‘ANC-kaders’ bekommerd oor bedreiging vir staatsveiligheid

ANC-se-vlag-deur-ANA

(Argieffot: ANA)

Lede van ʼn groep wat na hulself as ANC-kaders verwys en wat vroeër ook ʼn sogenaamde omkeerstrategie vir die ANC voorgelê het, sê nou hulle is bekommerd oor die moontlike of selfs werklike bedreiging wat getuienis voor die Zondo-kommissie vir staatsveiligheid inhou.

Die Staatsveiligheidsagentskap (SSA), wat in beheer van Suid-Afrika se spioenasiebedrywighede is, steier nadat die katnes van korrupsie, diefstal, selfverryking en wetteloosheid wat glo jare lank onbeteueld gebotvier het, die afgelope ruk by die Zondo-kommissie van ondersoek aan die groot klok gehang is.

“Ons het met groot kommer kennis geneem hoe staatsgeheime blootgelê is sonder inagneming van ons nasionale veiligheid en soewereiniteit,” sê afgetrede genl. Maomela Motau, leier van die groep.

Motau sê onder die bekommerde kaders is verskeie mense met ervaring in kwessies van staatsveiligheid en intelligensie wat hulle kwel oor die “roekeloosheid” waarmee die getuienis oor die SSA hanteer is.

Motau sê hulle steun wel stappe wat gedoen moet word om die waarheid oor korrupsie en wandade aan die lig te bring.

“Ons is egter diep bekommerd dat die oorgretigheid om korrupsie uit te wis die onbedoelde gevolge het om ons land kaal te stroop, soos onlangs by die Zondo-kommissie gebeur het.”

Volgens Motau kon die verrigtinge agter geslote deure gehou word.

“Hoewel ons teleurgesteld is, is ons nie noodwendig verras nie, gegewe dat ons land in die algemeen en die ANC in die besonder onder ʼn verdiepende leierskapskrisis steier.”

Hy sê die land se veiligheid is in die naam van deursigtigheid in die gedrang gebring, terwyl ander maniere om dieselfde doelwit te bereik – die uitroei van korrupsie – om onverklaarbare redes verontagsaam word.

“Ons persoonlike belange en ambisie kan en mag nie toegelaat word om nasionale belang tweede te stel nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Werner ·

Hulle weet ou Cyril moet ook hok toe gaan nou probeer hulle keer.

My siening ·

Die waarhede moet deur elke burger gehoor word want daar is geen geheim wat ons kan red uit die gemors nie!

Dup ·

As jy die woord KADER by Google intik dan kry jy diefstal,korrupsie,bedrog en verval in die soekresultate…..

Casper ·

Mnr Motau,Presidente van die land en leiers van die ANC het dit reeds duidelik gemaak dat die ANC eerste kom en dan SA.Hoeveel lede van ander parte is betrokke by korrupsie,plundery, rampokkery,geldwassery en by nog meer goed wat skelm is.En wat my bang maak, ministers en hoëgere manne word betrek by hierdie dade van selfverryking en die gewone burger lei hunger.

Riaan ·

Ondersoek ook onmiddelik vir afgetrede genl Motau en sy groep. Dit is so duidelik soos daglig dat hy die spreekbuis is vir ‘n groep wat baie bang is dat hulle bedrywighede openbaar gemaak sal word.

Casper ·

Mnr.Motau,’n Lig word nie onder ‘n emmer weggesteek nie maar skyn vir almal om te sien.Dit is hoogtyd dat die korrupsie en ander wandade openbaar gemaak word sonder om kritiese inligting en geheime openbaar te maak.Ek sê weer hulle moet by die voormalige direkteur-generaal van staatsveiligheid ,Mnr Fraser begin.Hy weet meer as wat ons dink en is vinnig oorgeplaas DKD toe, toe dinge warm raak.Ek glo daar is hoë manne betrokke.

Wielspore ·

Ek wonder wat is eitlik die grootste gevaar, die feit dat die ANC in sy kort tydperk die land ekonomies vernietig het, meer mense verarm het as onder sy bewind as die vorige regering, of is dit maar net nog ‘n plan van die ANC om te voorkom dat daar nog sake van onbevoegtheid by sy lang lys gevoeg word.
Ons was gister in Nelspruit waar oornag reen nog skade aan die omgewing gebring het, bome het omgeval tot in die pad en die gemeenskap forum het verkeer beheer toegepas terwyl dieselfde mense opruimingswerk gedoen het, dit terwyl die MPA ANC regering bekend gemaak het dat hulle spanne reg is om enige vorm van skade aan te spreek. Ons minusipale bestuurder het seker gaan tee drink by Zuma.
.

Nie Verbaas ·

Nee julle is nie bekommerd oor staatsveiligheid nie, julle is bekommerd dat julle ook blootgestel gaan word.

Kobus ·

Twak man!Julle is bekommerd oor almal wie se name genoem gaan word. Ook nog n hoofstuk van verrotting deur die ANC.

Mariana ·

Ons almal weet vir die ANC is net die ANC van belang en ongelukkig is die inwoners bysaak. En hulle persoonlike agendas ook belangrikste. Maar as ons in hierdie land wil oorleef moet die ANC vinnig tot ‘n val kom. Te lank is hulle in beheer en te lank bestuur hulle hierdie land in die modder in. Tyd vir nuwe, verantwoordelike party om oor te neem en nee dit is nie die EFF nie.

Gert ·

Niks is meer ‘n geheim nie almal weet die ANC is plunderaars. Verder het ons niks meer wat die moeite werd is om geheim te hou nie want ons ontwikkel of ontwerp niks nuuts nie

Hennie J ·

Ek wonder oor watse staatsveiligheid hulle nou bekommerd is. Die sogenaamde ssa is niks anders as n rowersnes nie en die enigste staatsveiligheid wat hulle onaktiewe breinselle kan prikkel is n moontlike inval deur die ten volle opgeleide en tegnologiese gevorderde weermag van Oranje!

Carina ·

Baie baie geluk aan die joernalis met haar buitengewone beheersing van Afrikaans. Dit gee my hoendervleis om so ’n artikel te lees. Die SAUK kan baie by haar leer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.