ANC-hoofsweep se vrou vrygespreek op 5 aanklagte

Portia Sizani Foto: ENCA.com

Portia Sizani Foto: ENCA.com

Portia “Pankie” Sizani, vrou van die ANC-hoofsweep, is Dinsdag in die handelsmisdaadhof in Port Elizabeth onskuldig bevind op vyf van die 15 aanklagte van geldwassery teen haar.

Sy staan nog tereg op 16 aanklagte van bedrog en 10 aanklagte van geldwassery.

Staatsaanklaer Ronelle Brink het Maandag die staat se saak afgesluit ná ʼn uitgerekte hofsaak teen Sizani, wat daarvan beskuldig word dat sy die Oos-Kaapse departement van onderwys met meer as R1,2 miljoen bedrieg het toe sy verskeie vervalste aansoeke vir Graad R-onderwysersposte geprosesseer het.

Sizani, die vrou van ANC-LP Stone Sizani, was tussen 2009 en 2010 die distrikskoördineerder vir vroeë kinderontwikkeling toe sy die “spook onderwysers” aangestel en hul salarisse ontvang het. Die eenheid stel Graad R-onderwysers by skole in die Oos-Kaap aan.

Sy het in 2014 skuld ontken op 31 aanklagte van bedrog en geldwassery teen haar.

Haar advokaat, Johan Wessels, het ʼn aansoek kragtens artikel 174 van die Strafproseswet aan die hof voorgehou, met die doel dat Sizani vrygespreek moet word op vyf van die vyftien aanklagte van geldwassery. Volgens dié artikel moet die hof, nadat die staat sy saak afgesluit het, en daar nie voldoende bewyse gelewer is dat die beskuldigde die misdaad gepleeg het nie, die persoon onskuldig verklaar.

Dit het Maandag aan die lig gekom dat vyf van die getuies nie opgespoor kan word nie en dat die persone verdwyn het.

Die aanklagte waarop Sizani vrygespreek is, hou verband met die getuies wat nie opgespoor kan word nie.

Wessels het Dinsdag aangedui dat die verdediging ook ʼn soortgelyke aansoek sal indien op die oorblywende aanklagte teen sy kliënt.

Die saak is tot 26 Julie uitgestel vir die staat en verdediging om hul hoofde van orgumente saam te stel.

Lees alle vorige berigte oor Portia Sizani op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Katrine ·

Waar verdwyn mense? Vermoor of het hulle nie bestaan nie
Gun die “spoke” meer geld want hulle is onaantasbaar

Johann Marx ·

Hoekom gaan “die staat” voort met ‘n saak indien hulle GEEN getuies het nie? Wie betaal hiervoor? En wie se tyd word hier gemors? As jy nie ‘n waterdigte saak het nie, moenie hof te gaan nie……nie net gaan jy bloedneus kry nie, jy mag ook nooit weer jou beskuldigde aankla van dieselfde oortredings nie….. want sy’s “vry gespreek”!??

Gertjie ·

Staatsaanklaer Ronnelle Brink wil nie haar “JOB: verloor nie..

Theresa B ·

Amazing is dit nie??!! Maar dis nie meer snaaks nie. Dis al die soveelste keer dat iemand net vrygespreek word op aanklagtes teen hom/haar. Waar sou daardie aanklagtes dan in die 1ste plek vandaan kom……

Irene Myburgh ·

Departement Onderwys moet dalk maak soos wat SASSA (ouderdoms pensioen) gemaak het. Hulle betaal vir een maand geen salarisse in die banke nie. Die personeel sal self hulle geld moet kom afhaal by sekere punte. Sodat al die spook personeel kan af gehaal word van die betaalsisteem. Ja dit is baie werk MAAR die doel heilig die middele op die manier. Het julle mense daar glimlag gesien op haar gesig. So self versekerd.

tamboti ·

Die sake word te lank uitgestel, dis die grootste rede hoekom die howe ons faal. Die werklas is te groot en daarom slaag die polisie en staatsaanklaers nie om misdaad te stop nie. Soos die misdaad toegeneem het, moes die polisie, howe en tronke ook vermeerder het – seker tienvoudig.
Maar dit is SA se groot probleem; die land bars uit sy nate van mense wat aanwas en instroom en niks is genoeg vir almal nie.

neelsie ·

Om skaam te kry en te bloos bestaan glad nie.
Dis aanvaarbaar om ander te bedrieg…alles gaan net oor myself…ek is die skarnier waarom die wereld draai…

jaycee ·

So kenmerkend van ons strafregstelsel. Dis nie die stelsel wat noodwendig die probleem is nie maar die manipulasie daarvan deur gesagsfigure.

Piet Pompies ·

Baie skuldige mense word onskuldig bevind omdat die staat aanjaag, soos in die geval is dit bloot ‘n tegniese punt (fout) wat die staat maak en die geleerde Advokaat tel dit op, bring dit voor die hof en sy klient is wettig onskuldig.

tamboti ·

Ja en nou kan hul rustig voortgaan met hul misdadigheid, ek is bly ek is nie ‘n prokureur of advokaat nie, ek sou nie hierdie skelms verteenwoordig nie.

EMK ·

@Tamboti – kyk ek stem met jou saam hoor – hoe enigeen skelms kanverteenwoordig weet ek wraggies nie. So ook moordenaars, verkragters ens ens. En as ek so na die foto kyk het ek een woord om haar gesig te beskryf : arrogant!

Nico ·

Kan hulle se hoe het die persone verdwyn hulle het tog hulle id nr en die wat weg is koop seker goedere op skuld of moet kar en bestuurderslisensies hernu wat dit vereis of is hulle genoeg betaal om te verdwyn en van te lewe om iemand te agter end te red

Andrea van Vuren ·

Nico, ek kan net nie begryp hoe ‘n advokaat met ‘n duidelik Afrikaanse naam teen haar beterwete kan optree nie. “I smell a rat!” Dalk geld onder die tafel deur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.