Wet op finansiering van partye verwelkom

Narend Singh, IVP-hoofsweep, verwelkom die nuwe wet. Foto: IVP

Die IVP sê die ondertekening van die wetsontwerp op die finansiering van politieke partye is “ʼn oorwinning vir deursigtigheid en ʼn oorwinning vir die demokrasie”.

“Gegewe die ANC se betrokkenheid by Bosasa en die verderf van korrupte bedrywighede wat nou by die ondersoekkommissie na staatskaping voor die Suid-Afrikaanse publiek blootgelê word, hoop ons nog aantygings sal aan die lig kom,” sê Narend Singh, IVP-LP.

Die ANC sê egter hy beskou die nuwe wetgewing as “ʼn mylpaal wat die demokrasie sal versterk”.

“Die ANC het nog altyd die beginsel gesteun om die finansiering van politieke partye te reguleer,” sê Zizi Kodwa, ANC-woordvoerder. “Ons beskou dit as ʼn belangrike mylpaal om … deursigtigheid as ʼn hoeksteen van ons demokrasie te verbeter.”

Pres. Cyril Ramaphosa het die wetsontwerp Dinsdag onderteken. Die parlement het dit verlede jaar aanvaar, waarna dit net op sy handtekening gewag het.

Die vraagstuk van openlikheid oor partyfinansiering word al gedebatteer sedert Suid-Afrika se oorgang na die demokrasie in 1994. Die amptelike opposisie, die DA, was nog altyd gekant teen die wetgewing wat partye dwing om hul finansiers bekend te maak omdat hy glo as weldoeners van die opposisie bekendgemaak word, hulle op verskeie maniere te na gekom kan word.

Maar dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, sê sy party beskou Ramaphosa se ondertekening van die Wet op die Finansiering van Politieke Partye as “die regte optrede wat lank reeds moes gebeur aangesien die wetsontwerp reeds sedert Julie verlede jaar op die president se tafel lê”.

“Hierdie wet bring ʼn regverdiger bedeling en verdeling van belastingbetalers se geld wat kragtens Artikel 236 van die Grondwet aan politieke party wat in die parlement verteenwoordig is, beskikbaar gestel word om veelpartydemokrasie te bevorder.”

Groenewald sê sy party was deurgaans ten gunste daarvan dat skenkings aan politieke partye openbaar gemaak moet word sodat kiesers kan sien wie die onderskeie partye, en in besonder die regering van die dag, finansier om makliker te bepaal wie moontlik bevoordeel word deur staatskontrakte. “Deursigtigheid sal onreëlmatighede tot ʼn groot mate aan bande lê,” meen hy.

Ingevolge die nuwe wetgewing kan ʼn veelparty-demokrasiefonds gestig word wat die Onafhanklike Verkiesingskommissie sal administreer. Dié fonds sal dit moontlik maak dat skenkers se geld gelykop verdeel sal word tussen alle partye wat in die parlement verteenwoordig word. Tans word skenkings proporsioneel verdeel volgens hoeveel setels elke party in die Nasionale Vergadering het.

Singh meen die wetgewing sal die speelveld vir die eerste keer gelykmaak en “die misbruik van staatsbronne vir partypolitieke doeleindes stopsit”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Leon ·

en sodoende maak julle vir wolf skaapwagter…..julle leer ook nie, ANC doen niks wat homself nie gaan bevoordeel nie

Judge Dredd ·

Besighede wat nie die ANC steun sal natuurlik nie meer tenders ontvang.

julius ·

Die anc wil beheer oor alles hê, maar kan niks beheer nie. Die bewyse is vollop.

De Villiers ·

Die ANC stel hierdie nuwe wet in sodat die skenkings gereguleer moet word. Daar is reeds so ‘n wet wat parlementslede verplig om al hulle skenkings, donasies en geskenke te verklaar, maar as gekyk word na die onthullings deur Bosasa, word hoeveel hooggeplaastes in die parlement van daardie omkoopgeld betrek, en nie een van hulle het daardie ‘skenkings’ verklaar nie. As die ANC nie eens dít kon reguleer nie, hoekom word nóg ‘n wet ingestel om skenkings na politieke partye te reguleer?
Die uitdaging vir die ANC gaan wees om te sien hoe hulle hul kaders in die Bosasa-saak gaan straf, want dit gaan grootliks ‘n aanduiding wees hoe politieke partye gestraf gaan word wat nie hul skenkings gaan verklaar nie.

Thinus Erasmus ·

Wel as daar dan nou gediskrimineer word teen donateurs wat opposisie partye steun, is dit net soveel meer rede om die ANC uit te stem!
Ten minste sal daar nou kan gesien word wie ondersteun die ANC en met hoeveel – die publiek wat daarteen gekant is, kan dan mos die instansies of besighede self boikot – ek glo die meerderheid belasting betalers steun nie die ANC en hul korrupte meelopers nie.

Elize ·

Hier sal niks van kom nie want die ANC het ‘n baie groot karos waaronder hulle alles invee.

zoom zoom ·

Die wet is nie die ink en papier en ou CR se handtekening werd nie. Alles onder R100 000-00 is nie nodig Om verklaar Te word nie so dit is geld wat gedeel kan word tussen “VRIENDE” WIE hierdie wet uitgedink het was sekerlik nie skerpsye potlood in die pakkie nie.

?? wonder net ·

Weet iemand of die Partye wat geldelike skenkings kry van buite belasting daarop moet betaal??

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.