ANC kan nie met Afrikaner-erfenis of Afrikaanse onderrig vertrou word nie – AfriForum


Kallie-Kriel

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum. Foto: Argief.

Daar is ernstige leemtes in die Grondwet, wat tesame met ’n gebrek aan politieke wil by die owerheid om dele daarvan te respekteer, nie genoegsame beskerming vir minderhede bied nie.

So meen Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum. Kriel het by die Solidariteit Beweging se krisisberaad in Pretoria gepraat wat deur sowat 1 500 mense bygewoon is.

Kriel het gesê daar is die afgelope twee dekades telkens verwys na die Suid-Afrikaanse Grondwet wat van die modernste ter wêreld is. Die belewenis die afgelope jare is egter dat dit nie minderheidsgemeenskappe se belange effektief beskerm nie. “Die internasionale beginsel dat minderhede inspraak moet hê in sake wat hulle direk raak, word nie behoorlik in die Grondwet vervat nie.

“Die gevolg is dat die Afrikaner-minderheid onder die huidige politieke bestel aan die ANC-regering uitgelewer is. Dié bestel het volle besluitnemingsmag oor sake wat die Afrikaners direk raak.”

Kriel het gesê as daar gekyk word na gebeure die afgelope paar maande soos die standbeelde-debakel , die aanval op Afrikaans as onderrigmedium en pres. Jacob Zuma se uitsprake dat die land se probleme met die koms van Jan van Riebeeck begin het, bevestig dit die ANC kan nie vertrou word om besluite oor Afrikanersake te neem nie.

“Die Afrikaners word tot sondebok verklaar wie se erfenis geen respek verdien nie. Die ANC se besluit dat Afrikaner- en ander minderheidstandbeelde na ‘temaparke’ geskuif moet word waar hy (die ANC)  dit in ‘konteks’ kan plaas, het verder sout in die wonde gevryf. Die sogenaamde parke is niks anders as staatskonsentrasiekampe vir Afrikanerbeelde nie. En die doel met konsentrasiekampe is om ongewensde elemente uit die openbare samelewing te verwyder.”

Volgens Kriel het die tyd aangebreek om te sê die ANC-meerderheidsregering kan nie met Afrikaners se erfenis vertrou word nie. “Ons wil self oor ons erfenis besluit en maak aanspraak op deel van die belastinggeld wat ons aan die owerheid betaal.”

Oor Afrikaanse onderrig het hy gesê ondanks die feit dat net een universiteitskampus uit 38 nog oorwegend Afrikaans is, ag mense soos Blade Nzimande (minister van hoër onderwys) en prof. Dan Kgwadi, rektor van die NWU-universiteit, dit regverdigbaar om te eis dat Engels ook daar gebruik word. “Die regering probeer ons paai deur aan te voer dat hy nie Afrikaans wil afskaal nie, maar Engels wil toevoeg. Hiermee word ons intelligensie onderskat aangesien daar talle voorbeelde is oor hoe Afrikaans al oral uitgedruk is.”

Volgens Kriel mag daar mense wees wat meen die aandrang deur Afrikaners om self oor hul sake te besluit, is onhaalbaar. Daar is egter wêreldwyd voorbeelde waar veranderinge in politieke bedelings plaasgevind het ondanks owerhede wat aanvanklik daarteen geskop het. “Ons moet hierdie aanspraak met energie, selfvertroue en deursettingsvermoë aanpak. As fase een kan ons selfstandigheid begin vestig ongeag die owerheid se standpunt daaroor,” het hy gesê.

Klik hier om die volledige toespraak te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Chris ·

SELFBESKIKKING is die mooiste woord in die Afrikaanse taal! Dit moet egter ‘n werkwoord word, want dit sal ons toekoms hier, in Suid Afrika, waar ons gebore is, verseker!!!

Mike ·

Hiermee stem ek heeltemal saam “As fase een kan ons selfstandigheid begin vestig ongeag die owerheid se standpunt daaroor,” het hy gesê” Dankie tog dit lyk of ons mense nou iets wil begin doen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.