrydag by die Saint George-hotel bymekaargekom waar die topstruktuur van die party, die NUK, ʼn “spesiale vergadering” gehou het.

Tydens die 2015-konferensie het die destydse sekretaris, Sihle Zikalala, die oorwinning in die genoemde verkiesing behaal en by Senzo Mchunu, die ANC se voormalige provinsiale voorsitter, oorgeneem. Dit het die bal aan die rol gesit vir Mchunu se verwydering as KwaZulu-Natalse premier in 2016. Sommige van die LUR’e is saam met Mchunu van hul amp onthef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Daan Erasmus ·

Oordink / bepeins impliseer dat jy regtig moet dink. Dit is nie iets wat die ANC graag doen nie. Voort.. Ploeter ja. Dink nee.

Sputnik ·

In diepe bepeinsing, met die een oog op die notas en die ander op die staatskas!

Johann Marx ·

Hierdie land het nie ‘n regering nie……ALLES word deur een of ander hof getoets, beoordeel, veroordeel, verwerp, afgedwing…of vir maande lank op ys gesit, met die een na die ander appél na appél na appél. Honderde jare gelede was “Die Kerk” in charge…….(konings, staatsmanne, president, ens was deur die leier van die dominante kerk ingesweer, gekroon, bevestig)….nou is dit die regters en die howe.

Boet Fasie ·

Baie bly dat die hof baie van die ANC beslissings omkeer en selfs verwerp, as dit nie vir die hof was nie het die ANC ons land lankal verwoes. Die ander politieke partye moet egter mooi begryp dat die beslissings van ons howe in al die sake in die jare wat kom op hulle ook van toepassing gaan wees. Die ander politieke partye kan nie nou vir die ANC peper met die hof aansoeke en beslissings nie en as die skoen aan die ander voet is se die hof meng in nie .

John ·

Ja, dit is maar swaar as ‘n mens die dag uitgevang word. Vir ‘n eeu het die ANC gebou aan ‘n kasteel op die sand … sonder fondasies. En hierdie droombeeld is met bravado en groot toneelspel as ‘n werklikheid verkoop aan die hele wereld. En nou het die spulletjie verkrummel. Zuma het die skille van die oe laat val en niks gaan weer dieselfde wees nie. Woede kook teenoor ~ nie die self nie~ maar diegene wat nou duidelik en helder kan sien. Dinge gaan lelik word…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.