ANC-hoofsweep meen parlement doen sy werk goed

Pemmy Majodina (2017) (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Die Suid-Afrikaanse parlement, en die ANC se koukus, doen hul werk effektief en hou goed toesig oor sowel die kabinet as die staatsdiens.

Dit is die mening wat die ANC se hoofsweep in die Nasionale Vergadering, Pemmy Majodina, in ‘n onderhoud met Maroela Media so aan die begin van nog ‘n uitdagende en ongewone parlementêre jaar.

ʼn Stortvloed getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping wys dat staatskaping se ontplooiing in ‘n baie groot mate toegeskryf kan word daaraan dat die ANC-koukus die parlement deurgaans gesaboteer het wat sy oorsigrol ter bekamping van staatskaping en korrupsie betref. Op ‘n vraag hoe haar siening oor die parlement en die ANC-koukus hiermee strook, het Majodina gesê die tydperk waarmee die Zondo-kommissie handel dek die jare tussen 2009 en 2018, en is nie van toepassing op die gedrag van die ANC-koukus sedert sy in 2019 beheer daarvan oorgeneem het nie.

“Ek gaan my nie uitlaat oor die getuienis voor die Zondo-kommissie nie. Dit handel oor ‘n tydperk toe ek nie in die parlement was nie – ek het in daardie jare in die Oos-Kaapse wetgewer gedien. Wat ek jou kan verseker is dit: Sedert ek ANC-hoofsweep geword het, word geen ANC-LP op enige manier verhoed of afgeraai om enige magshebber verantwoordbaar te hou nie, en alle ANC-LP’s word opdrag gegee om wanbestuur, korrupsie, staatskaping ensovoort vreesloos aan die kaak te stel,” het Majodina gesê.

Haar parlementêre loopbaan het  in 1994 begin toe sy vir die ANC verkies is tot die destydse senaat – vandag bekend as die Nasionale Raad van Provinsies. Daar het sy gedien tot in 1999, toe sy tot lid van die Oos-Kaapse wetgewer verkies is.

Van 1999 tot 2014 het sy agtereenvolgens vyf portefeuljes as provinsiale LUR behartig. Sy was bekend as ‘n eerbare politikus met ‘n skoon etiese rekord, in ‘n provinsie en party waar daardie kenmerke voorwaar skaars is.

Majodina is ‘n kleurvolle figuur in die parlement – letterlik, haar kleresmaak is uniek en by tye onbeskaamd flambojant en uitspattig. Sy is een van daardie welmenende mense wie se menslikheid oorborrel, soos miskien ten beste vergestalt in die verstommende feit dat sy nege kinders het, van wie sewe aangenome is.

“Ek het self as weeskind grootgeword. Ek weet wat dit beteken om honger te ly, nie geld te hê vir klere of skoolbenodigdhede nie, nie te behoort nie en te wens ‘n ma was lief vir my. Ek het vroeg in my lewe besluit ek sal doen wat ek kan om soveel kinders as moontlik te help dat hulle nie so voel nie,” vertel sy.

Sy is ook baie gewild by haar opponente, die swepe van die opposisiepartye, danksy haar eerbaarheid en goeie maniere, en die feit dat sy minder geneig is om, soos soveel van haar voorgangers as ANC-hoofsweep, altyd net haar party se meerderheid te gebruik om almal anders te stoomroller.

“Ek respekteer die rol van die opposisie in ‘n demokrasie. Hul wense moet so ver moontlik geakkommodeer word,” is wat sy daarop te sê het.

Majodina handhaaf beslis dissipline in haar koukus. Anders as al haar onmiddellike voorgangers het die ANC nog nie een keer onder haar leiding daarin misluk om die vereiste 200 stemme in die Nasionale Vergadering te behaal om ‘n wetsontwerp aanvaar te kry nie.

“Ja, dit verg baie. Dis nie maklik nie, want ons (die ANC se) meerderheid raak al kleiner, so amper alle ANC-LP’s moet teenwoordig wees elke keer dat daar oor ‘n wetsontwerp gestem word.

“Ek is bly ek kon dinge laat werk vir my party selfs te midde van al die faksievorming en verdeeldheid. Die geheim is maar goeie menseverhoudinge, en om nie onnodig kant te kies in elke geskil nie. Terwyl ek hoofsweep is, is dit nie my rol nie,” vertel Majodina.

Sy stem saam dat dit verkieslik sou wees dat die parlement so gou doenlik weer fisies saam vergader, en dat die hibridiese stelsel met sommige LP’s in die vergadersaal en ander net virtueel aanwesig, nie verkieslik is nie.

“Maar ek is trots op hoe vinnig en hoe goed ons parlement by die situasie aangepas het. Ons is ‘n leier op hierdie gebied.

“Ek weet egter nie of ons gou na normaal sal kan terugkeer nie. Jy weet, van my ANC-LP’s in die Nasionale Vergadering is elf al dood aan Covid-19. Ek was op elke begrafnis om te probeer om die families te help troos. Dit is ‘n verskriklike, verskriklike tyd,” sê Majodina, ‘n inwoner van Sterkspruit in die Oos-Kaap, hartseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Natasha ·

Kan nie onthou wanneer laas ek so lekker gelag het vir ‘n idiotiese stelling nie.

Wielspore ·

Toe ek die berig lees dink ek aan Edgars, pragtige winkel maar bankrot.

Willem ·

Kan sien julle doen jul werk dit is hoekom die land bankrot is

Adri ·

Ag asseblief. Jakkals prys sy eie stert. Geen tekort aan misplaaste selfvertroue nie. Hoe het oom Danie gesê? “Looks at the scoreboard”.

Johan ·

Hul hoort almal in die tronk vir hul disrespek vir suidafrikaners se basiese regte met die instel van die virus regulasies en die dult van die Corona Dictator Council.

henndrik ·

Dit bevestig net my vermoede, hulle sien geen probleem met hulle optrede nie

Magda ·

GRAP VAN DIE JAAR!!!! LEKKER LAG EK NOU -Geen wonder sy is in die ANC nie, geen ander party wat kan dink sal haar indiens neem nie.

Misky ·

Daai babbel moet net bars en hulle almal uit droomland kom….. wat n grap

Hennie ·

Ek is seker miljoene “votas” sal saamstem met haar misplaaste self verwering…. Viva!

Nie Verbaas ·

Soos hulle se, as jy nie weet dat jy nie weet nie sal totale onbekwaamheid na n prestasie lyk.

JohanR ·

Was dit ‘n kader aanstelling? Lyk my die een en Kopdoek ruil kopdoeke?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.