‘ANC is eensydig oor rassisme’

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum. Foto: Verskaf

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum. Foto: Verskaf

“Die ANC kan nie vertrou word om rassisme in Suid-Afrika te beheer nie, aangesien sommige van die land se grootste rassiste senior leiersposisies in die ANC beklee.”

Só het die burgerregte-organisasie AfriForum Woensdag gesê in reaksie op die regerende party se uitspraak dat enige optrede wat rassisties is of apartheid loof, gekriminaliseer moet word. Stone Sizani, hoofsweep van die ANC, het gesê die party sal ondersoek instel hoe ʼn spesifieke wet geskep of bestaande wetgewing gewysig kan word om te verseker dat rassistiese uitsprake tot gevangenisstraf kan lei.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê indien hierdie voorgestelde wetgewing konsekwent toegepas word, sal dit beteken dat verskeie ANC- en regeringsleiers tronk toe sal moet gaan. “Die probleem is egter dat die ANC grof inkonsekwent is wanneer dit by die stryd teen rassisme kom,” het hy gesê.

“Die ANC het byvoorbeeld in die hof en voor die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) aangevoer dat daar niks mee skort om liedere soos ‘Skiet die Boer’ en ‘Kill the Boer, kill the farmer’ by ANC-saamtrekke te sing nie. Me Lulu Xingwana, minister van vroue, kinders en mense met gestremdhede, het op internasionale televisie aangevoer dat jong Afrikanermans in die Calvinistiese geloof grootgemaak word en hulle dus glo dat hulle ’n vrou en ’n kind besit.

“Julius Malema, tóé nog die ANC-jeugleier, het in die teenwoordigheid van pres. Jacob Zuma aangevoer dat alle witmense ‘kriminele’ is en dat hulle as sodanig behandel moet word, sonder enige gevolge. Me Makgabo Reginah Mhaule, die ANC-LUR vir onderwys in Mpumalanga, het daarop aangedring dat jeugontwikkelingskampe wat deur haar departement gefasiliteer word, ’n streng ‘blacks only’-beleid moet volg. Mnr. Jimmy Manyi, die regering se voormalige woordvoerder, het op nasionale televisie aangevoer dat daar te veel bruinmense in die Wes-Kaap is en dat hulle oor die hele land versprei moet word.

“Dit is maar enkele voorbeelde van growwe rassistiese kommentaar deur senior ANC-leiers,” het Roets gesê.

Intussen het die vakbond Solidariteit ook gesê die ANC se opvatting van rassisme is eensydig van aard en fokus slegs op wit teenoor swart rassisme, terwyl rassisme daagliks tussen verskeie rassegroepe in Suid-Afrika plaasvind.

Francois Redelinghuys, woordvoerder van Solidariteit, het gesê die ANC se “beheptheid met ras en rassewetgewing” help nie om ʼn nierassige samelewing te bewerkstellig nie. “Sommige kommentaar wat na aanleiding van die Penny Sparrow-inskrywing op sosialemediaplatforms geplaas is, is blatante rassisme oor verskeie rassegroepe heen en nie net deur een groep teenoor ’n ander nie,” het hy gesê.

“Rassisme kan nie geduld word nie, en dit is belangrik dat daarna gestreef moet word om alle vorme van rassisme in die kiem te smoor.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Liewe lulu ·

Hallo Afriforum dankie tog ons het so lankkkkkk vir julle gewag en nou moet julle praat en aksie neem soos nog nooit tevore nie ASB wees ons stem

Leendert van Oostrum ·

Sommige uitsprake is rassisties. En sommige rassistiese uitsprake is daarbenewens ook haatspraat.

Me Sparrow se aap-uitspraak is blatant rassisties.

Die Hitlermannetjie wat wittes wil uitroei se uitspraak is ook rassisties, maar is daarbenewens ook haatspraak.

martin ·

Ek lees graag die Soweten Online debatte. Dis ongelooflik hoe rassisties daardie skrywers is. Roets word as ‘n moffie uitgekryt. Witmense word “pink pigs” genoem. Afriforum probeer wit rassisme rasionaliseer deur swart rassisme aan te spreek: dus die fokus weg te draai van wit rassisme. Daarom verwelkom ek die kriminalisering van rassisme as dit konsekwent toegepas word – op wit en swart rassisme. Ek stem saam met Afriforum dat baie meer swart op wit sake op hofrolle sal verskyn.

André ·

Martin, ek lees self Sowetan Online en beaam wat jy sê. Die feit van die saak is, aan albei kante is rasisme en dit blyk net erger te word.

Ons verskil wesenlik vanmekaar maar alle rasse moet begin aandag gee aan saamwerk en ophou om mekaar se foute uit te byt.

Ek wens ons almal kan begin werk aan n toekoms en ophou die verlede as slaanstok gebruik.

Andersins is selfbeskikking ons enigste uitweg.

Paul ·

Andre,
Snaaks dat Maroela jou kommentaar deurlaat maar ek glo die enigste oplossing is dat ons weer na ons die sake omsien in alle opsigte en die wat tevrede is om met die NSA voort te gaan maar net uit te los om hulle deel maar te vernietig sou hulle so voel. Ons sal intussen in veiligheid ‘n welvarende land kan opbou vir ons die mense.

DPJ ·

Dankie vir dieuidelike uit stippelling van rassisme. Mense gebruik die woord net soos dit hulle pas. Pasop slim het sy baas gevang.

