ANC kan opposisie se beleid kaap voor 2019

Argieffoto

Die opposisie gaan moet wakker slaap, want die ANC is besig om sowel die DA as die EFF se beleid te kaap in die aanloop tot die 2019-verkiesing.

Só het ʼn uitgelese paneel politieke kenners bestaande uit die vryskutjoernalis Max du Preez, die politieke analis Koketso Sachana, die voormalige Sunday Times-redakteur Ray Hartley en die Britse TV-joernalis Jeremy Thompson vanoggend op die Universiteit Stellenbosch se Woordfees gewaarsku.

Hulle het deelgeneem aan ʼn gesprek oor die invloed van pres. Cyril Ramaphosa se ontluikende presidentskap op die landspolitiek.

Sachana het gesê die mees onlangse ANC-uitsprake oor grondonteiening sonder vergoeding moet gesien word as ʼn strategiese skuif. “Die EFF het nou vir te lank die agenda gestel en die ANC moes reageer. Hulle is besig om die EFF se hoof-beleidskwessie, naamlik grond, onder hulle uit te pluk.

“Die EFF kry baie van die krediet vir die verwydering van Zuma. Hulle ander hoofpunt is die grondkwessie. Wat anders het hulle nou eintlik? Moet ook nie dink hierdie toenadering tussen Ramaphosa en die EFF gaan hou nie. Die EFF-leier, Julius Malema, het vir Ramaphosa gesê hy gee hom een kans – en hy bedoel dit,”  het Sachana opgemerk.

Hartley het saamgestem dat die grondkwessie takties deur die ANC aangewend sal word.

“Hulle het twee belangrike aspekte in die parlementêre mosie ingewerk wat die EFF nie daar wou hê nie, naamlik dat die ekonomie en voedselsekerheid nie in die proses moet skade ly nie. Dit gaan nou eers ondersoek moet word.

“Die parlementêre grondwetlike hersieningskomitee gaan die saak ook nou eers moet bespreek, dan gaan dit in een of ander kabinetskomitee vasval. Dan is dit al verkiesingstyd, waarna Ramaphosa aan sy werklike visie kan begin werk,” was Hartley se mening.

Koketso het voorts opgemerk dat die DA selfs groter probleme met ʼn Ramaphosa-presidentskap kan ondervind as die EFF.

“Die DA het werklik ʼn probleem. Hul grootste verkiesingskwessie, naamlik jeugwerkloosheid, word tans deur die ANC gekaap. Baie van hul parlementslede is uiters bekommerd, want soveel DA-kiesers hou van Ramaphosa en oorweeg dit nou sterk om vir die ANC te stem.

“Die DA het sy eenheid verloor, daar is te veel struweling. Al meer klem gaan nou op DA-onenigheid val. Die DA het dit maklik gehad terwyl hulle Zuma as ʼn vyand gehad het. Nou gaan dit taaier raak,” het Sachana gesê.

Hartley het saamgestem dat die pad vir die DA van nou af moeiliker gaan wees, veral omdat hulle hulself sowel oor die grondkwessie as oor gratis naskoolse onderwys regs van die ANC bevind, wat dit vir hulle moeilik gaan maak om swart ANC-kiesers af te rokkel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Casper Labuschagne ·

Dit word nou effektief ‘n wedloop waar die mees militante party met die beste plan vir vergelding teen die wit minderheid dalk die verkiesing kan wen. Daarby sal wit liberaliste ‘n konstante sing om self ten gunste van die meerderheid gekasty te word sodat hulle daardeur populistiese punte kan verkry.

Christina ·

Ek dink die ANC sowel as die DA sal hard moet werk vir stemme. Het julle gesien hoe vol gepak die stadion was?

Markus Senekal ·

Het dit nie tyd geword vir ‘n lekker populistiese, ultra nasionalistiese Khoi San politieke party as alternatief tot beide die DA en die EFF nie en wat die spanner behoorlik in die works kan gooi met die ANC se grondonteiening planne nie?

Sannapad ·

Ek sal vir die Khoi San party stem- hulle was tog eerste hier en is uitgemoor deur beide wit en swatt.
Darem nou al hartlik versadig van bakleiende politieke partye wat net hulle eie belange op die hart dra

anti vergrype ·

Hulle is in elk geval een party – die hele lot van hulle.
Ek sal vir die party wat regtig vir my omgee stem en ek hoop daar is nog wat soos ek dink.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.