ANC kan outonomie-beweging nie ‘wegwens’

Wapen van die Wes-Kaap (Foto: Wikipedia)

Afgesien van moontlike partypolitieke struikelblokke is twee afsonderlike wetsontwerpe wat albei gemik is op groter outonomie vir die Wes-Kaap ʼn sterk aanduiding van ʼn besliste skuif in dié rigting.

“Hier is ʼn beweging aan die gang waarvan die ANC kennis moet neem en een wat hy nie bloot gaan stuit deur dit weg te wens nie,” sê dr. Pieter Mulder, ʼn politieke ontleder.

Die VF Plus het verlede Donderdag al die wetsontwerp op die bevolking van die Wes-Kaap by die provinsiale wetgewer ingedien “waarin erkenning gevra word vir Wes-Kapenaars as eiesoortige nasie met die reg op selfbeskikking”.

Peter Marais, die party se Wes-Kaapse leier, sê die versoek is gegrond op “die internasionale reg sowel as die Suid-Afrikaanse Grondwet om gestalte te gee aan die mense van dié gebied se unieke karakter met eiesoortige kulturele, taal- en ideologiese waardes.” Die wetgewing steun grootliks op artikel 235 van die Grondwet.

Wes-Kapenaars het volgens Marais die reg om vryelik hul eie politieke status te bepaal en om politieke, ekonomiese, maatskaplike en kulturele ontwikkeling na te streef op ʼn wyse waarop die mense self moet besluit.

Benewens dié grondwetlike bepaling word die Wes-Kaap se reg op selfbeskikking volgens Marais ook gesteun deur die Suid-Afrikaans bekragtigde Afrika-Handves oor Mense- en Volkeregte wat bepaal “alle volke [het] die reg tot selfbeskikking sowel as om die ekonomiese en maatskaplike ontwikkelingsbeleide van hul eie keuse na te streef”.

Voorts het Suid-Afrika die Internasionale Konvensie oor Burgerlike en Politieke Regte bekragtig wat onder meer bepaal dat “alle volke die reg tot selfbeskikking het”. Só ook het Suid-Afrika die Internasionale Verdrag oor Ekonomiese, Sosiale en Kulturele Regte van Mense bekragtig wat hierby aansluit.

Dit is alles meganismes waardeur die Suid-Afrikaanse regering gebind kan word om die reg op selfbeskikking te erken waarop Wes-Kaapse burgers aanspraak maak. Dít kan volgens Marais geskied deur middel van onderhandelinge en ʼn referendum waarvoor in art. 37(2)(f) van die Wes-Kaapse Grondwet voorsiening gemaak word.

“Die uurglas vir selfbeskikking is besig om vinnig uit te loop en die blote verkryging van provinsiale gesag oor treindienste en polisie spreek nie die werklike dringende behoeftes van alle Wes-Kapenaars aan nie,” sê Marais.

Afwenteling ‘nie meer in ANC-hande’

Die wetsontwerp, saam met die DA-gesteunde Wes-Kaapse wetsontwerp op provinsiale magte, “neem die kwessies van federering en magsafwenteling uit die ANC se hande”, sê Phil Craig van die Cape Independence Advocacy Group. Hy bestempel die wetgewing ook as ʼn noodsaaklike stap in die rigting van federering en magsafwenteling.

“Sedert 2019 het die ANC se nasionale regering doelbewus die Wes-Kapenaars hul duidelik uitgedrukte demokratiese wil ontsê. Premier Alan Winde het hom beywer vir die belofte om te veg vir die afwenteling van polisiëring en spoorweë en is met ʼn volstrekte meerderheid verkies. Meningspeilings het bevestig dat 76% van die Wes-Kaapse kiesers verhoogde outonomie vir die Wes-Kaap ondersteun.”

Craig sê die ANC-geleide nasionale regering skop egter sover moontlik vas teen verhoogde outonomie in dié provinsie.

“Met die indiening van die wetsontwerp op die bevolking van die Wes-Kaap, het die VF Plus die huidige Suid-Afrikaanse grondwetlike bestel op sy kop gekeer en die ANC se vermoë beëindig om sy agenda te stoomroller oor ʼn provinsie wat dit voortdurend verwerp.”

Die wetsontwerp bevestig volgens Craig die bestaande grondwetlike realiteit dat die mense van die Wes-Kaap onderskei word van die “Suid-Afrikaanse mense as ʼn geheel”, al mag hulle kies om deel van die Suid-Afrikaanse mense te vorm.

Craig meen dié wetsontwerp verteenwoordig “ʼn geskiedkundige dag vir demokrasie in die Wes-Kaap” omdat “demokrasie nie net in naam kan bestaan nie”, maar die Wes-Kaap eerder regeer moet word “in ooreenstemming met die wil van die mense wat werklik daar woon”.

“Hierdie wetsontwerp maak die deur oop vir ʼn beter toekoms vir die Wes-Kapenaars wat nou finaal kan ontsnap van die juk van ʼn nasionale regering waarvoor die meerderheid van hulle nog nooit een keer gestem het nie.”

Onstuitbare outonomie-beweging

Met die DA wat die meerderheid in die provinsiale wetgewer uitmaak, sal die party se eie Wes-Kaapse wetsontwerp op provinsiale magte waarskynlik aanvaar word. Die VF Plus sal egter moet wag en sien of die DA sy wetsontwerp gaan aanvaar.

Mulder verwag dat politieke mededinging tussen die twee partye moontlik hier ʼn rol kan speel.

“Ek vermoed die DA kan dalk die VF Plus se wetsontwerp afkeur omdat hy bang is dat dit sy eie wetsontwerp besoedel.”

Dít omdat die DA se wetsontwerp aanspraak maak op groter provinsiale magte en nie eksplisiet aanspraak maak op selfbeskikking nie; dit is ʼn term wat die ANC steeds dwars in die krop steek en moontlik ook polities as wapen gebruik kan word.

Mulder meen hoewel die twee stukke wetgewing klem op verskillende aspekte van groeiende outonomie lê, is die onderliggende boodskap van “ons is moeg daarvoor om vanuit Pretoria regeer te word” dieselfde.

“Indien hierdie twee stukke wetgewing deur die provinsiale wetgewer aanvaar word, gaan dit waarskynlik in ʼn stadium in die Grondwethof draai. In daardie geval moet internasionale regsnorme en konvensies wel in ag geneem word in die beslissing van plaaslike regsdispute.”

In hierdie geval sal internasionale konvensies, internasionale regsnorme en die volkereg soos deur Marais uitgelig eers ter sprake kom, ingevolge artikel 233 van die Grondwet.

“Hoe die saak hom ook al uitspeel, die ANC gaan nie so maklik van hierdie beweging ontsnap nie,” sê Mulder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.