DPJ ·

Dankie vir die duidelike uit stippelling van rassisme. Baie mense gebruik die woord sonder enige kennis daarvan. Die swaard het twee skerp kante. Sny ten lewe en te dode.

Loeis ·

Volgens radionuus vanmiddag het die DA sy stem by die van die ANC en EFF gevoeg.

Henri ·

Lankal die ding van die DA gesien. Zille is of was deel van die Black Sash(anc). Patricia De Lille is weer van die PAC. Nie een sal die die belange van die Blanke Suid Afrikaner op die hart dra nie. Ek gaan ‘n bewering waag. Die DA se skeuring is voor die deur.

Alida ·

Ek stem Karen. Wat moet ons doen. Almal praat met maar kan iemand sê hoe ons effektief aksie kan neem/verandering kan bring?

Petrus ·

Ek verstaan dat die ANC rassisme en die lofprysing van Apartheid wil kriminaliseer. Indien wel, behoort dit ook te volg dat die verheffing van terrorisme óók gekriminaliseer behoort te word. Dus om MK te lofprys behoort dan ook ‘n kriminele oortreding te wees.

Zirk ·

Ek hou op politieke terrein my oor al lank teen die grond. Thabo Mbeki het in sy tyd al sy mond telkens uitgespoel teen blankes. Niemand in die.ANC het hom daarop tereggewys nie. Sodoende het rassistiese taal ongestoord binne en buite die party floreer.
Vandag is dit algemene spreektaal maar as buitestaanders dit gebruik, is dit skielik krimineel. Ook om apartheid te vergoelik. Die ANC raak benoud, want hulle’s nie meer so selfversekerd voor die plaaslike verkiesings nie.

Henri ·

Ek stem met jou saam. Benoude katte maak benoude spronge. Daardie spronge is nie noodwendig die regte spronge nie. Jy kan in ‘n pot sop beland. Warm sop.

Melt Olckers ·

Na aanleiding van die Chris Hart insident is ek amper te bang om kommentaar te lewer. Om dalk te se dat die regering is korrup mag as rassisme vertolk word.

Vicus ·

Ek sien iemand vra wat ons kan doen. Wie van u is lid van Afriforum? Dit is onredelik om te verwag hulle moet aksie neem as jy self nie n lid is nie.

Henri ·

Stem saam, Die begrip “Eendrag maak Mag” het net waarde as almal saam werk en doen aan ‘n saak, insluitend finansieel. Mens gaan mos nie na ‘n ” Bring-en Braai” met ‘n lee koelboks nie??? OUTA het ook ondersteuning nodig om te kan aanhou wat hulle vir ons gewone publiek regkry.

danie jacobs ·

Hukom word al hierdie teenkanting ni in die openbaar gese in, TV, koerante ens, net op sosiale media waar net ons dit kan sien. Komaan afriforum almal behoort dit mos te hoor.

Fj ·

Die wat nou nog nie lid is van Afriforum nie moet regtig n plan maak. Almal kry swaar,knyp maar ietsie af dit is vir n goeie doel.

Hennie ·

Dis hoogtyd dat iemand tred hou met die werklikheid en bereid is om dit uit te spreek. Ons moet AfriForum sterk ondersteun, dit is ‘n organisasie wie staan vir die waarheid en vir konsekwentheid. Dankie Ernst Roets, jy het ons mandaat om te praat!!

Francois ·

Hennie, jy slaan die spyker op die kop: Afrikaners se behoud in Suid-Afrika lê grootliks daarin dat ons ons getalle, geld en dienste aan AfriForum en die ander organisasies binne die Solidariteit-beweging toesê. Ek wil elke Afrikaner aanmoedig om by een of meer van hierdie organisasies aan te sluit, finansieel tot dié organisasies by te dra, en by dié organisasies se aktiwiteite in te skakel. Ex Unitate Vires!

Johannes Meintjes ·

Die algemene gebrek aan volwasse benadering tot die uitdaagings van multi-kulturele bestuur en regering bly myns insiens kommerwekkend. Duidelik slaag nie een van die kultuurgroepe in SA daarin om vorentoe te kyk en konstruktief te fokus op die opbou en bestuur van die land tot almal se voordeel nie. Wetgewing kan nie die gebrek aan volwasse regering en medewerking herstel nie.

Breytie ·

Dit is vir my verbasend dat daar telkens so’n bohaai gemaak word wanneer ‘n rassistiese opmerking deur regeringsamptenare aan die groot klok gehang word. Dit lyk asof hulle heeldag op die loer lê na negatiewe woorde iewers. Intussen is daar tussen gewone mense elke dag voorbeelde van hoe wittes van die swartes help en andersom. Hierdie konflik tussen rasse word onnodig aangeblaas terwyl daar selde voorbeelde bespreek word van mense wat oor die rasgrens heen na mekaar toe uitreik. Miskien moet ons ‘n beroep op al die koerante doen om verplig te voel om met elke uitgawe ‘n positiewe storie te vertel van medemenslike kommunikasie tussen rasse. Ons mense wat graag kommentaar op Maroela se berigte lees, kan begin deur so veel as moontlik te berig oor versoeningsituasies tussen wit en swart. Daar is beslis meer sulke situasies as waarvan ons bewus is, maar dis nie sensasioneel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.