‘ANC in KZN is wel verenig’

Ace Magashule. Foto; ANC/Twitter

Ace Magashule, die ANC se sekretaris-generaal, het Maandag gesê hoewel die party in KwaZulu-Natal gereed is vir die provinsiale verkiesingskonferensie, is daar nog nie ʼn datum vasgemaak nie.

“Sodra die [nasionale uitvoerende komitee] die groen lig gee, sal die konferensies op streeks- en provinsiale vlak gehou word,” het Magashule gesê. Daar was volgens hom ʼn “eenparige besluit” dat die provinsiale streke en KwaZulu-Natal self gereed was vir die konferensies.

Magashule het by die Coastlands-hotel in Durban gepraat ná afloop van twee dae lange vergaderings tussen lede van die party se nasionale werkkomitee, takke en die streeks- en provinsiale leierskap. Die regerende party se topses is Sondag saam met lede van die nasionale werkkomitee na die provinsie ontplooi om eenheid aan te moedig en vas te stel of die konferensies in die provinsie kan voortgaan.

Die nasionale werkkomitee se besoek kom ná maande lange onenigheid en ʼn week van betogings met een faksie in die provinsiale partystrukture wat Maandag verlede week gesê het die konferensies moet uitgestel word weens politieke “hekwagtery” en faksies binne die party.

Vrydag het ʼn tweede groep ʼn optog na die provinsiale hoofkantoor in Durban gehou om te eis dat die konferensies wel gehou word aangesien daar aan al die party se grondwetlike vereistes voldoen is.

Magashule het gesê “hekwagtery” is nie meer ʼn probleem nie en sal hanteer word waar en wanneer dit opduik. Afgevaardigdes van die nasionale werkkomitee sal by wees om hiermee te help.

Die NUK het in Januarie die provinsiale leierskap in die provinsie geskors nadat ʼn hooggeregshof verlede jaar die 2015-verkiesingskonferensie, wat deur Sihle Zikalala gewen is, nietig verklaar het.

Ontevrede ANC-lede wat die afgedankte premier en voormalige ANC-voorsitter in die provinsie, Senzo Mchunu, ondersteun het, het die saak teen Zikalala en die provinsiale leierskap ingedien.

ʼn Tydelike komitee is op die been gebring om seker te maak dat die provinsie teen einde April gereed is vir ʼn provinsiale konferensie, maar dit het nie werklikheid geword nie. Die komitee is gesamentlik gelei deur Zikalala en voormalige KZN-LUR, Mike Mabuyakhulu.

Magashule het gesê die tydelike komitee sal nou ʼn provinsiale taakspan word en die taakspan se termyn vir nog nege maande verleng word. Die provinsie het egter vordering gemaak deur die werk van die tydelike komitee. “Gegewe die verslae wat ons hierdie naweek ontvang het en ons gesprekke met die strukture, is daar relatief eenheid en samewerking in die provinsie,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Joshua ·

Die ANC is n tragiese sirkus en julle is die korrupte narre.

marous ·

En so suksesvol verenig is met die bestuur van die land se welstand op alle terreine , veral finansiele stabiliteit en onderwys en gesonheid en werkskepping en infrastruktuur en veiligheid en teen korrupsie en misdaadvoorkoming en , en , en , …….

leon ·

Korrupte, moreel bankrot organisasie wat die rat voor die oe van die vrye wereld gedraai het.

Ek sien so uit om hul verval gade te slaan. Leedvermaak beslis!

Sal maar die beveg wat na hulle kom. Ons het die Britse imperialiste oorwin. Dit het 47 jaar geneem. Ons sal die swart nasionaliste ook oorwin, dit gaan egter tyd neem.

Belaglik ·

Die stelling is net so n groot leun soos als wat die ANC ooit kwytraak. Kan hulle enige woord nog waarheid praat? Nee

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.