ANC-hoofsweep bedank

Stone Sizani. Foto: Facebook

Stone Sizani. Foto: Facebook

Stone Sizani, hoofsweep van die ANC, het Woensdag met onmiddellike effek bedank.

Moloto Mothapo, kommunikasiehoof van die ANC, het gesê Sizani is “herontplooi” uit die parlement in ʼn “nuwe verantwoordelikheid” wat later aangekondig sal word. Die besluit is Woensdagmiddag tydens ʼn ANC-koukusvergadering aangekondig.

“Weens die dringendheid wat die nuwe verantwoordelikheid vereis, het comrade Sizani met onmiddellike effek bedank. Die ANC se adjunk-hoofsweep, comrade Doris Dlakude, sal tydelik as die hoofsweep waarneem,” het Mothapo gesê.

Sizani is glo herontplooi om Suid-Afrika as ambassadeur in Duitsland te verteenwoordig. Mothapo kon dit nie onmiddellik bevestig nie. Hy het wel gesê dat Sizani steeds as lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) sal dien.

Volgens ʼn verklaring wat oomblikke gelede deur die ANC uitgereik is, sal die party se nasionale uitvoerende komitee besluit oor Sizani se plaasvervanger tydens sy volgende sitting oor ʼn paar weke. Die verklaring het gesê Sizani is tydens Woensdag se vergadering gelukgewens met sy uitstekende leierskap van die party in die parlement en Dlakude is sterkte toegewens vir haar nuwe verantwoordelikheid.

Sizani se bedanking kom twee weke nadat die verhoor teen sy vrou, Portia “Pankie” Sizani, in die handelsmisdaadhof in Port Elizabeth afgesluit is. Portia staan tereg op 16 aanklagte van bedrog en 10 aanklagte van geldwassery. Die saak sal op 26 Julie hervat wanneer daar na verwagting uitspraak gelewer sal word.

Volgens die ANC se webtuiste was Sizani sedert 2009 ʼn lid van die NUK. Hy is in Junie 2013 as hoofsweep aangestel.

Sizani was van 1978 tot 1990 op Robbeneiland as ʼn politieke gevangene aangehou en het in 1994 ʼn MA-graad in ontwikkelingstudies aan die universiteit van East Anglia in Brittanje behaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Stan ·

Lyk my ek moet maar weer begin media 24 lees om beter inligting te kry. Die ou gaan Duitsland toe. Maroela Media, julle is deesdae ‘n dag laat met gebeure of vertel net ‘n halwe storie. Asb, kom reg want ek wil nie my inligting by die ander instellings kry nie.

Nico Strydom ·

Dagsê Stan
Die berig word bygewerk soos die inligting ontvang en bevestig word.
Baie dankie
Vriendelike groete
Nico Strydom nms Maroela Media

Boerekryger ·

Stan. Dalk spandeer die administrateurs van hierdie webblad te veel tyd aan die verwydering van kommentare wat “ongemaklike” vrae en waarhede bevat…

chrisp ·

Almal met dieselfde eerste name (comrade) ek gaan deurmekaar raak.

Trots Afrikaans ·

comrade = kameraad, makker of persoon wat ‘n moeilike tyd saam met jou deurmaak. Gewoonlik in tyd van oorlog of een of ander stryd.

Frederik ·

Die komrat het iets gedoen of gesê wat Nammawan ontstel het.

GES ·

As die “komrat” sy oë uitvee word hy ook nooit herontplooi nie.

wynand ·

Ek lees eers die nuutste nuus op die ander webblaaie en wag dan dat dit op maroela verskyn en dan lees ek dit weer. Dit geld egter nie vir al die berigte nie. Die kom rats kan maak wat hulle wil dit skeel my min want hulle is soos finkel en koljander. Die een is soos die ander

Liewe Heksie ·

So van chop en change het ek in my lewe nooit teegekom nie Regtig en daar is elke keer n ander pos gereed vir die comrade

Boerekryger ·

Anna. Ek is heel verbaas dat my kommentaar nog nie verwyder is nie. Hulle is altyd oorywerig om die ANC te kritiseer, maar sukkel om kritiek teen hulleself behoorlik te hanteer.

PJ ·

Sy vrou mos hoeka op verhoor vir bedrog sal seker nou vrywaring kry ?

Theo ·

Vliegtuig vol geld gedruk in Duitsland? Erg ontbinde lyk op vliegtuig? Nuwe Ambassadeur vir Duitsland??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.