‘ANC kan my nie uit die amp verwyder nie,’ sê Jhb-burgemeester

Herman Mashaba (Foto: Facebook)

Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, het Woensdag gesê dit is raadslede, en nie die opposisie ANC nie, wat hom uit dié amp kan verwyder.

Dit kom nadat die ANC in Johannesburg gesê het hy is vasbeslote om nóg ʼn mosie van wantroue in te dien teen Mashaba en speaker Vasco da Gama vir beweerde finansiële wanadministrasie. Die twee dag lange raadsitting het Woensdag begin.

Mashaba het egter gesê hy is nie bang nie. “Ek is deur 52% van die raadslede verkies om die stad te lei, en dit was nog altyd die posisie. My stand as uitvoerende burgemeester is afhanklik van die 52% van dié raadslede. Dis nie vir my om te sê nie. Ek het dit nie myself opgelê om die uitvoerende burgemeester van die Stad Johannesburg te wees nie. Ek sal dus wag totdat hierdie mosie môre voorgelê word. Dis die laaste item op die agenda en dit is ligsinnig. Ek laat dit aan die 52% van die raadslede om te besluit of hulle nog steeds tevrede is met my of nie. Dis nie vir die ANC om te sê nie. Soos julle weet het hulle teen my gestem as burgemeester, en hulle was nog altyd van dag een af vasbeslote om my uit die amp te verwyder. Gelukkig dien ek nie op aandrang van die ANC nie.”

Die Ekonomiese Vryheidsvegters het gedreig om Donderdag hul stemme dik te maak teen Mashaba en Da Gama. Julius Malema, leier van die EFF, het verlede week gesê hulle is spyt hulle het vir Mashaba gestem.

Mashaba het gesê hy voel nie gemaklik om oor die DA se verhouding met die EFF in Johannesburg te praat nie. Kgabo Hlonyane, hoofsweep van die EFF, wou nie kommentaar lewer nie.

Mashaba, ʼn DA-raadslid, het in Augustus verlede jaar die stad se burgemeester geword nadat die DA ʼn koalisie-ooreenkoms met kleiner partye aangegaan het om die ANC-beheerde raad ná die munisipale verkiesings te onttroon.

Mashaba is sedertdien op ʼn missie om korrupsie en misdaad in die stad uit te wis. Hy het nie gehuiwer om bedenklike senior amptenare uit sleutelentiteite te verwyder of om sommige kontrakte wat deur die stad se vorige administrasie aangegaan is, te hersien nie.

Jolidee Matongo, woordvoerder van die ANC in Johannesburg, het gesê hulle kort net ʼn “eenvoudige meerderheid” om Mashaba van sy amp te onthef en het bygevoeg dat die party in gesprekke is met kleiner partye, waaronder die IVP, om hul mosie van wantroue te ondersteun.

Da Gama het gesê hulle hoop dat hulle die mosie sal oorleef en bygevoeg die mosies is uiteraard ligsinnig. “Ons is hier om seker te maak dat ons korrupsie beveg en seker te maak dat ons mense dienste kry. Ons het nie enige prosesse vertraag nie, ons probeer korrupsie uit die vorige termyn aan die lig bring. Daar is steeds korrupsie wat in die stad voortduur, so ek dink dit is die grootste vyand wat hulle nie wil onthul nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Callie ·

Glo dit. Verwyder hulle hom dan behoort almal te besef dit is die einde. Hierdie land is pro korrupsie, pro vernietiging van waarheid, pro minagting van regverdigheid, pro najaag van eie gewin. Mag die HERE ons behoed teen satan en sy korrupte volgelinge

Hendrik ·

Wel die EFF is nou in ‘n posisie van mag. Indien die EFF saam met die ANC stem is daar vandag ‘n ander burgemeester. Miskien is dit ‘n EFF burgemeester en dit is hoe S.A demokrasie werk.

Gee hom 'n Bells ·

Die korrupte tender-preneurs verpes Herman Mashaba omdat hy die sprekende bewys is dat BEE, Employment Equity & Voorheen-benadeelde nie ʼn voorvereiste beleid moet wees, om uiters suksesvol te wees nie.

Tydens die NP bewind het hy uit sy kattebak ʼn besigheids begin (Black like Me) en dit met sakevernuf & wyse besigheidsbesluite op gebou tot ʼn suksesvolle multimiljoen Rand besigheid.

Toe brand sy fabriek af, hy verloor alles & begin weer van voor af . . . sonder BEE & al die ander plunder praktyke van die ANC. 2x homself opgebou tot ʼn “self made millionaire”

Hier het ons ʼn swart suksesverhaal, wat gebore is uit harde werk & kundigheid . . . ʼn konsep waarvoor die “get rich quick” nie ooghare voor het nie

Hendrik ·

Wel alles hang af van die EFF se besluit en maak nie saak hoe goed Mashaba is nie.

Vryheid ·

Eish ja so verwoes die regering en sy maaitjies als en dan is julius nog jammer ook hy het gestem vir mashaba …. te laat

Leahim ·

Die Anc wys nou hulle ware kleure hulle het duidelik nie n probleem met korupsie nie ,waneer die koalisie sonder die hulp van die eff kan regeer hoop ek hulle word die pad gewys.

Aitoggie ·

Hy doen n té goeie werk. Mense vrees vir wat hy mag ontdek. Ons het so n burgemeester in Rustenburg Ook nodig en ek glo, in baie ander stede in die land.

Hendrik ·

Wat Rustenburg nodig het is goeie burgelike samewerking waar burgerregtegroepe die oortreders hof toe neem en verantwoordelikheid vat vir hulle dade. Met verkiesings word die die belastingbetalers (wit en swart) net eenvoudig uitgestem deur die meerderheidkiesers wat sosiale welsyntoelae en gratis water en elektrisiteit kry geborg deur die stadskas se subsidies aan die plaaslike owerheid.. Sluit aan by ‘n burgerregtegroep en hulle sal help. Verkiesing gebeur elke 5 jaar en wys my wat jou kandidaat in die raad vir jou gedoen het. Hy kan niks doen nie want hy word eenvoudig net uitgestem.

Belinda Briel ·

Hy moet sommer ons President word…dan sal alles weer verbeter…Keep up the Great work Herman Mashaba…beste Burgermeester…thumbs up vir Herman

Justice ·

`n Uitstekende burgermeester – die ANC se gedrag bewys dit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.