‘ANC kan nie antwoord oor geheime vergadering’

Zizi Kodwa. Foto: ANA

Zizi Kodwa, woordvoerder van die ANC, het Maandag gesê voormalige pres. Jacob Zuma, Ace Magashule, sekretaris van die ANC, en ander partylede wat na bewering verlede week ʼn “geheime vergadering” bygewoon het met die oog daarop om pres. Cyril Ramaphosa te ontsetel, moet antwoorde oor dié bewerings verskaf en nie die ANC nie.

Kodwa het volgehou die ANC hou nie geheime vergaderings nie.

“Ons weet nie of daar so ʼn vergadering was of nie, maar diegene wat daar was, sal die beste mense wees om vrae oor die samekoms te beantwoord. Die ANC het nog altyd verslaggewers genooi vir ʼn fotogeleentheid by sy vergaderings sodat daar nie gewonder word waaroor ʼn vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) gaan nie,” het Kodwa gesê.

Hy het met verslaggewers gepraat aan die kantlyn van die verhoor van die kommissie van ondersoek na staatskaping in Johannesburg.

“Ons kan nie praat namens die mense wat by daardie vergadering was nie. Ons hou ons op met eenheid en hernuwing van die organisasie.”

Op ʼn vraag of die ANC navraag by Magashule gedoen het oor die beweerde vergadering, het Kodwa gesê: “Dit is nie vir ons [die ANC] om te vra waaroor die vergadering gegaan het nie, of daar ʼn probleem of ʼn komplot deur mense in die een of ander vergadering is nie. Ons kan nie as ANC praat oor ʼn vergadering waarvan ons nie deel was nie.”

Hy het beklemtoon dat die ANC “nie verhoor word” by die kommissie nie. Kodwa het bygevoeg die uitslag van die Desember 2017-konferensie waar Ramaphosa verkies is, sal nie verander nie “ondanks die wense van mense binne of buite die ANC”.

Die Sunday Times het die afgelope naweek berig dat grootkoppe in die ANC, onder wie Magashule, betrokke was by geheime samesprekings om Ramaphosa te ontsetel. Volgens die berig was Zuma, Magashule, Supra Mahumapelo, voormalige premier van Noordwes, Matuba Meokgo, sekretaris van die ANC-Vroueliga, en Thanduxolo Sabelo, leier van die ANC-Jeugliga in KwaZulu-Natal, glo Donderdag by die vergadering by die Maharani-hotel in Durban.

Volgens die koerant het die vergadering gevolg op ʼn eerste vergadering wat die vorige dag in Umhlanga Rocks gehou is waar Dudu Myeni, voormalige raadsvoorsitter van SAL, ook teenwoordig was.

Die groep, wat Nkosazana Dlamini-Zuma gesteun het om pres. Jacob Zuma as president op te volg, wil na bewering die uitslag van die ANC se verkiesingskonferensie in Desember betwis. Hulle is glo van plan om te beweer dat daar grootskaalse onreëlmatigheid by takke was en dat die meeste konferensie-afgevaardigdes onregmatig daar was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jakkalas ·

Kry julle kaartjies nou vir die aksie wat gaan volg. O ja moenie die popcorn en slush puppies vergeet nie.

Jakkalas ·

Zuma is die slegste wat die land oorgekom het in ‘n lang tyd. Die meerderheid mense in die land het gekry wat hulle wou hê en lyk my hy gaan nie sommer weggaan nie.

Thai Dlamini ·

Janee Zuma was die grooste verraier sedert Jan Smuts!!!!!!

Elsabe ·

Ja nee daar is ‘n paar drukkokers besig om te prut in die land. Hulle gaan een vir een begin stoom …..

Henro ·

Genade, maak net almal gelukkig en Stem DA – Hierdie mense haat ons en ek het n voorgevoel daar kom oorlog….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.