Die ANC in Tshwane het Maandag die hooggeregshof in Pretoria versoek om ʼn besluit dat ʼn mosie van wantroue in burgemeester Solly Msimanga in die munisipale raad by wyse van hande opsteek beslis sal word, ter syde te stel.
Rachel Mathebe, speaker van die Tshwane-raad, het die besluit geneem dat raadslede openlik oor die mosie van wantroue sal stem, maar die ANC beveg dié besluit met hand en tand. Hulle het hulle tot die howe gewend om te verseker dat die mosie deur middel van ʼn geheime stemproses beslis word.
Adv. Aslam Bava SC, vir die ANC, het Maandag aan regter Thina Siwendu gesê dat “’n onwettigheid” plaasgevind het en die hof moet ingryp om dit dringend reg te stel. “Die hof kan nie toelaat dat die onwettigheid voortduur nie. Ons kan nie wag vir hierdie saak om op die gewone hofrol geplaas te word nie, want dit sal die saak na 2019 laat oorstaan terwyl hierdie onwettigheid voortduur,” het Bava aangevoer.
“Laat hierdie hof toe dat onwettighede voortduur? Tensy die onwettige optrede deur die hof ter syde gestel word, sal dit aanhou om van krag te wees. Dít is ʼn aanspreeklikheidskwessie en die DA sê ‘kom ons ignoreer net die raad se reëls’.”
Mathebe het op 27 September, ná ʼn lang dag van debat in die raad, gelas dat die stemproses gedoen sal word deur ʼn openlike opsteek van hande deur raadslede.
Die ANC, deur sy streeksvoorsitter, Kgosi Maepa, het heftig aangevoer dat die mosie deur middel van ʼn geheime stemproses beslis moet word “omdat daar ʼn giftige omgewing heers en raadslede al deur die DA geïntimideer is om Msimanga se kant te kies”.
Die ANC is steeds die regering wat nasionaal aan bewind is, maar het in die 2016- plaaslike verkiesings beheer van Tshwane verloor. Die party sê nou hy het ondersteuning vir sy mosie uit ander partye, waaronder die DA, gewerf en wil daarom hê die mosie moet deur ʼn geheime stemproses beslis word.
“Ons het die voetwerk gedoen,” het Maepa destyds gesê. “Ons gebruik nou die verklaring wat deur die stadsbestuurder aan die burgemeester geskryf is. Hierdie verklaring is skokkend. Die stadsbestuurder verduidelik in detail hoe die burgemeester al sedert Mei 2017 geweet het van die skandaal rakende Glad Africa.”
Glad Africa is in die kern van bewerings van die onbehoorlike toekenning van honderde miljoene rande se tenders in Tshwane, ʼn skandaal wat die munisipaliteit tot in sy fondament geruk het en steeds verder verdiep.
Die hofsaak sal vandag voortduur.
Hoor wie preet nou van onwettigheid. Wat ‘n graap. Maar wanneer hulle in die stoel sit is daar geen onwettigheid wat hulle aanvang nie.
Nee sê eerder want dan kan julle die stemme vervals. Die ANC is pateties!!!!
Groot monde, maar wil nou in geheim stem? Hoekom?
Sê ek ook! Hier is weer een van die ANC se stoomroller-taktieke!
En dit is dieselfde ANC wat “hand en tand” baklei het teen die opposisie se voorstel in die parlement, om ‘n geheime stemming toe te laat toe ‘n wantroue mosie teen Jacob Zuma op die tafel was oor al sy “onwettighede”
Wat bewys dit – tweegesig huigelaars!
Mosies van wantroue: in munisipaliteite en selffs in alle regeerings instansies is blykbaar nou ñ nasionale sport wat tot verveelings irriterend is, en vermorsing van kosbare tyd en geld is wat beter benut kan word indien dit op die verbertering van dienste bestee sou word.