ANC in KZN kry groenlig vir konferensie

ANC-se-vlag-deur-ANA

Foto: ANA

Die hoogste besluitnemingsliggaam van die ANC het Donderdag gesê hy is vol vertroue dat sy KwaZulu-Natal-streek gereed is vir die naweek se provinsiale konferensie.

Nocawe Mafu, lid van die party se nasionale uitvoerende komitee (NUK), het gesê ʼn provinsiale konferensie is die verantwoordelikheid van die NUK, dat hulle die konferensie bespreek het en dat daar konsensus is dat dit aan alle grondwetlike vereistes van die party voldoen.

“Die konferensie gaan dus voort soos beplan,” het Mafu gesê.

Mafu, wat ook die sameroeper van KwaZulu-Natal is, het die media by die party se provinsiale hoofkantoor in Durban toegespreek. Hy is deur Mike Mabuyakhulu, sameroeper van die provinsiale taakspan, en dié se koördineerder, Sihle Zikalala, vergesel.

Die provinsiale party het tans nie ʼn amptelike leierskapstruktuur nie. Die provinsie word sedert Januarie deur ʼn tussentydse struktuur bestuur nadat die NUK die provinsiale leierskap geskors het. Die skorsings spruit uit ʼn hofgeding oor die provinsie se 2015-konferensie wat die geldigheid van die KwaZulu-Natal se ANC-leierskap betwis.

Die tussentydse struktuur bestaan egter uit dieselfde lede wat van die geskorste provinsiale leierskap uitgemaak het en daar heers kommer dat die naweek se konferensie ʼn herhaling van die 2015-konferensie gaan wees.

Die naweek se konferensie word oor drie dae by die Universiteit van Zululand gehou. Van die kwessies wat bespreek gaan word, is die implementering van beleidsbesluite wat in Desember tydens die party se nasionale konferensie geneem is.

Zikalala het gesê die meerderheid van die ANC-takke in die provinsie het suksesvolle algemene takvergaderings gehou en enige ontevredenheid wat aangemeld is, is reeds hanteer. Takke wat nie aan die ouditvereistes voldoen het nie, sal nie aan die konferensie deelneem nie.

Die streeks- uitvoerende komitees van Harry Gwala (Kokstad-gebied), Laer Suidkus (Port Shepstone-gebied) en Moses Mabhida (Pietermaritzburg-gebied) is ontbind. Hy het gesê lede van dié komitees sal wel by die naweek se konferensie wees, maar as nie-stemgeregtigde afgevaardigdes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.