ANC-Jeugliga steun SABC-werknemers se protes

(Argieffoto: Karen Sandison/ANA)

Die ANC-Jeugliga se krisiskomitee sê hy steun die optog van SABC-werknemers na die Uniegebou in Pretoria in protes teen afleggings by die openbare uitsaaier.

Die komitee het ook onderneem om ʼn paar voorstelle aan die departement sowel as die parlementêre portefeuljekomitee vir kommunikasie voor te lê om die uitdagings waarvoor die SABC te staan kom die hoof te bied. Die komitee het sy voorstelle in ʼn brief uiteengesit.

Tientalle SABC-werknemers het Woensdag buite die gebou van die uitsaaier in Auckland Park in Johannesburg bymekaargekom, waarna hulle per motor na die Uniegebou vertrek het. Daar het hulle glo ʼn memorandum met eise aan die presidensie oorhandig in ʼn poging om die afleggingsproses te stuit.

Een van die eise sluit in ʼn dringende vergadering met die president, die ontbinding van die SAUK-raad en dat die openbare uitsaaier onder administrasie geplaas moet word.

Die werknemers betoog teen die aflegging van ongeveer 300 vaste personeellede by die openbare uitsaaier, die helfte minder as die oorspronklike 600 poste wat aanvanklik in die slag sou bly.

Die afleggings vorm deel van die SABC se herstruktureringsprosesse in ʼn poging om sy uitgawes te beperk. Die herstruktureringsplanne sluit in dat salarisse vir die volgende drie jaar bevries word, verminderde verlofdae vir werknemers en ʼn moratorium op uitbetaling vir onbenutte verlofdae.

Die afleggingsproses is in November tydelik opgeskort vir verdere onderhandelings tussen vakbonde en die bestuur, maar is later weer hervat.

“Die SABC se uitdagings is nie nuut nie en is teweeg gebring deur jare se wanadministrasie, onbevoegdheid en korrupsie. Raad ná raad is aangestel en nietemin bly die probleme voortduur,” voer die krisiskomitee aan.

“Die 2016/2017- parlementêre ondersoek na die SABC en die onthullings by die Zondo-kommissie van ondersoek toon dat die probleme by die SABC veroorsaak word deur gewetenlose bestuurders wat deur die jare geld in hul sakke gesteek het en twyfelagtige transaksies met betrokkenes in die bedryf aangegaan het ten koste van die werkers.

“Meer onlangs spreek die ouditeur-generaal se 2019/2020-verslag oor die SABC boekdele – ten opsigte van bestuursflaters en onreëlmatige finansiële uitgawes. Die huidige raad en bestuur moet dus verantwoordelik gehou word.”

Die krisiskomitee verwelkom die regering se ingryping deur Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie, wat gelei het tot voorwaardelike steun deur die nasionale tesourie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Hennie J ·

Noudat die pawpaw in die fan is, het all and sundry n bekvol, maar toe dit pap gereen het, het hulle net geskep en by die krip gestaan. Ek sou graag hierdie narre se ‘oplossings’ wil sien.

Wilhelm ·

Lekker lag ek nou. Die ANC jeugliga ondersteun ‘n protes aksie teen afleggings by ‘n organisasie wat deur die ANC bestuur word. Dis ‘n lekker grappie, maar die grootter grap is dat hulle nie eens die ironie besef nie.

Stefan ·

En hoeveel van die korruptes wat al die probleme veroorsaak het is al vasgevat en als teruggevorder?
Konsentreer liewer dààrop.

Andrew ·

TV lisensie is n apartheid wet en die SAUK was n apartheid mondstik, maak dit toe.

Andrew ·

Onteien DSTV, telkom besit klaar die fibre en whalaa, nationale sport op nationale tv.

Lorette ·

Paragraaf 6 verwys. verminderde verlof vir werkgewers of werknemers? SAUK is tog die werkgewer

Megan Swart ·

Dagsê Lorette
Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

KB ·

Hierdie is die SABC, mense. Die SAUK het sy deure reeds in 1994 toegemaak.
(Dieselfde geld vir die SAA; die SAL bestaan nie meer nie, ens., ens.)
Noem ‘n dinge op sy korrekte naam!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.